Derby Lewis en APLA, skreiende dubbele standaarde

Deel op

Clive Derby Lewis was die afgelope week in die dringende hof om vir mediese parool aansoek te doen. Die 78-jarige Derby Lewis is in 1993 vir die moord op die leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, Chris Hani aangekla. Hy is vroeër vanjaar in die tronk aangerand en luidens die hofstukke ly hy ook tans aan ernstige longkanker. Derby Lewis se regsverteenwoordiger het aangevoer dat hy slegs maande het om te leef.

Die aansoek om mediese parool is egter onbepaald uitgestel.

Enkele maande na die moord op Chris Hani, het lede van die Azanian People’s Liberation Army (beter bekend as APLA), die Saint James kerk in Kaapstad met M26 handgranate en R4-aanvalsgewere binnegeval. Tydens hierdie aanval is elf onskuldige kerkgangers vermoor en 58 beseer.

Die APLA-leier, Letlapha Mphahlele het verantwoordelikheid vir hierdie moorde aanvaar, net soos wat Derby Lewis aanspreeklikheid vir die moord op Hani aanvaar het. Beide, Mphahlele en Derby Lewis was politieke leiers. Beide het bloot opdrag gegee dat die moorde gepleeg moet word en was nie self op die moordtoneel tydens die onderskeie insidente nie. Beide is van moord aangekla en beide het voor die Waarheids- en versoeningskomissie om amnestie aansoek gedoen.

Daar is egter twee groot verskille tussen die moord op Hani en die massamoord by die Saint James Kerk. Die eerste hou verband met die slagoffers en die tweede met die Waarheids- en versoeningskommissie se hantering van hierdie twee sake.

Derby Lewis se slagoffer was die beroemde Chris Hani, die leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en ook die stafhoof van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto weSizwe. Mphahlele se slagoffers was onskuldige, burgerlike teikens wat hulle nie met politiek bemoei het nie.

Derby Lewis het voor die Waarheids- en versoeningskommissie aangevoer dat die moord op Hani polities gemotiveerd was. Hy het aangevoer dat hy ’n kommunistiese oorname gevrees het en dat die stryd teen kommunisme ’n motivering vir die moord was.

Mphahlele en sy medebeskuldigdes het voor dieselfde kommissie aangevoer dat hulle moorde ook polities gemotiveerd was. Hulle het toegegee dat die slagoffers onskuldig was, maar aangevoer dat alle witmense deur hulle as legitieme politieke teikens beskou was.

Die Waarheids- en versoeningskommissie se uitsprake in hierdie twee aansoeke was erg onkonsekwent. In Derby Lewis se geval het die kommissie verklaar dat hulle nie oortuig was dat die moord op die SAKP-leier polities gemotiveerd was nie en die aansoek om amnestie het misluk. In Mphahlele se geval het dieselfde kommissie bevind dat die moorde op onskuldige kerkgangers wel polities gemotiveerd was. In hierdie geval het amnestie geslaag.

In die lig van hierdie twee sake kan ’n redelike persoon met reg bevraagteken of die waarheids- en versoeningskommissie se optrede konsekwent, deursigtig en met integriteit plaasgevind het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.