‘n Seun van Centurion het oorleef nadat ‘n boot bo-oor hom gery en verskeie wonde veroorsaak het.
‘n Rubberboot se stuurvin het die gesig van ‘n jong Centurion-seun Saterdag oopgekloof toe hy in ‘n fratsongeluk onder die boot beland het. Hy het ernstige beserings aan sy gesig en lyf opgedoen, het die Centurion Rekord berig.
“Dit is ‘n wonderwerk dat my kind leef,” het Keanu van der Linde (14) se ma, Sonja, Maandag gesê. “Dit kon soveel erger gewees het.”
Keanu, ‘n leerling aan die Cornwall Hill College, het saam met sy broer Wally (18) en hulle twee neefs in ‘n plaasdam naby Standerton, Mpumalanga, van ‘n rubberboot af gehengel toe die ongeluk gebeur het.
Hulle het tydens die skoolvakansie by hul pa op die plaas gekuier.
“Keanu was in die water besig om die visnette uit te trek, toe die boot skielik na die een kant swaai en bo-oor hom vaar,” het Sonja aan Rekord gesê.
“Wally het dadelik in die water gespring, vir Keanu in die boot getel en ys in ‘n handdoek om sy kop gebind. Hy het met sy broer na die naaste hospitaal gejaag om mediese hulp te kry.”
Die rubberboot se stuurvin het die regterkant van Keanu se gesig oopgekloof en ‘n diep wond van sowat 25cm gelaat. Sy bo- en onderkaak en regterwangbeen is ook gebreek.
Die vin het hom agter sy oor getref en sy aorta met ‘n sentimeter gemis.
Keanu het nog ‘n wond tussen sy oë opgedoen en die motorbootskroef het hom ook verskeie kere op die arm gekap en wonde gelaat.
Sonja sê dit is ‘n wonderwerk dat haar seun nie onherstelbare skade of kopbeserings opgedoen het nie.
“Dit is danksy die Here se genade dat hy die fratsongeluk oorleef het,” het sy gesê.
Keanu sterk sedertdien in die hoësorgeenheid van die Little Company of Mary-hospitaal in Groenkloof aan.
Sonja het almal vir hulle bystand en gebede bedank en sê sy is baie dankbaar teenoor haar seun, Wally, wat kalm en beredeneerd opgetree het terwyl hy sy broer se lewe gered het.