Afrikaner, Eurokaner, Aussiekaner, jy het soveel om te sê!

Deel op

Waarskynlik beskou die meeste Afrikaners letterkunde as nie baie belangrik nie. Die politiek of die ekonomie is vir hulle meer bepalend vir ons toekoms. En die soort politieke neerlae wat ons oor die afgelope paar dekades gely het, is verantwoordelik vir die haglike toestand waarin ons ons tans bevind. Nou die dag gesels ek met mnr. Jaap Kelder wat agter die skerms ‘n groot rol gespeel het om die Afrikanerplakkers vanuit die Kroningsparkkampeerplek op Krugersdorp na ‘n kleinhoewe verder wes in die Hekpoortomgewing te verskuif. Ons is terug by die dertigerjare en die armblankeprobleem.

roodt_dan_wikiDestyds, amper honderd jaar gelede, is daar egter heelwat deur Jochem van Bruggen, Holmer Johanssen en vele ander rondom die armblankes geskryf, in romans. Dit is deur sogenaamde “fiksie” – ‘n Engelse begrip waarvan ek nie baie hou nie – dat Afrikaners van hul eie armoede en ellende bewus gemaak is. Daardie romans is in ‘n realistiese styl geskryf.

Teen die laat vyftigerjare, min of meer tien jaar ná die NP se bewindsoorname, is daar vanuit verskeie oorde ‘n oproep geloods dat die Afrikaanse letterkunde meer “modern” gemaak moet word. Onder andere het NP van Wyk Louw ‘n boek genaamd Vernuwing in die prosa gepubliseer waarin hy gesê het:

Die algemene kultuurpeil van ‘n moderne volk word grotendeels gemeet aan die prosa wat binne hom geskryf, geniet, gewaardeer, geduld of selfs toegelaat word. (Louw, Versamelde prosa 2, 1986, bl.125)

Lees gerus ook die volgende stukkie deur prof. Jaap Steyn waarin hy in ‘n neutedop iets aangaande die Sestigerbeweging vertel.

Hoewel ek heelwat van die Afrikaanse letterkunde weet, en seker amper nog meer van ‘n verskeidenheid buitelandse letterkundes (Frans, Brits, Amerikaans, Duits, Nederlands, ens.), het ek onlangs tot die besef gekom dat ek feitlik my hele lewe lank die verkeerde boeke deur die verkeerde skrywers gelees het. Nie net dít nie, maar ek het baie lank ‘n wanbegrip van die moderne kuns, argitektuur en letterkunde gekoester.

aweregsblad600

Hoe het dit gebeur? Wel, ten eerste het ek destyds aan ‘n linkse universiteit in Suid-Afrika, Wits, gestudeer en later aan ‘n nóg linkser universiteit in Frankryk, die sogenaamde Universiteit van Parys nommer 8, Vincennes-Saint-Dénis, wat aanvanklik in die vroeë sewentigerjare as ‘n soort Maoïstiese projek begin is. In dié opsig is ek allermins alleen, want regoor die Westerse wêreld is veral die geesteswetenskappe aan die universiteite sedert die sestigerjare deur linkses en ekstreem-linkses oorgeneem. Daarmee saam natuurlik die hoofstroommedia, Hollywood, beeldende kuns en alles wat daarmee saamhang. Die Sowjetunie is nie dood nie; hy het bloot weswaarts verskuif!

Eers toe die internet begin ontwikkel, het die skille van my oë afgeval en het ek vir die eerste keer insig in die modernisme begin verkry. Tot en met die tweede wêreldoorlog was moderne en vernuwende skrywers, kunstenaars en filmmakers eintlik merendeels regs! Soos by Van Wyk Louw self, vind ‘n mens by hulle ‘n “aristokratiese ideaal”, ‘n sin vir hiërargie, vir skoonheid en grootsheid wat by die massamens afwesig is. Natuurlik was daar kommuniste soos Bertolt Brecht, Pablo Neruda en ‘n horde ander óók, maar in wese het modernisme en nasionalisme hand aan hand gegaan. Dit was nie om dowe neute dat die amptelike literêre doktrine van die kommuniste jare lank “sosiaal-” of “sosialistiese realisme” was nie.

Daar was soveel interessante skrywers en kunstenaars waarvan ‘n mens nooit in die media of aan die universiteite verneem nie, juis omdat hulle nie links was nie. Céline was ‘n Franse nasionalis, en baie anti-Joods en pro-Duits tydens die tweede wêreldoorlog. Nietemin geniet hy wel erkenning as een van die grootste Franse skrywers van die twintigste eeu. Dan is daar nog die Amerikaanse fascistiese digter Ezra Pound wat in die Anglo-Amerikaanse kanon opgeneem is, asook D’Annunzio in Italië of Ernst Jünger in Duitsland. Maar oor die algemeen word daar aan ons voorgehou dat alle kultuur en letterkunde links is! Selfs die vermaarde Franse kritikus waaroor ek ‘n Magisterstudie geskryf het, Roland Barthes, sê in een van sy boeke dat die regtervleuel boeke “vir die plesier” lees, maar dat linkses daarteenoor “kennis, metode, die stryd” vooropstel (Le plaisir du texte, bl. 39).

