Albert Schweitzer, die groot wit toordokter

Albert Schweitzer het die Nobelprys vir vrede vanweë sy liefdadigheidswerk in die Franse Kongo ontvang. Tegelyk is hy egter ook omstrede oor sekere opmerkings wat hy oor swartmense gemaak het. In Afrikaans is daar ‘n gewilde biografie oor hom deur M.Z. Thomas, Albert Schweitzer – van kind tot man vanuit Duits vertaal en deur HAUM iewers in die sestigerjare gepubliseer. Hier volg ‘n uittreksel daaruit wat spreek van die kultuurverskille wat hy in sy drif om goed aan ander te doen, moes trotseer:

Schweitzeromslag“Al wat my bekommer, is waar ek moet praktiseer,” sê Albert terwyl hy sy boeke en instrumente begin uitpak. “Die sendingstasie is bereid om vir my ‘n spreekkamer te bou, maar daar is geen werkers nie!”

Maar onbekommerd oor sy sorge klink die tromboodskappe oor oerwoud en grasvlakte: ‘n Groot wit oganga het aangekom. Hy woon in Ovemboe Wango in Lambarene en sal alle siekes genees. ‘n Oganga is ‘n towenaar en toordokter, en dis al wat hulle Albert Schweitzer ook noem… Alles wat die toordanse en hekserye van die swart toordokters nie kan genees nie, word na die Ogowe geneem en honderde myle stroom-af en stroom-op vervoer na die heuwel waar die wit oganga onder sy groot trope-helm op die groen gras staan en af en toe onverstaanbare woorde in die digte bos van sy snorbaard brom terwyl sy blou oë vorsend rondom hom kyk…

In Lamberene gryp Albert die graaf, en met vyf pikswart medewerkers begin hy die grond gelyk maak vir ‘n hospitaal. Albert moet egter nog leer dat daar ‘n groot verskil is tussen die werkvermoë van die negers en die Elsasser-boere. Hy moet alles self doen. Hy is nou al tuinier, timmerman, boumeester en apteker.

Eers word ‘n sementvloer gegooi, en dan verrys die gebou. Helene help met die inrigting van die twee groter vertrekke, en twee klein kamertjies wat as laboratorium en apteek moet dien. Die hele hospitaal sou maklik in ‘n middelslag-operasiesaal van ‘n kleinerige kliniek pas, maar daar is nie genoeg geld vir ‘n groter gebou nie. Van ruwe hout en palmblare bou hy negerhutte. Een word sy wagkamer, ‘n ander is ‘n siekesaal vir die bedlêende pasiënte, en in die derde moet Joseph woon. N’Zeng het met vakansie gegaan en nie teruggekeer nie.

Helene sorg vir die narkose by elke operasie en verder is sy verantwoordelik vir die linne, die verbande en instrumente, asook die huishouding.

Die narkose was die sensasie van die oerwoud. Op die sendingskool skryf die meisietjies: Vandat die dokter hier is, gebeur snaakse dinge. Hy maak eers die siekes dood. Dan genees hy hulle en maak hulle weer wakker.

Die geneesdes is ook dankbaar. Een van hulle gee aan mevrou Schweitzer ‘n seekoeivel-sambok. Wat sy eintlik daarmee moet doen, is vir haar nie duidelik nie. ‘n Ander een bring twintig frank “om die oganga vir die duur garing te betaal waarmee hy my maag toegewerk het”. Ander betaal weer met piesangs en broodwortel. Maar die merendeel van die pasiënte reken dat hulle die oganga niks skuld nie, maar dat die oganga húlle iets skuld. Het hulle hom nie hul vertroue geskenk nie? En hul tande gegee? Hou hy nie die dinge agter wat hy uit hul liggame gesny het nie? Nou verwag hulle dat hy hulle iets moet skenk – iets soos towermedisyne.

As Schweitzer hulle iets saamgee, verduidelik hy lank en noukeurig hoe hulle die medisyne moet gebruik. Joseph vertaal woord vir woord, en Schweitzer skryf nog weer groot op die dosies en die flesse hoe hulle die medisyne moet gebruik, maar heimlik vrees hy gewoonlik dat hulle die poeier wat hulle moet drink, op hul vel sal vryf, of die medisyne wat hulle druppelsgewys meot gebruik, met een teug sal drink, of die salf sal eet.

Maar die ander wat niks kry nie, word afgunstig. Op ‘n raaiselagtige manier verdwyn belangrike boeke uit sy studeerkamer. In ‘n verafgeleë dorp dra ‘n klomp singende mans ‘n kosbare skat, sorgsaam in palmblare toegewikkel, na hul hoofman. Die wit oganga het hulle genees, en hulle het die geheim van sy towerkuns saamgebring. Glimlaggend maak hulle die pakkie oop en haal ‘n groot boek uit. Op die omslag staan:

DIE MEISTERSINGER VAN NÜRNBURG
deur Richard Wagner, Klavieruitgawe.

Die hoofman bewaar die groot toorboek sorgvuldig. Nou sal een van hulle mos nie weer siek word nie. In ‘n ander dorp hou swart mans versigtig wag oor Bach se Matthéüs-passie. Vir Schweitzer was die boek onvervangbaar, maar vir die bygelowige oerwouddorp nog meer. Dit is mos ‘n boek met groot towerkrag. Die bose geeste en seiktewurms sal nou mos nie meer die dorpsbewoners oorval nie!

As Schweitzer Sondae preek, het hy al weer die diefstalle vergewe, al het dit ook hoe moeilik gegaan, en al kan hy nie begryp to watter nut die Matthéüs-passie vir hulle kan wees nie. Hy bid saam met sy melaatses en watersugtiges en rumatieklyers, en in die skaduwee van die palms en mangobome verkondig hy aan hulle die evangelie van die liefde: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Hy skryf briewe na Günsbach, Straatsburg en Parys, briewe wat gedrenk is in die gloed van die Afrikaanse son, en elke brief is ‘n erkenning dat hy reg gehandel het deur na Afrika te gaan. (bll. 90-92)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.