Nigeri?: Hoogs vlambaar

Deel op

Die toekoms van Afrika se dig bevolkste en grootste olieprodusent lyk deesdae minder rooskleurig. Dit wil voorkom asof die donker wolke van die vasteland se soveelste burgeroorlog besig is om in die Nigerdelta op te steek. Indien grootskaalse binnelandse konflik in Nigerië wel vermy kan word, sal politieke spanninge nietemin vir ‘n uiters stormagtige toestand in die afsienbare toekoms sorg.

Deel op
Dié land, wat ongeveer 250 verskillende etniese groepe omvat, beleef sedert 1999 ‘n burgerlike bewind en bypassende nuwe grondwet wat danksy internasionaal erkende verkiesings ‘n relatief stabiele bestel kon verseker.

Dat Olusegun Obasanjo besluit het om ‘n grondwet-amendement aan te bring om hom in staat te stel om nog ‘n termyn aan te bly ná 2007 se verkiesings, het teenstanders asook ondersteuners van die president egter aan die mor en word hy deesdae onvleiend met sy voorganger genl. Sani Abacha, bewindhebber van die vorige ongewilde militêre diktatuur, vergelyk.

Obasanjo het veral die Moslemstem in die noorde van die land nodig om weer te wen en tot dusver het sy visepresident wat daardie ondersteuning verseker, Atiku Abubakar, nog nie aangedui dat ‘n derde termyn vir hom ‘n lastigheid sal wees nie. Waarskynlik beskou Abubakar dit eerder as ‘n geleentheid om sy mag verder uit te brei as die stemme in 2007 getel word.

Die derde termyn-kwessie is egter besig om in ‘n probleem te ontaard wat nie net ‘n opvolgstryd behels nie, maar ook ernstige woelinge rondom die land se dalende olieproduksie insluit. Sedert die begin van die jaar waarsku ontleders dat die sporadiese aanvalle en sabotasie op pyplynolietoevoer verder uitgebrei sal word na olieplatforms naby die kus vanweë politieke onrus en dat dit die prys van ru-olie verder nadelig sal beïnvloed.

Die eertydse geloof dat ru-olieplatforms net af van die kus van Wes-Afrika dus minder politieke risiko inhou as die vasteland self is besig om in oliekringe ernstig heroorweeg te word. Aanvallers slaag al daarin om met behulp van gemotoriseerde rubberbootjies sover as 50km van die kus toe te slaan en skade aan te rig.

Nigerië voorsien o.a. die VSA van ‘n vyfde van sy ru-olieinvoere en lewer ‘n besonder lae-swaelinhoud, oftewel ‘n "soet" ru-olie, wat teen ‘n lae raffineringskoste na goeie gehalte brandstof omgeskakel kan word.

Die Ijo-etniese groep, histories die slawehandeltussengangers tussen Europese en swart binnelandse slawehandelaars, wat toevallig ook onder die diktator Abacha kon floreer, voel soos talle regeringsopponente die kontantknyp van Nigerië se olieproduksieprobleme en ontoereikende regering. Hulle antwoord daarop is ‘n toenemend goed georganiseerde guerillamag by name MEND (Movement for the Emancipation of the Niger Delta).

Hierdie geheimsinnige guerilla-vegters word deur kenners as heel effektief beskou. Hul beweeglikheid, vuurkrag en presisie is besig om die wêreld se oliemarkte te laat kennis neem van hul voorneme om, soos dit aan die begin van die jaar gestel is, "Nigerië se olieuitvoerkapasiteit heeltemal te vernietig". Daar word voorts bespiegel dat opleiding en vaardighede vanaf die insurgensieoorlog in Irak uitkring en stadig maar seker na ander potensiële konflikgebiede oorspoel.

Die burgerlike bewind in Nigerië het ook intussen nie veel gedoen om hul enorme olie-inkomste meer verstandig aan te wend as die vorige militêre een nie. Hulle is daarom nie verniet saam met lande soos Tsjad en Haïti amper heel onderaan die 2005 korrupsie-indeks van die Berlynse kantoor van Transparency International nie.

Shell, wat verantwoordelik is vir die helfte van Nigerië se ru-olieproduksie, het in 2004 ‘n studie befonds waarin aangetoon word dat die per capita-inkomste van die streek waaruit die guerillas vandag gewerf word onder die nasionale gemiddeld van $260 val en dat werkloosheid op sekere plekke daar 90% oorskry. Die ironie is dat die oliemaatskappy se moeite en onkoste vandag dubbel en dwars met terreur deur dieselfde inwoners beloon word.

Van ‘n problematiese buitelandse betrokkenheid deur oliemaatskappye in Nigerië is daar natuurlik reeds lankal sprake ná die teregstelling van die aktivis Ken Saro-Wiwo wat die onderdrukking en uitbuiting van etniese minderhede in die olieryke Nigerdelta te berde wou bring. Shell se simpatieke houding teenoor die vorige bewind was destyds ‘n steen des aanstoots vir vele. Selfs ANC-simpatiseerders het in 1995 op ‘n boikot van Shell in Suid-Afrika aangedring!

