At van Wyk oor die nuwe Afrikaner

Deel op

‘Demokrasie gaan veroorsaak dat nie-wittes binne enkele dekades politieke beheer in Amerika oorneem en toenemend in die res van die wêreld’

Deel op

Ek het nog nêrens gelees of gehoor dat Asiate, bv Indiërs, behalwe by opportunistiese geleenthede, werklik soos die ontwikkelde bruines deesdae, swart Afrikane wil wees nie. Dit is seker omdat Asiate ‘n eie kultuur het waarop hulle trots is en wat hulle nie argeloos wil verkwansel nie. Naas die voorkoms van bruines as neo-swartes is daar in die geledere van Afrikaanssprekende blankes ‘n selfs hinderliker verskynsel, naamlik die pseudo-Afrikaners, bv oud-Broederbonders, wat veral sedert 1990 skynbaar seepglad oorverlig en selfs ANC-ondersteuners geword het.

‘n Beskrywing van hierdie oorgangsproses, van super-Afrikaner tot skyn-Afrikaner, is te vinde in At van Wyk (gebore in 1932) se boek, The birth of a new Afrikaner (Cape Town: Human & Rousseau, 1991, 117p). Ek dink daar is deesdae eintlik glad te veel mense wat graag dié beskermheilige van verloopte Afrikaners wil wees. Dink maar aan oorverligtes soos Willie Esterhuyse, Max du Preez, Antjie Krog en (doktor!) Ruda Landman.

Van Wyk is ‘n joernalis en historikus. In die teks word Van Wyk se eie lewensloop as ‘n gevallestudie behandel en by implikasie as navolgenswaardig voorgehou. Die teks is in Engels sodat diegene wat nie Afrikaans magtig is nie, kan agterkom dat nie alle Afrikaanssprekende blankes verkramp is nie: “It seeks to enable non-Afrikaners to examine the political heart of an average [?] Afrikaner” (p 7). Hy noem die veranderingsproses sy “political metamorphosis” (p 7), oftewel sy “estrangement from political Afrikanerdom” (p 13). Die resultaat is ‘n “reconstructed Afrikaner Nationalist” (p 9). Hy het, volgens eie erkenning, sy gat omtrent 180 grade geswaai (p 9).

Van Wyk het nie in welvarende omstandighede grootgeword nie. Oor sy ouerhuis skryf hy: “No electricity or piped water, inside bathroom or toilet, no telephone or radio” (p 44). Dit weerspieël die lewensomstandighede van baie blankes/Afrikaners voor die Tweede Wêreldoorlog. As kind het Van Wyk plaaswerk gedoen en as student moes hy vakansiewerk verrig om studiegeld bymekaar te maak. Blankes arbei al sedert 1652 om ‘n bestaan in hierdie land te maak. Dit lyk vir my na verregaande vermetelheid van swartes om deesdae op gratis huise, water, elektrisiteit, munisipale dienste en selfs televisie, asook studiebeurse, aan te dring asof dit regte is; dat dit alles hulle sonder teenprestasie toekom. As jy swart is, word regte nie meer met verpligtinge gebalanseer nie.

Die outeur het in ‘n polities konserwatiewe huis opgegroei. Sy pa was ‘n ondersteuner van DF Malan (p 49). “I was a born and bred Afrikaner Nationalist” (p 13). Van Wyk is ook godsdienstig, christelik, opgevoed. “For us Christian Afrikaner nationalism was a way of life” (p 69). Tussen sy politiek en godsdiens het daar mettertyd teenstrydighede ontwikkel. Hy het sy godsdienstigheid behou en sy politiek al hoe meer na links gebuig. Afrikaners het geblyk nie werklik die uitverkore volk van God in Afrika te wees nie. Die positiefste aspek van die boek is seker die relaas van ons politieke geskiedenis wat deur hierdie historikus verskaf word. Daar is egter die neiging om negatiewe historiese aspekte van blankes en veral Afrikaners te beklemtoon terwyl nie-wittes, veral swartes, skotvry daarvan afkom.

Voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog was Van Wyk ‘n “Nazi to the core” (p 57) en op skool ‘n “Afrikaner racist” (p 59). Later: “Verwoerd was my hero” (p 83). Toe al hoe meer verligtheid in die Nasionale Party ingetree het, is Van Wyk met dié stroom meegevoer. Daarna het hy teen die Nasionale Party gedraai. In 1987 het hy vir die Nuwe Republiek Party (p 102, dus eintlik die Sappe) en in 1989 vir die Demokratiese Party (p 104) gestem omdat FW de Klerk voor sy verkiesing as NP-leier die indruk van regsgesindheid gewek het. “I did not trust him politically” (p 105). Laasgenoemde waarneming is absoluut in die kol, maar Van Wyk het verkeerdelik juis vertroue in De Klerk gekry weens sy toespraak op 2 Februarie 1990, toe De Klerk sy mantel openlik gedraai en geblyk het oorverlig te wees. De Klerk het die ANC, PAC, SA Kommunistiese Party, ens, ontban. Van Wyk skryf: “Politically it was the happiest day of my life” (p 106). In die vooruitsig was “the creation through negotiation of an open society with freedom for all in an undivided South Africa” (p 106). Van Wyk het in 1980 die oordrag van politieke mag na swartes in Zimbabwe as ‘n ramp ervaar (p 39) maar ‘n dekade later Swapo se verkiesingsoorwinning in Namibië verwelkom (p 98).

