Amerika speel ‘n gevaarlike spel

‘Met 2500 strategiese kernplofkoppe en nog sowat 2000 taktiese kernplofkoppe is Rusland nie ‘n Afghanistan, Irak of Sirië nie’

Sedert die einde van die Koue Oorlog het Amerika sigself die titel as oorwinnaar van daardie konflik opgeëis. Natuurlik is daar groot waarheid daarin, want destyds, net soos tans het Amerika die olieprys afwaarts gemanipuleer en daardeur Sowjetinkomste nadelig beïnvloed. Die eskalering van die wapenwedloop onder leiding van Ronald Reagan het boonop meegebring dat die Sowjetbegroting  weens militêre besteding uitgeput is. Die afname in inkomste en gelyktydige vehoging in millitêre uitgawes het die Sowjetekonomie op sy knieë gedwing.

Tog, dit was nie net Amerika wat die USSR ekonomies verslaan het nie. Nee, sedert die Bresjnjef-jare het die Sowjetekonomie gebuk gegaan onder korrupsie en stagnasie. Teen die tagtigerjare het hierdie wanfunksie van die Sowjetekonomie tesame met die lompheid van ‘n sentraal beplande ekonomie reeds dit sodanig afgetakel dat slegs groteske hervorming (vandaar Gorbatsjof se perestroika) dit van totale ondergang sou kon red. Perestroika was egter te min, te laat.

Nietemin, sedert die einde van kommunisme en veral sedert Amerika se eerste golforlog het daardie land ‘n toenemend aggressiewe internasionale rol begin speel. Amerika se siening van haarselfs as die wêreld se enigste oorblywende supermoondheid is versterk. Ook met die konflik in Joegoe-Slawië sien ons hoe Amerka haar die rol van internasionale polisieman toeëien. Boonop orkestreer die CIA ‘n hele rits “kleurrewolusies” in voormalige Oosbloklande. Meer as ooit word “regimeverandering” Amerika se mantra. Onder die vaandel van “demokrasie” word pro-Amerikaanse regerings geïnstalleer. Met die histerie wat volg op die 9/11-aanval in New York, word Amerika se intervensionisme tot nuwe hoogtes gedryf.

Onder die korrupte alkoholis, Boris Jeltsin, was Rusland presies waar Amerika dit wou hê. Sonder die USSR was hierdie sentrale republiek (RSFR) van die voormalige Unie se bevolking die helfte van die oorspronklike Moederland s’n. Boonop was dit in ekonomiese vryval waar alles te koop was aan die hoogste bieder. Tesame met Russiese oligarge was dit soos Kersfees vir Westerse grootsake. Alles, van Sowjet- militêre tegnologie, wat sorgvuldig oor dekades opgebou en geheim gehou is, tot die enorme Russiese minerale rykdom kon nou op die internasionale markplein deur die Westerse elite en hul Russiese eweknieë opgeraap word.

Boonop was Jeltsin, wat soos ‘n benewelde Kersvader die gegryp na die Kersgeskenke onder die boom toelaat, ‘n geliefde figuur in Westerse hoofstede. Onder Jeltsin was geen CIA-kleurrewolusie  in Moskou nodig nie, want Jeltsin het beter meegedoen aan die afbreek van sy land as wat enige Amerikaanse popperegering sou kon doen. Rusland was in chaos, op sy knieë en daar vir die wêreldkapitaliste om  na hartelus te plunder. Dis presies waar die Weste Rusland wou hê – verneder en misbruik. Terloops, dit laat my heelwat aan die Afrikaner se situasie sedert 1994 dink.

Dan verskyn Wladimir Wladimirowitsj Poetin op die toneel. Alles verander. Die “verskynsel Poetin” verdien ‘n skrywe opsigself. Hoe Poetin die situsie omkeer, wat hom dryf en sy strategie verdien ‘n aparte artikel. Poetin herstel orde in Rusland en daarmee saam Russiese trots. Soos die USSR, herstel Poetin ook Rusland se status as ‘n land met ‘n onafhanklike internasionale beleid en status. Meteens is Rusland nie onder die Amerikaanse invloedsfeer nie, en hier begin die probleme. Wat die Westerse media betref, is Poetin ‘n oorlogsugtige diktator. Ons moet onthou dat die Westerse media deur dieselfde belangegroepe wat by Amerikaanse millitêre besteding baat en wat onder Jeltsin vrye toegang tot die Russiese skatte gehad het, beheer word. Op die hoogste vlakke is daar geen onderskeid te tref tussen die belange van die Westerse kapitalistiese elite, Washington, die VSA- millitêre bedryfsektor, en die Westerse media nie.

