SAID-hoof dalk weer geskors

Deel op

Ivan Pillay, adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), kan weer geskors word net enkele dae nadat sy vorige skorsing tersyde gestel is, berig die Sunday Times.

Volgens die berig het Pillay Vrydag ‘n skorsingskennisgewing ontvang waarvolgens hy tot 12 Januarie het om redes aan te voer oor hoekom hy nie geskors moet word nie.

Die arbeidshof in Johannesburg Donderdag beveel het dat Pillay se aanvanklike skorsing tersyde gestel moet word.

Pillay is deur Tom Moyane, hoof van die SAID, geskors nadat hy ‘n paneel aangestel het om bewerings te ondersoek oor ʼn spesialeprojekte-eenheid se beweerde onwettige aktiwiteite.

Volgens die Sunday Times se berig moet Pillay geskors word aangesien hy met bewyse kan peuter tydens die ondersoek, soos hy al glo voorheen gedoen het.

Pillay word daarvan beskuldig dat hy ʼn sleutelrol gespeel het in die oprig van ʼn geheime intelligensie-eenheid binne die SAID ondanks die feit dat hy geweet het dit is ongrondwetlik.

Hy het na bewering die SAID in oneer gebring deur die “skelm gedrag van diegene wat aangestel is om onwettige bedrywighede uit te voer te magtig, of versuim om dit te verhoed”.

Volgens die berig het Pillay op bedrieglike wyse vroeë aftrede misbruik vir finansiële gewin en verkwistende en nuttelose uitgawes aangegaan.

Pillay en Peter Richer, groephoof van risiko en beplanning, het die arbeidshof genader nadat hulle op 5 Desember deur Moyane geskors is. Richer het egter ʼn skikking met die SAID bereik waarna sy skorsing tersyde gestel is.

Die Minister van Finansies Nhlanhla Nene sê hy is in konsultasie met die kommissaris van die Inkomstediens, Tom Monyane, oor hoe om die hartseer hoofstuk af te sluit.

Nene sê hy sal nie toelaat dat die onlangse gebeure die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ontspoor nie.

Hy het onderneem om te verseker dat die Inkomstediens ‘n model-instelling bly.

Die minister sê hy sal aan die einde van aanstaande maand ‘n aankondiging maak oor die pad vorentoe.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.