Kees gryp vierjarige

Deel op

‘n Vierjarige dogtertjie is verlede Woensdag vir etlike meter aan die arm gesleep toe sy deur ‘n bobbejaan by ‘n bekende piekniek-plek in die Nasionale Kruger-wildtuin (NKW) gegryp is, het die Lowvelder berig.

‘n Oog-getuie, mnr. Theuns Koen, het aan Laevelder vertel hoe ‘n groot bobbejaan, waarskynlik die brandwag, die kind by die Nkuhlu-piekniekplek gegryp het en sowat vier meter ver met haar gehardloop het, voordat hy haar neergegooi het.

Volgens Koen het sy langs haar ouma geloop toe die dier haar gryp.
“Ek het met ‘n besemstok op hom afgestorm en hy het haar gelukkig gelos. Sy het geen bytmerke aan haar lyfie gehad nie, maar was erg getraumatiseerd.”

Koen het vroeër onder dieselfde trop deurgeloop toe hy saam met familie en vriende by dié plek – tussen Laer Sabie en Skukuza – gestop het.

“Ons het net die vleis op die rooster gehad en die tafel klaar gedek, toe vyf bobbejane op ons afstorm. Hulle het uit alle rigtings op ons toegesak.

Een het bo-op my vriendin se rug gespring, die glas uit haar hand gestamp en daarna met die broodrolletjies weggehardloop.”

Volgens Koen het hulle met hul aankoms die diere opgemerk, maar is ‘n besemstok gegee om hulle te verjaag. “Die personeel het gesê die bobbejane is bang vir die besemstokke, maar dit was beslis nie die geval nie.” “Ek is die duiwel in en het besef hier kan ‘n mens nie meer stop nie. Dié plek sal my nie weer sien nie,” het hy gesê.

Volgens Koen was daar wel ‘n man wat die area gepatrolleer het, maar dié was aan die ander kant van die kamp. Daar is ook geen waarskuwingstekens nie, – slegs ‘n “geen alkohol”-kennis-gewing.
Laevelder het die wildtuin gekontak en alhoewel daar volgens mnr. Oubaas Coetzer, kommunikasiewoordvoerder van die Skukuza-polisiestasie, geen amptelike klagte ingedien is nie, dra die park wel kennis van die bobbejaan-probleem by Nkuhlu.

Volgens dr. Freek Venter, bestuurder van bewaringsbestuur van die NKW, is hulle reeds besig om aandag aan die probleem te gee.

“Daar is ‘n voerplek vir die bobbejane gemaak en ‘n groot vanghok is gestel.”

“Ons hoop om hulle binnekort te hervestig.”

Venter het ‘n beroep op besoekers gedoen om geen diere te voer nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.