Amerikaanse nagmerries

ImageOp ‘n dag in Julie 2004 het die Demokratiese Party in die VSA verlief geraak op Barack Obama. Tot op daardie oomblik was Obama ‘n onbekende gemeenskapsaktivis in Chicago wat tot die Illinois-senaat in 1997 verkies is. Sy aktiwiteite was beperk tot sy Chicago-basis waar sy assosiasie met verlinkse figure soos pastoor Wright, asook Bill Ayers en Bernadine Dohrn (die stigters van die Weathermen-terroristegroep), sy politieke ideologie gevorm het.

Obama se gewildheid is deels te danke aan die huidige soeke in die VSA en Westerse lande na “Black Excellence”, en in Obama is dit gevind. Barack Obama is ‘n talentvolle politikus en ‘n uitstekende orator wat sy posisies logies kan verdedig. Hy is relatief jonk en aantreklik, en het ‘n stemtoon wat linksgesinde ondersteuners in ‘n beswyming laat verval. Dit is nie duidelik dat Obama wel die verkiesing in November sal wen nie; sy teenstander (John McCain) is ‘n gesoute en populêre oorlogsheld wat Obama, ten spyte van Obamania, by die stembus kan verslaan.

Hoe dit ook al sy, die volgende Amerikaanse president (óf Obama, óf McCain), gaan ‘n bankrot VSA met diepliggende ekonomiese, sosiale en internasionale probleme van George Bush erf. Die blaam vir die VSA se huidige probleme word dikwels aan George Bush se administrasie toegedig, maar dit is meer eerlik om die oorsprong van die probleme verder in die verlede te soek.

Die oorloë in Irak en Afghanistan is te wyte aan gebeure in die 1990s en die terroristeaanvalle op 11 September 2001, ‘n skrale 9 maande ná Bush die leisels van Bill Clinton oorgeneem het. Die finansiële krisis is die gevolg van dekades se onverantwoordelike besluite in Wallstraat. Amerika se sosiale probleme is hoofsaaklik te wyte aan ‘n immigrasiebeleid wat reeds dekades lank disfunksioneel is. Die kultuuroorlog tussen regs en links het sy oorsprong in die 1960s. Dit is verder duidelik dat daar nie maklike oplossings vir die VSA se komplekse probleme is nie, en die mees gevaarlike probleem (die finansiële krisis wat reeds verskeie banke geëis het) kan ‘n resessie of depressie veroorsaak.

Met dié skrywe is die Amerikaanse regering besig om ‘n pakket van $700,000,000,000 (700 miljard dollar) saam te stel om te verhoed dat nog banke bankrot speel. Terwyl daar nog politiekery oor die pakket se doelwitte is, is dit duidelik dat een of ander pakket wel aanvaar sal word. Intussen steier die aandelebeurse in die VSA onder die nuus dat groot finansiële maatskappye (Fannie Mae en Freddie Mac), en verder ‘n versekeringsmaatskappy wat gespesialiseer het in die versekering van riskante finansiële transaksies (AIG) en nog drie bekende aandelemaatskappye (Merrill-Lynch, Lehman Brothers en Bear Stearns) bankrot is. Nog banke is bankrot of in die moeilikheid (Washington Mutual, Indy-Mac en Wachovia), en daar word naarstiglik geprobeer om hulle te red.

Wat het gebeur, en wat kan ons nou verwag?

Dat die VSA se ekonomie aan groot risiko's blootgestel was, is nou so duidelik soos daglig. Onlangse opmerkings dat die “fondamentele” van Amerika se ekonomie goed is, was dom en verkeerd. Die VSA se ekonomiese probleme het reeds in die 1950s begin, toe die VSA die grootste ekonomie op aarde was (50% van alle ekonomiese aktiwiteit op aarde was in die 1950s Amerikaans. Hierdie ryk ekomonie (van ‘n sterk land met ‘n bevolking met baie sosiale kapitaal) het ‘n verbruikersklas geskep op wie se skouers rykdom elders gebou is. Die herrysing van Japan se ekonomie, asook Duitsland se ekonomiese wonderwerk in die 1950s en 1960s, is gebou op uitvoere na die VSA, waar verbruikers se geld Japannese en Duitse invoere in rykdom in Japan en Duitsland omskep het.