Laat ons nou die tyd aandraai tot waar ons vandag is: Amerika het onder leiding van die CIA en Victoria Nuland (van die Amerikaanse dept. van buitelandse sake) ‘n poetsj in Kiëf uitgevoer en daarmee ‘n pro-NAVO/VSA/EU-regering in die Oekraïne aangestel. Dit is gedoen om van die pro-Russiese president Viktor Janoekowitsj ontslae te raak. Die Amerikaanse/Westerse plan, wat reeds in 2013 deur die Jalta- Europese Strategieberaad bedink is, is bedoel om die Oekraïne nader aan die EU te bring. “EU” is ook kodetaal vir NAVO. Die staatsgreep in Kiëf is bewerk deur ‘n CIA- en Amerikaanse-buitelandsesakegekonkel waardeur Neo-Nazi-bullebakke en Oekraïniese oligarge gesamentlik Kiëf in chaos gedompel het en die demokraties verkose pro-Russiese regering van die dag verjaag het.

Elke optrede in hierdie teater, deur Rusland, was deurgaans slegs ter wille van selfbeskerming. Die mees drastiese in hierdie stappe, nl. die terugname van die Krim deur demokratiese referendum (nadat Kroestjof dit in die vyftigerjare op ondemokratiese wyse aan die Oekraïne oorhandig het (let wel die Oekraïne was deel van die USSR), was om te verseker dat die eeue oue Russiese vlootbasis van Sewastopol, nie in NAVO-hande beland nie. Wie kan Rusland hiervoor blameer? Ook beweerde Russiese militêre betrokkenheid in die Russiessprekende Oos-Oekraïne, is moreel regverdigbaar, gegewe dat Kiëf hierdie provinsies eerste aangeval het.

Rusland het geen ander opsie as om te verseker dat die Oekraïne nie in NAVO-hande beland nie, want indien NAVO-magte in die Oekraïne gestasioneer word, bring dit daardie bedreiging tot op die Russiese grens. Maar erger, dit bring dan ook Amerikaanse missielverdedigingstelsels tot op die Russiese wesgrens. Hierdie stelsels het die vermoë om Rusland se kernarsenaal groot skade te berokken. Sonder sy kernarsenaal is die Russiese beer se tande getrek. Die rede waarom daar nooit ‘n “warm millitêre konflik” in die Koue Oorlog-jare tussen die VSA en die USSR uitgebreek het nie, was juis omdat elk van hierdie moondhede oor ‘n kernarsenaal beskik. Hierdie vermoë van beide die VSA en die USSR het voorkom dat hulle mekaar enigsins direk militêr aanvat, selfs konvensioneel, want enige gevegshandeling sal vinnig tot ‘n kernaanval eskaleer. In so ‘n geval sou dit hul gesamentlike en totale vernietiging verseker, sg. “mutually assured destruction” of “MAD”. Eintlik sou die totale mensdom in so ‘n situasie omkom.

Hierdie wedersydse skaakmat van die Koue Oorlog het ‘n kernoorlog voorkom. Amerika wil dit nou verander. Sommiges mislei hulself met die idee dat Rusland hardhandig hanteer kan word omdat dit kwansuis net ‘n skadu van die voormalige USSR is, ‘n argument wat net op konvensionele vlak geld. Hulle dink waarskynlik in terme van ‘n toekonstige situasie waar Amerikaanse missielverdedigingstelsels reeds op die Russiese Rostofgrens ontplooi is. In so ‘n geval sou Rusland teoreties gesproke slegs op sy konvensionele magte kon staatmaak. Hierdie is egter ‘n gevaarlike dobbelspel, want hoewel Rusland tot op datum enorme selfbeheersing uitgeoefen het, sal die ontplooiing van Westerse missielstelsels in die Oekraïne al die waarskuwingsligte in die Kremlin laat afgaan. Rusland sal so ‘n skuif probeer voorkom nes daar vroegtydig opgetree is om Sewastopol onder hulle beheer te hou. Hierdie sou dus ‘n strategiese rooilyn vir die Russe verteenwoordig. Die Weste moet nie Rusland se konvensionele vermoë onderskat nie, en dan die moontlikheid van nog erger – sy kernmagte.

Vir Rusland is die Navofisering van die Oekraïne op elke vlak net so ‘n groot bedreiging as wat die ontplooiing van Sowjetmissiele in Kuba vir President Kennedy se VSA ingehou het. Intussen is NAVO/VSA besig met ‘n millitêre opbou in Pole en die Baltiese state, op die Russiese grens. Boonop suggereer Washington d.m.v. nuwe wetgewing ‘n rigting van millitêre opleiding en hardeware aan die Oekraïne. Verder streef die Oekraïne daarna om ‘n NAVO-lid te word en die ope geheim is dat Brussel dit ook begeer.

Terwyl die Weste die oorlogstromme slaan, die Russiese ekonomie deur sanksies en olieprysmanipulasie (weereens) deur die VSA en Saoedi’s gekniehalter word, en onderlangs bedink word hoe om die Oekraïne by NAVO in te lyf en daarmee NAVO tot op die grens van Rusland se Rostofstreek te bring, word die Russiese beer in ‘n hoek gedryf. Die oorlogsugtige Weste moet baie versigtig wees, want met 2500 strategiese kernplofkoppe en nog sowat 2000 taktiese kernplofkoppe is Rusland nie ‘n Afghanistan, Irak of Sirië nie. Die Weste mag weliswaar nog hulle oorlog met Rusland kry, maar dit sal nie langer as ‘n halfuur duur nie…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.