In die De Klerk-era het Van Wyk myns insiens glad te geredelik voor die anti-blanke- en veral anti-Afrikaner-propaganda geswig. Hoe ver hy geval het, blyk uit sy gesprek met sy joernalisvriend Alf Ries. Gestel hulle moet kies tussen die Konserwatiewe Party en die ANC. Ries “would rather go down with his own people than join hands with an organisation killing innocent people and plotting the downfall of white rule. I said I would support the ANC” (p 101). Sy politieke vervreemding van tradisionele Afrikaners het voorspelbaar ook sy bande met Afrikaans verslap. As hy tussen die Bybel en Afrikaans moet kies, kies hy die Bybel (p 107). “I have no intention of getting involved in another language struggle … It is, however, my fervent hope that Afrikaans will gain in honour what it stands to lose in official stature” (p 116). Hy het ‘n kramp in die CJ Langenhoven-jaar (1973) en die Taaljaar vir Afrikaans (1975 – p 24), maar ek wonder wat sy reaksie is op die veel meer oordrewe Nelson Mandela-verering wat daagliks aan ons opgedring word. Dit begin al lyk asof elke jaar ‘n Mandela-jaar is. Helen Zille laat dit klink asof Mandela die onoortrefbare oer-DA-grondlegger en -leier was.

Waarheen gly Van Wyk se Afrikanerskap? Hy skryf oor “my desire … for the Afrikaner to expand his vision of himself by first recognising as fellow Afrikaners all who spoke our language, including coloured people as well as a substantial number of Africans. This was to evolve for me into the ideal of an all-embracing South Africanhood” (p 27). Sy veridealisering strek selfs wyer. Hy het gedink ons is “on the verge of joining a universal fellowship of freemen” (p 113). Sy verdunning van Afrikanerskap kan tot die algehele uitwissing van Afrikaners lei: “I am ‘nationalist’ only in the sense of being a South African. I have no particular wish for the Boer people to live on ad infinitum” (p 116).

Sy vertolking van die Bybel het ‘n belangrike rol in Van Wyk se verwerping van apartheid gespeel. Oor De Klerk skryf hy: “FW … like myself, might have found his answers on his knees” (p 109). Van Wyk het hierdie boek geskryf “to explain to my children and grandchildren my involvement in the apartheid policy of yesteryear. Will they forgive me?” (p 7). “I prayed to the Lord for forgiveness, privately and publicly, for my share in the application of unholy apartheid” (p 91). So iemand is myns insiens polities en kultureel gans verlore vir die Afrikanersaak en Afrikanerdom.

Daar is geldige insigte in die boek. Hy skryf van “the blatant anti-black attitudes of English Natal … The Natal Englishmen could fool themselves with a pretence of opposing apartheid, but they didn’t fool me” (p 20). “Since the first British occupation of the Cape in 1795, segregation/apartheid has been advocated by some of the leading English minds in the country, both overtly and covertly. It is an open secret that the English, by and large, are by no means less racist than the Afrikaners” (p 64). Oor die naïewe Willie Jonker, wat in 1990 namens alle NG Kerk-lidmate apartheid as sonde bely en verskoning gevra het, skryf Van Wyk tereg: “He had been out of order to confess on behalf of the DRC” (p 88). Ook: FW de Klerk “did not receive a mandate on September 6 [dus in die algemene verkiesing van 1989] warranting his announcement on February 2” (p 108). Hierna het De Klerk die 1992-referendum gewetenloos misbruik om weereens mandaatloos magsoorgawe pleks van magsdeling “te beding”, maar dit het gebeur na die publikasie van Van Wyk se boek.

Van deurslaggewende belang is om te besef dat hierdie boek kort na FW de Klerk se 1990-toespraak geskryf en reeds in 1991 gepubliseer is. Dit was dus in die tyd toe baie mense mislei is om te glo dat De Klerk ‘n wen-wen-haas uit die hoed gaan trek; dat daar magsdeling gaan wees, met moerse wigte en teenwigte. Dit was toe daar nog geen sprake van kolossale verraad teen blankes, van roemlose algehele oorgawe aan swart mag, was nie. Van Wyk verwys na De Klerk se “laudable effort, but the odds against them are appallingly high” (p 64).

