Eksdom het ‘vergeet om diesel te koop’

Deel op

Eskom het gister erken dat dié maatskappy “nagelaat het om diesel aan te koop”, wat tot die naweek se wydverspreide beurtkragsessies gelei het. Dog verdere kragprobleme is steeds op pad en sal vir ten minste nog 18 maande duur.Ekonome het intussen hul kommer uitgespreek oor die uitwerking wat die landwye kragonderbrekings op die ekonomie gaan hê.Eskom se kaskenades is blykbaar nimmereindigend, want ‘n swaar vragmotor wat die rommel by die Majuba-kragstasie moes verwyder, het ‘n kabel afgesny, wat drie verdere kragopwekkers buite werking gestel het.

Benewens die 5 690MW wat vir beplande instandhouding buite werking gestel is, het verdere kragstasies Saterdag onklaar geraak en omtrent 8 700MW van die netwerk laat verdwyn, het Eksdom se aardig besoldigde HUB, Tshediso Matona, gister tydens ‘n perskonferensie gesê.

Die verdere onklaar kragstasies het die wankelrige situasie verder vererger. Beurtkrag het verlede Donderdag begin.

Maar soos praag reeds gister op ons Engelse blad berig het, sien Eskom geen krisis op die horison nie.

“Eskom is nie ‘n maatskappy wat in ‘n krisis verkeer nie,” sê Matona. “Wat daar is, is bloot ‘n reeks probleme. Ons hanteer die kwessies, daar is oplossings vir al dié kwessies.”Toe hy gevra is of ‘n tekort aan diesel om die oopsiklusgasturbines in die Kaap aan te steek die beurtkrag veroorsaak het, het Matona erken dat Eskom sy bestelling vir diesel uitgestel het en daarom verlede Donderdag en Vrydag ‘n tekort aan diesel ondervind het.

Volgens Matona het “logistiek rondom die lewering van die brandstof” die kragonderbreking veroorsaak. Maar hy het later tydens die onderhoud erken dat ‘n tekort aan kontant by Eskom veroorsaak het dat hulle die gebruik van diesel moes inkort.

Dit kos Eskom omtrent R3 om 1kWu krag by die twee noodkragstasies op te wek. Dié elektrisiteit kan egter net teen 62,14 sent per kWu verkoop word.

Van die R7 miljard wat Eskom begroot het om die twee noodkragstasies te bedryf, bly daar slegs R1 miljard oor vir die jaar wat in Maart 2015 ten einde loop, volgens die finansiële direkteur Tsholofelo Molefe. “Enige verdere behoeftes sal vanuit besuiniging en hertoewysings gefinansier word,” sê sy.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.