Feitlik alle hoë kultuur is vandag links, selfs marxisties. Diegene wat iewers nog ‘n sin vir patriotisme of tradisie koester, durf dit nie hardop sê nie, anders word hulle geëkskommunikeer. En tog, en tog… In Parys, wat nog altyd die toonaangewende skrywerstad ter wêreld was, is daar sedert 2000 ‘n groep skrywers en denkers wat die “neoreaksionêre” genoem word en wat in romans en essays openlik krities teenoor die linkse dogmas soos multikulturalisme, witskuld en ‘n kosmopolitiese internasionalisme standpunt inneem.

Binnekort, op 7 Januarie 2015, verskyn daar uit die pen van die mees vertaalde Franse skrywer, Michel Houellebecq, ‘n roman Soumission (Onderwerping) waarin hy ‘n oorname van sy land deur die Moslembroederskap tydens die verkiesing van 2022 voorstel. Dit kom kort op die hakke van Éric Zemmour se opmerking teenoor ‘n Italiaanse joernalis dat dit nie vergesog sou wees om alle Arabiere en dalk swartes uit Frankryk terug na hul lande van herkoms te deporteer nie. Zemmour se essay, Le Suicide français (Die Franse selfmoord) het reeds 250 000 verkoop en hy word as ‘n baie invloedryke politieke en maatskaplike meningsvormer beskou.

Oral in die Westerse wêreld was daar egter skrywers en denkers wat nie noodwendig met die linkse, kultuurmarxistiese revolusie van die sestigerjare saamgegaan het nie. So pas vandag ontdek ek die naam van ‘n Britse lid van die sogenaamde “Angry Young Men” van die vyftigerjare, Bill Hopkins, wie se enigste roman, The divine and the decay, so omstrede was weens die anti-demokratiese, Nietzscheaanse inslag daarvan, dat sy uitgewer alle eksemplare daarvan laat terugtrek en vernietig het. Die konserwatiewe aktivis, Jonathan Bowden, was ‘n groot bewonderaar van Hopkins en het ook die blanke Rhodesiërs en Afrikaners se saak in Londen probeer bevorder. Bowden, wat taamlik vroeg dood is, was blykbaar ‘n uitstekende spreker en vele van sy toesprake en essays is gepubliseer. (Lees ook dié onderhoud met hom.) Onder andere staaf hy my argument as hy in Western civilization bites back sê:

“Since the Second World War, white Europeans have felt guilty about being themselves and have been made to feel guilty and are being encouraged to feel more guilty than they have at any time in their history.”

Uit die bietjie wat ek tot dusver van Bowden te lese had, lyk dit asof sowel hy as sy mentor, Bill Hopkins, verstaan het hoe die Westerse kultuur deur marxisme binnegedring en gerysmier is, iets wat slegs deur ‘n soortgelyke “kultuuroffensief” van Regs geneutraliseer of verminder kan word. Sensuur in die naam van politieke korrektheid is een van die vernaamste wapens in die linkse arsenaal. Daarom sê Jonathan Bowden:

“Political correctness is a methodology and a grammar. It is designed to restrict the prospect of a thought even before the thought is enunciated. Chairman Mao had the idea of ‘magic words’. Magic words. ‘Racism’ is a magic word. Use it, and people fall apart. People begin to disengage even from their own desire to defend themselves… ‘Racism’ is a term developed by Leon Trotsky in the left oppositionist journal in the Soviet Union in 1926 or 1927.”

Politieke korrektheid en ‘n “towerwoord” soos “rassisme” verlam almal, maar veral skrywers en kunstenaars. Van die oomblik dat ‘n skrywer van rassisme beskuldig word, word hy of sy eenvoudig met die banvloek getref. Uitgewers, boekwinkels, resensente, die hele stelsel kom in werking om so ‘n skrywer op die daad te sensureer en na ‘n soort geestelike Siberië te verban. Dis waarom die Franse (en Amerikaanse) neoreaksionêre so ‘n merkwaardige groepering verteenwoordig wat desondanks politieke korrektheid en beskuldigings van “rassisme” onverskrokke volhard het om hul idees te stel vir wie ook al wil lees of luister. Maar al die byna vergete Westerse stemme soos Hopkins en Bowden het almal bygedra tot die oplaaiende simfonie van Europese herlewing, amper iets soos Schiller se “Ode aan die vreugde” wat in die laaste deel van Beethoven se negende simfonie besing word. Dis nodig dat al dié mense herontdek en herlees moet word. Bowden sê elders:

“The West, in my view, is an anti-theocratic and open-minded civilisation, but the idea that because of that we don’t believe in anything is an utter nonsense. We have a fundamentalism of our own, and I think it’s the guilty conscience of most Western intellectuals, particularly liberal-minded people in the arts. An enormous number of Western artists and writers and intellectuals, even through reversal and antagonism, were attracted to fascism in the first 30 to 40 years of the twentieth century, and they were often attracted in an emotional way at a level deeper than reason, because they were attracted to the ur-discourses, the foundational and fundamentalist beliefs, classical and yet Romantic combined, of our own civilisation.”

