‘n Groot aantal roubeklaers word by die diens van die voormalige biologie-onderwyser van Grey Kollege in Bloemfontein verwag.
Pierre Korkie is verlede naweek in ‘n mislukte ontsettingspoging deur die VSA in Jemen dood tesame met ‘n Amerikaanse aangehoudene.
Die Amerikaanse State Department het intussen in ‘n verklaring gesê hulle was nie daarvan bewus dat ‘n Suid-Afrikaner aangehou word nie.
Yolandé en Pierre is in Mei 2013 in Taiz, Jemen, as gyselaars geneem, maar die ontvoerders het haar in Januarie vanjaar sonder ’n losprys vrygelaat.
Die roudiens vind om 10:00 op Vrydag plaas.
Johan Volsteedt, gewese skoolhoof van Grey Kollege, Pierre Korkie se kollega, sal as spreker by die roudiens optree.
Na verwagting sal heelwat oudkollegas en oudleerlinge die diens bywoon.
Korkie se vrou, Yolandé, het Dinsdag by ‘n mediakonferensie in Johannesburg gesê daar is talle vrae oor haar man se dood, nadat sy oorskot op Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria aangekom het.
Korkie word oorleef deur sy vrou Yolandé en die egpaar se kinders, Lize-Marie (15) en Pieter-Ben (17).
Sy twee kinders het tydens die mediakonferensie strak voor hulle uitgestaar.