Wêreldleiers veroordeel dodelike aanval op satiriese tydskrif

Wêreldleiers het ‘n dodelike aanval veroordeel by die kantore van die satiriese Franse tydskrif Charlie Hebdo waarin minstens 12 mense doodgeskiet is Woensdag.

President François Hollande het gesê die aanval was “ongetwyfeld” ‘n terroriste-aanval.

Daar was geen onmiddellike verklaring vir die aanval op die tydskrif se kantoor waar medewerkers byeen was vir ‘n vergadering nie.

Charlie Hebdo se karikature van die profeet Mohammed het dikwels swaar veroordeling van Moslems uitgelok.

Die Paryse aanklaer se kantoor het bevestig dat 12 mense tot dusver doodgeskiet is, insluitend vier van Frankryk se bekendste spotprenttekenaars asook die tydskrif se direkteur, Stephane Charbonnier (ook bekend as Charb).

Twintig mense is glo beseer, vier van hulle is in ‘n kritieke toestand.

Frankryk het sy sekuriteitsweerbaarheid tot sy hoogste vlak aangepas en beskermende maatreëls versterk op plekke van aanbidding, winkels, mediakantore en op openbare vervoer.

Top regeringsamptenare is tans byeengeroep vir ‘n noodvergadering en Hollande sal na verwagting ‘n TV-verskyning maak teen vanaand.

Die Wit Huis het die aanval in die “sterkste moontlike terme” veroordeel terwyl die Britse Eerste Minister, David Cameron dit “walglik” genoem het.

Die Europese Unie het hul solidariteit met Frankryk bevestig en gesê die stryd teen terreur gaan voort.

Donald Tusk, die nuwe president van die Europese Raad het sy skok uitgespreek.

“Die Europese Unie staan by Frankryk na hierdie verskriklike daad. Dit is ‘n wrede aanval op ons fundamentele waardes en teen die vryheid van uitdrukking, ‘n pilaar van ons demokrasie,” het die voormalige Poolse premier in ‘n verklaring gesê.

Terwyl ander wêreldleiers, waaronder ook die Duitse kanselier Angela Merkel en die Russiese president Vladimir Poetin, die aanval veroordeel het, het ondersteuners van die militante Islamitiese Staat die wrede moorde as welverdiende wraak teen Frankryk geprys.

Praag het voorheen berig oor aanvalle op die tydskrif.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.