Wat Bowden hier kwytraak, stem ooreen met ‘n gevoel wat ek reeds lank koester oor die sogenaamde moderne letterkunde en veral prosa in Afrikaans wat deur Van Wyk Louw bepleit is, maar wat op die ou end op ‘n klomp futlose propaganda deur André P. Brink en sy geesgenote uitgeloop het. Enersyds is dit oppervlakkig en ersatz, andersyds is dit volledig verpolitiseer en gedienstig aan die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty op ‘n manier wat aan die ewe vergeetlike “amptelike letterkunde” van die voormalige Oos-Europa herinnner. Vir André P. Brink is seks tussen die rasse of witskuld die summum van alle kuns en skoonheid. Daarvoor is hy natuurlik deur die Naspersmedia ten hemele as “groot skrywer” aangeprys.

Afrikaans is ‘n pragtige taal met baie lojale sprekers wat byvoorbeeld die Amerikaanse musiekbedryf op ‘n eg nasionalistiese manier ondersteun. Soos Gustav Venter eenkeer teenoor my opgemerk het: “‘n Afrikaner sal omtrent enigiets koop, solank dit in Afrikaans is.” Juis daarom is dit so ‘n tragedie dat ons oor geen lewendige, moderne letterkunde beskik nie. Al wat ons het, is aan die een kant sulke marxistiese skrywers wat te dom is om te besef waarmee hulle besig is en aan die ander kant, gewilde of “genre”-skrywers wat na die Angel-Saksiese model ons met speurverhale en dergelike probeer “vermaak”. Maar selfs die speurverhale is polities korrek! Slegs die semi-ondergrondse internetletterkunde hou tans enige hoop in.

Afrikaners is vandag by uitstek die slagoffers van kultuurmarxisme en politieke korrektheid. Daarom beskik Afrikaanse skrywers en denkers nie net oor ‘n verantwoordelikheid teenoor ons eie mense nie, maar teenoor die hele Europese en Westerse wêreld om daaroor te getuig. Trouens, dit verteenwoordig vir ons ‘n historiese geleentheid om hier vanuit die periferie of die antipode van ons beskawing deel van ‘n belangrike beweging te raak. Waarskynlik is dit die belangrikste sedert die slag van Poitiers in 732, want dit gaan oor die oorlewing van ons beskawing.

Die pseudomodernisme van Links en veral daardie “fundamentalisme van die slegte gewete” waarna Jonathan Bowden hier bo verwys en waarvan meer onlangse Afrikaanse boeke deurtrek is, moet verwerp word ten gunste van ‘n vrolike, eksperimentele en waagmoedige letterkunde wat Afrikanerwaardes en -intelligensie beja. Ons moet ook weer boeke in Afrikaans vanuit Europese tale vertaal, soos dit in die verlede gedoen is. PRAAG het reeds daarvoor voorbrand gemaak met sommige van ons boekpublikasies oor die afgelope tien jaar. Dog veel meer moet nog gedoen word!

Histories het elke herlewing van die Afrikanervolk nog altyd saamgegaan met ‘n herlewing van die Afrikaanse taal en letterkunde. Só was dit in die tweede helfte van die negentiende eeu met die Patriotbeweging, maar ook die opwindende Goue Dekade van die 1890’s in die Transvaal waaroor ons so min weet, behalwe ‘n paar opmerkings deur M.E.R. in haar outobiografie, My beskeie deel, en enkele ander bronne. In die 1930’s het veral die Afrikaanse digkuns ‘n groot opbloei beleef, benewens natuurlik C.M. van den Heever en ander prosaskrywers wat ietwat oudmodies maar nogtans diepsinnig die Afrikanerpsige gesondeer het. Laat vrugte deur Van den Heever en Bart Nel deur Van Melle bly twee van die mooiste boeke in Afrikaans. En watter politieke roman is Bart Nel nie ook nie, met die tema van die rebellie wat so sterk daarin figureer!

Die tragiese omstandighede en kwasi-ondergang wat ons tans beleef, leen hom by uitstek tot letterkunde en skeppende kuns. Het dit nie tyd geword dat ons dit in sy naakte geweld en onreg in Afrikaanse boeke, films, musiek en skilderye uitbeeld nie?

Ons beskik oor alles om so ‘n moderne, neoreaksionêre beweging in Afrikaans van stapel te stuur, want danksy die internet het die groot uitgewers en boekwinkelkettings al minder invloed en raak die rol van individuele skrywers en meningsvormers al hoe belangriker. Ook die sosiale media soos Twitter en Facebook kan aangewend word om idees en boeke te bemark.

“Rassisme”, waar is jou angel?

En het Afrikaans nie, danksy emigrasie, ‘n internasionale taal geword nie? Afrikaner, Eurokaner, Aussiekaner, jy het soveel om oor die wêreld en jou land te sê!


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.