‘n Boer, Freddie Tolman, 52, is Woensdag in die jongste plaasaanval buite Hartenbos in die Wes-Kaap doodgeskiet.
Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê Tolman het Woensdagoggend sy werkers gaan haal toe hy in ‘n lokval gery het.
Die aanvallers het ‘n stomp in die pad gerol, en ‘n groep van vermoedelik ses mans het op hom losgebrand toe hy aanhou ry het.
Pojie het gesê Tolman is dood aangetref in sy bakkie langs die Brandwag-Hartenbos-pad. Hy is in die bolyf geskiet.
Die aanvallers het daarna ‘n paartjie gekaap wat van Brandwag na Hartenbos onderweg was, en in hul voertuig gevlug.
“Die polisie het die voertuig naby die Danabaai-afrit in Mosselbaai gevind. Die paartjie is nie beseer nie.”
Pojie het intussen die publiek gevra om die polisie te kontak indien hulle enige inligting het oor die voorval.