Gyselaarsdrama in Sydney

Deel op

‘n Gyselaarsdrama ontvou tans in Sydney, Australië. Volgens praag se plaaslike verteenwoordiger in die stad, het “‘n vrou, vermoedelik ‘n polisievrou wat nie aan diens was nie, ‘n geweerkolf opgemerk in die rugsak van ‘n man wat die Lindt-sjokoladewinkel in Martin Place binnegegaan het ongeveer 9:45 vanoggend. Sy het dadelik  alarm gemaak. Volgens die Lindt-baas is daar 50 mense, hoofsaaklik koffiekopers, in die winkel en hulle is beveel om teen die venster te staan met hulle hande teen die venster. Al-Noesra se vlag is bo hulle koppe vertoon. Die Federale polisie van Nieu-Suid-Wallis het die gebied ontruim en dit wemel van swaar gewapende polisie.”

Taakmag- en onluspolisie buite die kafee in Sydney
Taakmag- en onluspolisie buite die kafee in Sydney

Al-Noesra is ‘n Midde-Oosterse terreurgroep wat in Sirië en Libanon aktief is, veral in die Siriese burgeroorlog wat deels deur die VSA en VK gesteun word in ‘n poging om die bewind van president Basjar al-Assad omver te werp.

Die polisiekommissaris van Nieu-Suid-Wallis, Andrew Scipione, sê dat die owerheid nog nie regstreeks met die gyselaarnemer in verbinding was nie. Tot dusver duur die gyselaarsdrama reeds vier ure lank.

Volgens die plaaslike CNN-verwante televisienetwerk, Seven Network, word ten minste 13 mense in die Lindt-sjokoladekafee aangehou. Die netwerk het ook ‘n foto van die mense binne-in die kafee gepubliseer wat ‘n swart vlag met Arabiese skrif vashou. Op die vlag staan daar: “Daar is geen God behalwe God nie en Mohammed is die profeet van God.”

Videomateriaal toon mense, vermoedelik gyselaars, wat met hul hande teen die vensters druk.

Die Australiese eerste minister Tony Abbott het aan verslaggewers gesê dat die owerheid nog nie weet wat die persoon motiveer wat vir die toestand verantwoordelik is nie.

“Ons weet nie of dit polities gemotiveer is nie, hoewel daar ooglopend sekere aanduidings is dat dit wel die geval kan wees,” het hy gesê.

Die eerste minister het bygevoeg: “Die hele punt van polities gemotiveerde geweld is om mense te terroriseer om nie hulself te wees nie. Australië is ‘n vreedsame, oop en vrygewige samelewing. Niks moet dit ooit verander nie.”

Hy sê dat meer inligting vrygestel sal word sodra dit beskikbaar raak.

Twee Amerikaanse amptenare is ook reeds oor die voorval in kennis gestel. Daar is ten minste een gewapende verdagte betrokke en tot dusver is sy motief nie bekend nie, volgens hulle. Die Amerikaanse president, Barack Obama, is ook oor die situasie in kennis gestel.

Die kafee is geleë te Martinplein in Sydney se sentrale sakegedeelte.

Video-opnames toon polisie- en noodpersoneel op die toneel, terwyl ‘n aantal strate reeds afgesper is.

Die Martinpleinstasie is reeds toegemaak en sekere kantore is as ‘n voorsorgmaatreël ontruim, volgens die polisie. Hulle raai mense aan om van die toneel weg te bly.

‘n Redakteur van die koerant, The Australian, was self vanoggend in die kafee. Hy het kort voor die beleg vertrek.

“Toe die polisie aanstorm en die gebied ontruim, het ek omgedraai en ‘n man teen die venster gesien, met sy gesig na my toe en my sy hande in die lug.

“Eers het ek gedink dit was die gewapende man wat op die polisie reageer – maar het binnekort tot die aaklige besef gekom dat die kliënte aangesê word om teen die vensters te staan,” skryf Kenny in die koerant.

“Terreur het die hart van Sydney binnegedring,” sê hy.

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.