Agri SA het Dinsdag gesê dat ‘n nasionale minimumloon tot werksverliese sal lei.
“Dit sal uiters kortsigtig wees, selfs onmenslik, om nie die desperate toestand te erken waarin baie Suid-Afrikaners hulself bevind nie,” het Johannes Möller, president van Agri SA, gesê.
“Ons kan as individue en as ‘n land beslis nie onsself blind hou vir die absolute armoede of selfs nog erger, dat mense nie kos het nie.”
Hy het gesê ʼn verhoging van 52% in die minimumloon in 2013 in die landbousektor, het die reeds merkbare afname in werkverskaffing in die bedryf veroorsaak.
Hy het bygevoeg dat die voorstanders van ‘n nasionale minimumloon klaarblyklik nie verstaan dat produktiwiteit die vlak van welvaart bepaal nie. Om bloot lone op hoër vlakke te stel, is nie die oplossing nie.
Möller meen dat selfs die huidige minimumloon die werksgeleenthede vir veral ongeskoolde werkers, nog verder kan belemmer.
“Dit oortree die edele doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan vir die bedryf om teen 2030 een miljoen poste te skep,” het hy gesê.
“Wat ons wel benodig, is ‘n arbeidsmag wat beter opgelei is, arbeidsmarkte wat nie so streng is nie en ‘n benadering wat ekonomiese mededinging sal aanmoedig.”
Hy het gesê om meer geld te skep is alleen oor ‘n baie kort termyn geldig. “Oor die lang termyn skep dit die illusie van meer geld sonder voordele,” het Möller gesê.
Sy pleidooi sal waarskynlik op dowe ore val, aangesien AgriSA in ‘n linkse diskoers verstrengel geraak het oor grondhervorming.