Daarom sal verskerpte terreuraksies deur ‘n etniese minderheid in die delta nie noodwendig onsimpatiek deur die buitewêreld bejeën word nie. ‘n Stygende olieprys sonder twyfel wel. In hulle aksies tot dusver het die guerillavegters wonder bo wonder ook die steun van die plaaslike bevolking behou en dit vergemaklik nie die taak van Nigeriese regeringsmagte om die weerstand kort te vat nie.

Met die aanhouding van buitelandse gyselaars het die selfaangestelde guerillasegsman, Jomo Gbombo, gesê dat Shell toestemming aan regeringsmagte verleen het om hul militêre helikopters op Shell-eiendom te laat land en bygevoeg dat daar geen tekort is aan "dinge om te vernietig" om dié samewerking te beëindig nie.

Die wêreld se derde grootste oliereus het reeds 330 werknemers landuit gestuur en vier pompstasies gesluit nadat hulle ontvoerings van personeel moes trotseer wat agterna as gyselaars aangehou is. Dié maatskappy rekruteer blykbaar nou teen ‘n astronomiese koste "gesoute" vrywilligers, om hul bedryf in die Nigerdelta aan die gang te hou.

Daar is sprake dat die eerste drie maande vir gewone vrywilligers teen $100 000 per maand vergoed word en $500 000 kontant op die tafel word aangebied vir enige vaste kontrak daarna. Desnieteenstaande is Shell se produksie met ‘n geraamde 10% ingekort vanweë hierdie probleme. Sommige ontleders meen dat dit selfs 20% mag wees. In elk geval word ‘n aansienlike 650 000 vate per dag minder uitgepomp omdat toestande so onveilig en onstabiel vir alle betrokkenes in die gebied geraak het.

Omdat Shell nie sy voorsieningsverpligtinge kontraktueel kan nakom nie word die juridiese skuiwergat van force majeure tans gebruik om die daling in produksie a.g.v. voortslepende onrus, te dek. Daarvolgens verklaar Shell dat omstandighede buite beheer van die maatskappy veroorsaak dat verliese gelei word om eisers te ontmoedig.

Die "sukses" wat met Shell behaal is, het kennelik daarvoor gesorg dat MEND op 12 Mei 2006 d.m.v. ‘n epos aan Reuters aangekondig het dat die wêreld se grootste gasomskakelingsaanleg volgende in die slag gaan bly. Die aanleg is op Bonny-eiland geleë van waar die 20 tot 30 miljard kubieke meter opbrengs per spesiaal ingerigte tenkskepe na verskillende verre bestemmings reis. Japan, Suid-Korea en Taiwan staan boaan die lys van hierdie aardgas-invoerders.

Dié aardgasaanleg staan bekend as die Nigeria Liquefied Natural Gas (NLNG) en vyf van die beplande ses stelsels skakel hoofsaaklik metaangas na ‘n vloeibare en sodoende meer vervoerbare produk om.

Onlangs was Rusland se voorsiening van dié immer gewilder en skoner vorm van energie aan die EU in die nuus toe die Russiese voorsiener Gazprom gedreig het om die krane toe te draai indien die EU nie meer opdok nie. Dat betroubare energievoorsiening ‘n aller belangrike politieke hefboom geraak het, is geen oordrywing nie.

Dít het die MEND-guerillamag in Nigerië beslis verstaan. Voorheen was oliepyplynsabotasie eerder gemik op sogenaamde "bunkering" of kleinskaalse diefstal en van die ontploffings waarin dikwels soveel as 200 onskuldiges met hul lewens moes boet, is deur onbeholpe en haastige diewe veroorsaak en was nie noodwendig beplande terreur nie.

Die saboteurs was hoofsaaklik daarop uit om hul invloed of kontantvloei of verkieslik albei te verhoog en die ontploffings min of meer "bonusse" vir die aanvallers omdat dit in die media aangekondig is. Die inwoners wat direk onder die onbeholpe sabotasie moet ly, neem blykbaar steeds nie die daders kwalik vir die gepaardgaande lewensverlies nie.

Ten spyte van voortdurende etniese wrywing en godsdiensverskille in Nigerië word godsdienstige aansprake met minder toewyding gevoer as byvoorbeeld in die Midde-Ooste; gelukkig het allerlei beswaardes nog geen selfmoordbomdraers opgelewer om sulke ongelukke te wreek nie.

Daardie voordeel mag binnekort iets van die verlede wees. ‘n Gelukkie wat MEND tref kan aansienlike buitelandse druk op die regering plaas om gehoor te gee aan oplaaiende binnelandse eise. Soos dit in Afrika gaan, sal dit sonder die sterk man Obasanjo of sy opvolger, feitlik onmoontlik wees om aan ‘n uiteenlopende aantal stemme gelyk gehoor te gee.

Die stygende oliepryse en sterk energie-aanvraag wink. Die tafel is gedek vir ‘n felle stryd en Obasanjo is nie sonder meer verseker van sy Westerse steunpilare nie omdat nog ‘n termyn vir hulle ongetwyfeld ‘n verleentheid sal wees.

Wat seker is, is die feit dat vloeibare aardgas hoogs vlambaar kan wees.

всероссийская федерация парусного спортаФільчаков Олександр Васильович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.