EU kan sanksies teen Rusland ophef

Deel op

Die Europese Unie kan die moontlikheid van die opheffing van sy sanksies teen Rusland oorweeg as die Oekraïne se territoriale integriteit behoue bly, het die Duitse kanselier Angela Merkel Vrydag gesê.

“Ons sal sien of daar enige vordering in hierdie rigting is. Dan kan ons in die rigting die opheffing van die sanksies beweeg,” het sy tydens ‘n nuuskonferensie gesê ná ‘n vergadering van EU-leiers in Brussel.

Merkel het beklemtoon dat die EU sanksies teen Rusland ingestel het in reaksie op verwikkelinge in die Oekraïne.

Die sanksies kan moontlik opgehef  word teen vroeg aanstaande jaar. ‘n Diplomatieke bron in Brussel het Vrydag gesê staatshoofde asook die Europese Unie sal die Minsk-vredesooreenkoms met belangstelling volg en die moontlikheid van die opheffing van die blok se sanksies teen Rusland op ‘n beraad in Maart 2015 oorweeg.

“Sekere sanksies teen Rusland, kan opgehef kan word op ‘n EU-beraad in Brussel in Maart,” het die bron gesê.

Merkel het ook gesê sy hoop dat die EU-lande ‘n gekonsolideerde posisie sal nastreef.

Die Russiese president, Wladimir Poetin het intussen Westerse sanksies blameer vir die daling van die Russiese geldeenheid.

“Dit is die koste van ons natuurlike begeerte om Rusland te bewaar as ‘n volk, ‘n beskawing en ‘n staat,” het Poetin gesê. Hy het gesê dit het ook weinig met die verwikkelinge in die Krim te make gehad.

“Die Weste het ‘n anti-Russiese houding gehad lank voor die huidige krisis [in die Oekraïne] begin het,” het Poetin gewaarsku. Die bewyse is daar, het hy gesê, wat wissel van “direkte ondersteuning van terrorisme in die Noord-Kaukasus,” tot die uitbreiding van die NAVO en die oprigting van missielstelsel in Oos-Europa, en die manier waarop die Westerse media die Olimpiese Spele in Sochi kwaadwillig gedek het.

Selfs al sit die Russiese beer stil en eet sy bessies en heuning, sal die druk nie ophou nie, het die president gesê. Hy het gesê die Weste wil die Taiga plunder. Daarvoor moet hulle die beer “vasketting, en as hy vasgeketting is, sy tande en naels uitskeur”.

Die roebel het die laaste ruk rekord-laagtepunte bereik. Poetin het op sy jaareind-nuuskonferensie in Moskou gesê die huidige krisis sal op die langste, twee jaar duur.

Hy is van mening dat die Russiese ekonomie vroeër kan herstel indien eksterne faktore verbeter.

Die roebel se waardevermindering beïnvloed tans die rand weens soortgelyke kommoditeituitvoere asook hul ontluikende markstatus.

Die Amerikaanse Senaat het intussen ‘n oorlogsugtige wet bekragtig dat sanksies teen Rusland moet verskerp word. President Obama het die wet van sy handtekening voorsien.

Die Amerikaanse regering sal aan die Oekraïne ook swaar militêre toerusting ter waarde van $350 miljoen lewer.

Rusland het die wet as ‘n uiterste provokasie beskryf wat tot konfrontasie sal lei as diplomasie nie seëvier nie.

Die Amerikaanse minister van buitelandse aangeleenthede John Kerry en sy Russiese eweknie Sergei Lafrow sal op 15 Desember in Rome ontmoet.

Die VSA het pas sanksies teen Kuba opgehef, “omdat dit nie werk nie”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.