Volgens berigte is Steve Hofmeyr se webblad deur ‘n kuberkrakergroep wat hulself “Anonymous Africa” noem, aangeval. Hulle beweer dat hulle ‘n DDOS- (Distributed Denial of Service) aanval op die sanger se webblad uitgevoer het. Tans is die webblad egter steeds aanlyn.
Anonymous Africa het Sondagoggend getwiet: “You will be happy to know we are currently running miniop [mini operation] against the racist @steve_hofmeyer.”
‘n DDOS-aanval behels die rig van ‘n oormaat verkaar aan ‘n webblad totdat die netwerk wat dit huisves oorweldig raak. Dit kan egter nie onbepaald volgehou word nie en gewoonlik hou dit ná enkele ure of dae weer op.
praag.co.za is effens meer as ‘n jaar gelede insgelyks deur kuberkrakers of selfs regeringsinstansies met ‘n DDOS-aanval geteiken.
Steve Hofmeyr is tans met vakansie en nie vir kommentaar beskikbaar nie.
Kuberaanvalle in Suid-Afrika is onwettig aangesien dit ‘n ootreding van die Wet op elektroniese kommunikasie en transaksies verteenwoordig.
Anonymous Africa het voorheen al soortgelyke aanvalle op die ANC se webblad, asook dié van die Zimbabwiese staatskoerant, The Herald, geloods.