Demokrate hoop op Spaanse stemme met Kuba-besluit

Deel op

Die gesamentlike aankondigings in Washington en Havana deur pres. Barack Obama en pres. Raul Castro dat Amerika en Kuba volle diplomatieke bande gaan herstel, is as “geskiedkundig” bestempel.

Kuba was voorheen ‘n bondgenoot van Rusland.

Die VSA hoop om hul betrekkinge met Latyns-Amerika te verbeter. Pres. Obama sal volgende jaar die spitsberaad van die Amerikas in Panama bywoon omdat Amerika se betrekkinge met Kuba nie meer die enigste onderwerp op die tafel sal wees nie.

Die Verenigde Nasies stem jaarliks ’n resolusie wat vra vir die opheffing van die embargo.

Met die jongste verwikkelinge sal struikelblokke in betrekkinge met nie net Kuba nie, maar met ver­skeie Spaanssprekende lande verbeter, hoop die VSA.

Diplomatieke bande tussen die twee lande kom nadat die VSA die Koue Oorlog-anachronisme in Oos-Europa en veral in die Oekraïne laat herleef het met militêre hulp aan die junta en die instelling van sanksies teen Rusland.

Lidlande van die Verenigde Nasies, het deurlopend beroepe vir die opheffing van die ekonomiese, finan­siële en handelsblokkade teen Kuba en die normalisering van handelsbande tussen die twee lande gedoen.

Die VSA beplan om wetgewing aangaande die blokkade teen Kuba, sanksies en ander reisbeperkinge op te hef, terwyl hulle juis sulke maatreëls teen Rusland implementeer.

Amerika het Kuba kort gelede nog gekritiseer oor die land se swak menseregterekord, alhoewel Obama Castro se hand geskud het by die Wêreldbekersokkertoernooi in Suid-Afrika in 2010.

Mediaberigte is dit eens dat heelwat Kubaans-Amerikaners ongelukkig voel oor die jongste aankondiging.

Dit mag ‘n struikelblok wees vir voorgestelde wetgewing wat in die Amerikaanse kongres en senaat voorgelê sal word om volle diplomatieke bande te herstel en die handelsverbod op te hef.

Vir Amerika is dit belangrik om die diplomatieke betrekkinge te herstel wat in Januarie 1961 verbreek is. Sodoende sal nuwe gebiede vir wedersydse kontak tussen Amerikaners en Kubane geopen word wat kommersieel en finansieel voordele inhou.

Stappe om dit vir Kubane makliker te maak om met die buitewêreld te kommunikeer, word ook in die vooruitsig gestel. Internet-penetrasie in Kuba is onder die laagste in die wêreld, omdat die land in die verlede nie die nodige toerusting kon invoer nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.