Broers sterf in VSA toe hulle trompop bots

Deel op

Die dag na Kersdag het in ’n nagmerrie ontaard toe drie Suid-Afrikaners, waarvan twee broers is, in ’n trompop botsing in Suid-Dakota in Amerika was.

Een van hulle, Werner (Shoepie) Swart (33), wat saam met sy vriend gery het, is opslag dood.

Volgens die twee broers, MC (33) en Johan (26) Weldon, se oom, mnr. Hercus Mahoney, het Johan eerste in sy bakkie werk toe gery, terwyl MC en Werner eers ’n ruk ná hom gery het.

Daar word vermoed dat Johan ná sy aankoms terug huis toe gery het om suiker te gaan haal.

MC en Werner het in MC se Dodge Ram-bakkie eers in die dorpie Isabel ontbyt gaan koop.

“Die broers het nie geweet hulle sou mekaar om 7vm daardie oggend weer op die plaaspad tegemoet kom nie,” het mnr. Mahoney gesê.

Hul bakkies het op ’n blinde hoogte trompop gebots.

Dandré Schrambriel, hul stiefbroer het beeste gevoer, rook in die lug gesien en hom daarheen gehaas.

Die bakkie waarin MC en Werner was, het aan die brand geslaan en Dandré het Werner en Johan uit hul bakkies gesleep.

MC is uit sy bakkie geslinger. Sy een skouer is vergruis en sy been, kakebeen en bekken is gebreek en hy is tans aan ’n asemhalingstoestel gekoppel. Johan se een arm, sy bekken en albei bene is gebreek en ’n ribbebeen het sy long deurboor.

Mnr. Mahoney het gesê dat dit sleg gaan met MC en dat hy vier dae gelede ook ’n beroerte-aanval gehad het. “Johan herstel vinnig.”

Die broers is in die waakeenhede van onderskeidelik die Sanford- en St. Alexius-hospitaal.Hul ouers is jare gelede dood en hul stiefpa, mnr. Andries Schambriel, het gehelp om hulle groot te maak.

Mnr. Mahoney het gesê dat die drie mans saam as plaaswerkers op die Lindskov Ranch, ’n groot bees- en saaiboerdery in Suid-Dakota gewerk het.“

Johan het reeds drie jaar daar gewerk, MC meer as ’n jaar en Werner slegs sowat twee maande en toe gebeur dié ramp,” het hy gesê.

Die werkgewer van Lindskov Ranch, mnr. Bryce Lindskov, het sy medelye in ’n brief aan Werner se familie uitgespreek.

Werner se roudiens vind op Vrydag, 9 Januarie om 11vm in die Evangelies Gereformeerde Kerk op Kriel plaas.

Bron: Ridge Times

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.