Die dominante narratief in ons Afrikaanse leefwêreld word vandag gedryf deur die linkses. Hulle bepaal grootliks wat Afrikaners dink, sien en hoor. Enkele afwykings daarvan word binne bepaalde parameters toegelaat om darem die skyn van objektiwiteit te handhaaf.
Die groot storie wat gehandhaaf en uitgebou moet word, is die “Nuwe Suid–Afrika-reënboognasie”-ideaal. Elke berig en elke uitsending word uiteindelik deur redakteurs gemeet aan hierdie ideaal.
Die Afrikaanse establishment (wat nou ferm in die linkses se greep is) het by Kodesa besluit om die volk se seile volgens hierdie winde te span. Die Nuwe SA-winde waai ongelukkig deesdae soos ‘n rukwind, met grondrevolusie, verval en misdaad in die lug. Linkses klou krampagtig vas aan hul uitgediende strategiese mistastings.
Soos Willem de Klerk destyds Afrikaners met “teelepeltjiedosisse” wou heropvoed tot iets anders, word ons vandag met eetlepels politieke korrektheid nog steeds ’n mielie gerol. Net soos die NP vir te lank vasgeklou het aan ‘n uitgediende plan, sal die linkses ook moet laat gaan. Die realiteite van Afrika het ons ingehaal.
– Bertus Boshoff