In verantwoordelike blanke geledere is die euforie van 1990/1994 lankal verby. Hermann Giliomee skryf in ‘n onlangse artikel (Die Burger, 8 November, p 15) dat “diegene wat die meeste belasting betaal, individueel en korporatief, nie politieke verteenwoordiging op kabinetsvlak het nie.” Giliomee dink dat die huidige politieke stelsel (ongekwalifiseerde gelyke stemreg in ‘n eenheidstaat) heeltemal ongeskik vir Suid-Afrika is. De Klerk se versuim om sy beloofde magsdeling te verwerklik, het ernstige gevolge. Giliomee haal Vernon Bogdanor soos volg aan: “Ek weet nie van enige diepverdeelde samelewing wat sonder magsdeling stabiliteit kon bewerkstellig nie.” ‘n Fiskale afgrond kan ons voorland wees. Afgesien van die wydverspreide korrupsie, is daar die “ernorme toename in staatstoelaes, asook in staatsamptenare en hul salaris.” Dit sal “binne 12 jaar ál die staatsinkomste opslurp.”

In die nuwe Suid-Afrika word ‘n hoë prys betaal weens kolossale onverantwoordelikheid en ondoeltreffendheid in die owerheidsektor. Dit was ANC-beleid om swartes wat voor 1994 ondervinding van bv plaaslike bestuur opgedoen het, sistematies uit te moor. Maar daar is baie ander lesse in die geskiedenis wat glad nie geleer is nie. Na die Anglo-Boere-oorlog was daar ‘n instroming van swartes uit buurlande; kansvatters wat uit die nuwe politieke situasie voordeel wou trek. Met min teenstand word hierdie gebeure sedert 1994 herhaal, terwyl ruim die helfte van die inheemse bevolking glad nie ‘n (ekonomiese/finansiële) bate vir die land is nie.

Die kanker loop veel dieper. Die politieke gelykverklaring wat in die naam van demokrasie gepleeg word, beteken dat die meerderheid kiesers, dus nie (noodwendig) die beste mense in die bevolking nie, besluit wie die land regeer. As die meerderheid swart is, soos in Suid-Afrika, is die lot van die land en al sy mense aan hulle uitgelewer. Amptelik beywer die VSA hom steeds vir demokratiese regerings oral in die wêreld. Die getal nie-wittes groei eksponensieel in alle lande. Demokrasie gaan veroorsaak dat nie-wittes binne enkele dekades politieke beheer in Amerika oorneem en toenemend in die res van die wêreld. Ek dink nie dit is (noodwendig) “‘n goeie ding” nie, om dit sag te stel. Dit kan ‘n ontaardende ramp wees waarin Westerse (insluitende tradisioneel Europese) beskawing onherroeplik ondergeploeg word.

Dit sou interessant wees om te weet hoe Van Wyk se Afrikanerskap tans daar uitsien, dus na verloop van meer as twee dekades in die nuwe Suid-Afrika. Hy het ‘n Superafrikaner gedefinieer as “an uncompromising Afrikaans-speaking Christian Nationalist and uncritical apartheid supporter” (p 27). ‘n Terugkeer daarheen is nie ‘n realistiese moontlikheid nie. Maar ons moet nie toelaat dat ons steeds met apartheid, of wat ook al in die verlede gebeur het (bv slawerny, kolonialisme, rasse-segregasie), moreel en daarby selektief geïntimideer word nie.

Die ander uiterste posisie is dié van pseudo- of skyn-Afrikanerskap, verpersoonlik deur mense soos Leon Wessels en Anton van Niekerk. Hulle is bewus van baie wat in die nuwe Suid-Afrika verkeerd geloop het, maar hulle verkies om ‘n oorverligte front voor te hou. Hulle sien allerhande uitdagings, maar klou verbete vas aan die tevergeefse taak om die land “te maak werk”. Hoewel mense indiwidueel en groepsgewys hemelsbreed (kan) verskil, vind pseudo-Afrikaners dit erbarmlik om die gelykheid van alle mense te predik. As mense in die praktyk kwalitatief verskil, is dit glo omdat die meer talentvolles die minder talentvolles benadeel het.

Tussen hierdie twee uiterste posisies is daar ‘n eerbare neo-Afrikanerskap wat op ‘n realistiese manier erken dat mense etnies en kultureel verskil; dat dit natuurlik is vir soort om soort te soek; dat dit goed en reg is om jou by jou eie mense te skaar, om vir jou kultuurgenote kant te kies, om jou geesgenote se heil te bevorder. Dít alles sonder om ander te haat of hulle te misgun wat jy vir jouself en jou kultuurgenote veroorloof.

Al het ek geen rede om selfvergenoegd te wees nie, probeer ek glad nie om myself polities te verander/transformeer nie. In daardie opsig kan ek nie verander/verbeter nie en wil ook nie. Om verstaanbare redes bly my ideaal dat Afrikaners weer ‘n blink toekoms moet hê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.