Vrae oor Korkie se dood

Deel op

Die oorskot van die Suid-Afrikaner, wat in ‘n Amerikaanse operasie gedood is, het Dinsdagoggend by die Waterkloof Lugmagbasis in Pretoria aangekom.

NUUT!

‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word waarby Amerikaanse amptenare glo ook teenwoordig sal wees. Eers daarna sal sy liggaam aan sy familie oorhandig word.

Pierre Korkie, ‘n biologie-onderwyser aan Grey Kollege, en ‘n Amerikaner, Luke Somers, is Saterdagoggend in Jemen doodgeskiet tydens ‘n mislukte bevrydingspoging deur Amerikaanse Spesmagte.

‘n Woordvoerder van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Nelson Kgwete sê Korkie se familie het die vliegtuig ingewag.

Yolande Korkie, sy eggenoot, het gesê daar is talle onbeantwoorde vrae oor sy dood. Berigte dat al-Kaïda deur die VSA befonds word, duik gereeld op.

Pierre en sy vrou is op 27 Mei 2013 in Taiz, Jemen ontvoer. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat nadat Gift of the Givers haar vrylating onderhandel het.

Korkie se ontvoerders het vroeër ʼn losprys van $3 miljoen (ongeveer R32 miljoen) vir sy vrylating geëis. Klaarblyklik het die familie reeds ‘n deel van die geld ingesamel.

Korkie en ander gyselaars is vroeër verskuif nadat al-Kaïda gewaarsku is dat hulle dalk ontset kan word.

Afgevaardigdes van die departement, die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse ambassades was ook teenwoordig by die lugmagbasis.

Die Amerikaanse regering het intussen veiligheidsmaatreëls verskerp by sy fasiliteite wêreldwyd voor die vrystelling van ‘n senaatverslag wat die Amerikaanse intelligensiediens, die CIA, se “omstrede ondervragingsmetodes”, marteling, kritiseer.

Brittanje en Kanada het reeds hul missies in die Egiptiese hoofstad Kaïro gesluit uit vrees vir wraakaanvalle weens die verslag en aanvalle op Westerlinge.

Die Withuis het Maandag bevestig dat hulle verwag dat die verslag bekendgemaak gaan word.

Die Amerikaanse administrasie het bevestig dat stappe gedoen is om alle Amerikaanse ambassades en ander belange wêreldwyd te beveilig te midde van vrese van ‘n gewelddadige teenreaksie.

Dit is egter seker dat die verslag die beeld van gewone Amerikaners sal aantas.

Die minister van Buitelandse Sake, John Kerry het verlede week voete gesleep en gewaarsku dat die vrystelling tot geweld kan lei.

Die verslag gaan na verwagting besonderhede bekendmaak oor die geheime program wat onder oudpresident George W. Bush se regering gebruik is om al-Kaïda verdagtes te ondervra.

President Barack Obama het van die metodes wat gebruik is as marteling bestempel.

Die VSA het talle internasionale konvensiese en ooreekomste bekragtig en onderteken waarin hulle onderneem het om nie aangehoudenes te martel nie, maar dit geminag.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.