Suzman verklaar teater ‘n ‘wit uitvinding’

Deel op

Een van Brittanje se mees vooraanstaande aktrises het teater as ‘n “wit uitvinding” beskryf wat alleen in die DNS van die Kaukasiese ras bestaan.

Dame Janet Suzman, bekend vir haar Shakespeare-rolle, het gereageer op die menings van Meera Syal, ‘n Britse-Asiatiese komediant, wat verlede week teatermaatskappye gevra het om meer te doen om die Verenigde Koninkryk se Asiatiese gemeenskap te betrek.

Suzman het ook gekla dat etniese minderhede eenvoudig nie na die teater gaan nie, want dit is nie deel van hul kultuur nie. Sy is in Suid-Afrika gebore. Haar tante was Helen Suzman.

“Ek het pas ‘n Suid-Afrikaanse toneelstuk gedoen. My medester is ‘n jong swart man uit die krotbuurte van Kaapstad. Heeltemal ‘n briljante akteur! Ek het een swart gesig in die saal gesien, in die Print Room [Londonse teater],” het sy gesê.

“En hulle het nie blêddie opgedaag nie. Hulle is nie geïnteresseerd nie. Dit is nie in hul kultuur nie, dis hoekom. Net soos hulle goed nie in wit kultuur is nie,” het sy bygevoeg.

Haar uitlatings kom te midde van die Britse regering se waarskuwings dat kunste-organisasies hulle befondsing kan verloor as hulle nie diversiteit in hul instellings nastreef nie.

Nuwe planne deur die Verenigde Koninkryk se Kunsteraad, UK Art Council, sal organisasies dwing om planne te implementeer om meer inklusief te wees wat ander etniese groepe betref omdat hulle oor die algemeen swak in die kunste en die media verteenwoordig is.

In reaksie op Suzman se kommentaar, het Syal, een van Brittanje se mees prominente akteurs, gesê sy het nog “nooit van ‘n enkele ras of kultuur gehoor wat teater” as hul eksklusiewe uitvinding voorhou nie.

Sy het ook gesê daar is ‘n “meer diepgaande” bespreking ten opsigte van gehore nodig.

Ander bekendes in die Britse kunste was geskok deur Suzman se kommentaar, en het gesê teaters moet beter maniere vind om inklusief ten opsigte van etniese groepe te wees.

Suzman het na kritiek aan die BBC gesê sy stem eintlik saam dat teater getransformeer behoort te word en dat verhoogstukke aangebied word wat nie ‘n “ryk, wit middelklas” gehoor sal lok nie.

Sy het gesê haar opmerkings was nie “genuanseerd” aangebied nie. Sy het bygevoeg dat ras nie “goeie” teater beïnvloed nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.