Die verhouding tussen Amerikaanse verbruikers en winste in Japan en Duitsland is vandag nog geldig, net die rolspelers het verander. Die Amerikaanse verbruiker koop steeds reusehoeveelhede goedere wat in die res van wêreld vervaardig word: Elektroniese toerusting en speelgoed uit Sjina, Korea en Japan, motors uit Japan en Europa, voedsel uit Suid- en Sentraal-Amerika en soms Suid-Afrika, asook klere uit Sjina en Europa. Die verhouding was nie ongesond in die vroeë dekades (1950-1970) nie. Die VSA was self ‘n nywerheidsreus met groot uitvoere na die res van die wêreld (motors, masjinerie, ruolieprodukte, chemikalieë, voedsel en dies meer).

Maar sedert 1970 het iets verander. Die Amerikaanse verbruiker voer steeds dollars uit in ruil vir invoere soos motors en elektroniese ware, maar anders as voorheen verkoop die VSA nie meer genoeg motors, masjinerie, en dies meer, om die invoere te balanseer nie. Die gevolg is ‘n tekort op die Amerikaanse regering se lopende rekening, en die Amerikaanse regering het begin geld leen om hulle begroting te laat klop. Fantastiese hoeveelhede geld is oor die afgelope dekades geleen, en vandag is die totale regeringskuld van die VSA baie triljoene dollar (‘n triljoen dollar is $1,000,000,000,000).

Die handelswanbalans is verder gekompliseer deur die VSA-regering se internasionale politieke doelwitte. Miljarde dollar is oor die laaste vier dekades geskenk as buitelandse hulp aan lande in Afrika, Suid-Amerika en die Midde-Ooste (Afrika alleen het die ekwivalent van vier Marshallplanne in hulp ontvang, met skynbaar geen resultate nie). Die oorloë in Irak en Afghanistan is duur, en kos nie net Amerikaanse lewens nie, maar ook miljarde dollar se toerusting, voorraad, oorlogstuig en ammunisie.

Dan is daar ruolie: Olieproduksie in die VSA neem sedert 1970 af terwyl die vraag na olieprodukte (petrol en diesel) styg. Die tekort word verlig met invoere vanuit die Midde-Ooste en ander OPUL-lande. Teen ongeveer $100 per vat is die totale rekening $700 miljard net oor die laaste jaar, en triljoene dollar oor die laaste 30 jaar. Dit is geld wat die VSA aan vyandiggesinde regerings betaal, wat uiteindelik in Europese banke beland, en wat dit dan op hulle beurt weer aan die Amerikaanse regering en banke leen of, in sommige gevalle, gebruik om Amerikaanse landmerke te koop (soos die Chrysler-gebou wat onlangs deur Abu Dhabi gekoop is). Geld vir olie eindig uiteindelik as Amerikaanse skuld aan die res van die wêreld – inderdaad ‘n ironiese toedrag van sake.

In 2007 het die totale Amerikaanse skuld die 10-triljoendollarmerk verbygesteek, en dit is net die oorsese skuld van die Amerikaanse regering. In teenstelling hiermee is die totale bruto nasionale produk van die VSA ‘n geskatte 13 triljoen dollar in 2007, en word die totale verbandlenings in die VSA tans op 9,2 triljoen dollar geskat.

Die vooruitskatting van die regering se finansïele uitleg aan sosiale programme (medies, pensioene, rente op lenings, en dies meer) beloop om en by ‘n totaal van 40 triljoen dollar meer as die totale geprojekteerde inkomste van die VSA se federale regering oor die volgende 7 dekades. Daar is reeds ‘n algemene erkenning dat hierdie finansiële omstandighede nie volhoubaar is nie, en dat iets êrens sal moet meegee.

