Pretoriase Afrikaner wat by Engelse kerk werk, vermoor

Deel op

‘n Afrikanerman wat glo al twintig jaar vir ‘n Engelse kerk, die Hatfield Christian Church in Pretoria werk, se lyk is gisteraand in sy huis gevind. Sy aanvallers het hom eers vasgebind voor hulle hom doodgemaak het.

Die slagoffer, mnr. Hendrik Retief, 53, is waarskynlik vroeg gisteroggend vermoor, maar sy liggaam is eers gisteraand teen sononder deur ‘n kollega in sy huis in Jan van Riebeeckstraat, Pretoria-Noord, ontdek.

Retief was baie stiptelik en pligsgetrou en daarom het ‘n kollega by die kerk onraad begin vermoed toe hy sonder enige tyding nie vir werk opdaag nie.

Pastoor David de Lange van die kerk sê: “Hy (die kollega) het toe na Hendrik se huis toe gegaan om te gaan kyk of alles reg is. In die huis het hy op Retief se lyk afgekom.”

‘n Provinsiale polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Khensane Magoai, het verklaar dat Retief se hande en voete vasgebind was. Daar is nog nie vasgestel wat sy dood veroorsaak het nie.

Retief het alleen gewoon en word deur twee susters oorleef. Een van sy susters was gisteraand op die toneel van die moord.

“Al wat ek kan sê, is dat dit tragies is,” het sy gesê.

Pastoor De Lange sê: “Hy het eers saam met sy ma daar gewoon, maar sy is sowat drie jaar gelede dood.

“Hy was ’n goeie mens wat altyd op sy eie was. Ek het van hom gehou omdat hy so rustig was. Hy het altyd gedink voordat hy gepraat het.”

‘n DA-raadslid in Pretoria-Noord, Dana Wannenburg, het die oorledene vir sy dood geblameer en gesê hy moes meer voorsorg teen misdaad getref het.

“Misdaad neem toe tydens beurtkragonderbrekings en dié tyd van die jaar,” het sy gesê. “Mense moet op hul hoede wees.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.