Zuma vlieg in Ichikowitz se straler na China

Deel op

Die noue bande tussen die ANC en die wapenhandelaar Ivor Ichikowitz is weereens gedemonstreer toe dit so pas aan die lig gekom het dat pres. Jacob Zuma vir sy staatsbesoek aan China van Ichikowitz se privaat straler gebruik maak. Blykbaar huur die staat die vliegtuig wat “amptelik aan Fortune Air behoort”.

Ivor Ichikowitz
Ivor Ichikowitz

Die straler moes gister inderhaas op Pietersburg land aangesien “sterk neuswinde” die brandstofverbruik die hoogte laat inskiet het. Anders as wat elders berig is, “was dit nie ‘n noodlanding nie”.

Die Boeing 727-200 was onderweg van die Male­dive na die Waterkloof-lugmag­basis in Pretoria. Fortune Air wou ook nie navrae beantwoord nie aangesien die vliegtuig met ‘n lugmagroepsein vlieg.

Die hoof van die Suid-Afrikaanse lugmag, luitenant-generaal Zakes Msimang, het verklaar dat dit geen noodlanding was nie, maar bloot ‘n landing om nog brandstof in te neem.

“Dit maak nie saak hoe goed mens ’n vlug beplan nie, die weer speel altyd ’n rol en ’n vlieënier sal nie kanse waag nie.

“Omdat die weer tans baie onvoorspelbaar is, het die vlieëniers dus op Pietersburg geland om te verseker dat die vliegtuig genoeg brandstof het om Waterkloof toe te vlieg.

“Die weer tussen Pietersburg en Waterkloof moes ook in berekening gebring word. As Waterkloof dus weens gure weer op kort kennisgewing nie bereikbaar sou wees nie, moes die vliegtuig genoeg brandstof gehad het om na ’n ander lughawe uit te wyk.”

Ivor Ichikowitz, wat die hoofborg van die Joodse Raad van Afgevaardigdes in Suid-Afrika is, is ‘n voormalige dramastudent aan die Universiteit van die Witwatersrand wat in die vroeë negentigerjare by wapenhandel in Afrika betrokke geraak het. Ná die revolusie in 1994 het hy Suid-Afrika se Mirages en ander wapentuig oorsee gaan verkwansel en uit kommissies en ander inkomste skatryk geword. Sy firma, die Paramount-groep, word tans as die grootste wapenhandelaar in Afrika beskou en hy beskik ook oor etlike kontrakte om Suid-Afrikaanse weermag- en lugmagtoerusting in stand te hou.

Volgens berigte verkeer Zuma se presidensiële vliegtuig, die Inkwazi, tans in Switserland vir ‘n diens.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.