Daar word bespiegel dat die ontrafeling van die Amerikaanse huisleningsmark onderliggend is aan die huidige finansiële krisis: ‘n Daling in pryse het die huismark ondermyn, en verkopers vind skielik dat die miljoendollarhuis met ‘n verband van ‘n miljoen dollar, nou net vyfhonderdduisend dollar werd is. Dit is derhalwe nie die moeite werd om die verband af te betaal nie, maar om bankrot te speel en weer voor te begin. Banke wat groot hoeveelhede geld in huislenings belê het, of wat bondels huislenings in die mark in gesofistikeerde finansiële kontrakte gekoop het, het skielik uitgevind dat hulle beleggings byna waardeloos is en onderpresteer. Die aandelebeurse het skerp hierop gereageer, en soos die aandelepryse van banke afgeneem het, het hulle in finansiële moeilikheid beland en moes êrens ‘n reddingsboei soek: Hetsy 'n koper, hetsy ‘n belegger, of selfs ‘n reddingsboei van die regering.

Maar dit is nie die hele verhaal nie. Onderliggend aan die ontrafeling van die huisleningsmark is stygende voedselpryse, wat skerp sedert die begin van 2007 gestyg het, asook stygende werkloosheid in die VSA. Opwaarts neigende voedselpryse en werkloosheid veroorsaak dat leners minder geld het om huise teen geswolle pryse te koop, of om die rente op huislenings te betaal. Dit het huispryse afgedwing en die finansiële krisis veroorsaak.

Waarom het voedselpryse gestyg? Die styging in ruoliepryse het duurder energiepryse beteken (duurder diesel en kunsmis), en die verhoogte insetkostes wat produsente moet dra, word in die pryse van voedsel weerspieël. Dit is dan die gevolge van ‘n stygende ruolieprys: aan die een kant inflasie, en as dit baie styg, dan destabiliseer dit banke en kapitaalmarkte.

Vandag is die VSA finansieel gesproke ‘n kwesbare reus. Die land is belas met ‘n finansiële krisis, is onderworpe aan die soms vyandige houers van haar buitelandse skuld van triljoene dollar, is verder vasgevang in duur oorsese militêre avonture, en moet op die koop toe ruolie teen $700 miljard per jaar invoer, ‘n bedrag wat jaar ná jaar toeneem, en wat danksy die fisiese realiteite onderliggend aan die ontginning van ruolie, nie gaan afneem nie. Die probleme wat die land in die gesig staar, is so skrikwekkend dat die Duitse minister van finansies, Peer Steinbrück, onlangs opgemerk het dat die VSA haar posisie as die wêreld se mees belangrike finansiële sentrum gaan verloor.

D-dag kan vir die VSA kom as die oorsese houers van haar skuld vertroue verloor in haar vermoë om rente op die skuld te betaal. Op daardie dag sal hulle die lenings inroep en dollers begin verkoop. Dit sal die VSA verarm, en waarskynlik ‘n depressie wêreldwyd veroorsaak omdat ekonomiese groei in Sjina en ander wêrelddele steeds op die Amerikaanse verbruiker gebaseer is. Die sosiale en politieke gevolge van so ‘n ontrafeling van die Amerikaanse ekonomie is te verskriklik om oor na te dink.

Intussen is Barack Obama en John McCain in ‘n kop-aan-kopwedloop gewikkel om die volgende president te word. Obama het ‘n sterk kans om McCain te verslaan, en indien hy dit regkry, sal dié ongetoetste man president word van ‘n reuseland met geweldige ekonomiese en miltêre probleme. Die president sal nie net die ekonomie moet red om sosiale onrus te voorkom nie, maar sal ook internasionaal met vyandiggesinde en onstabiele regerings te doene kry. Op dié gebied is McCain baie beter toegerus as Obama, maar die Amerikaanse verkiesing sal uiteindelik beslis word op enkele aangeleenthede: die oorlog in Irak, die finansiële krisis, en dan natuurlik ook die tenore kwaliteit van Obama se stem en McCain se ouderdom. Amerikaners sal uiteindelik net kry wat hulle verdien, maar ek kan nie dieselfde oor die res van ons sê nie.

тамбов мебельАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.