Amerikaanse polisiegeweld lei tot wit skuld-orgie

Deel op

Kort nadat ‘n besluit van die groot jurie bekend geword het om nie ’n ­polisiebeampte te vervolg vir die dood van Eric Garner in Julie vanjaar nie, het honderde ­betogers by die Rockefeller-­sentrum en in New York se Times Square byeengekom en die slagspreuk “Geen geregtigheid, geen vrede” begin skree.

Dit was ook die slagspreuk nadat ‘n ander groot jurie verlede week besluit het om nie die wit polisieman te vervolg wat ’n ongewapende swart tienermisdadiger, Michael Brown, in Ferguson, Missouri doodgeskiet het nie.

Dit is die vyfde dag dat betogings oor rasse-ongelykheid in die VSA gehou word. In Chicago, Miami en Philadelphia het kerke die massa-aksie gesteun.

Daar is reeds 300 mense in hegtenis geneem vir openbare geweld regoor die land. In Kalifornië moes die polisie klipgooiers met traangas verwilder.

Die polisie het Woensdagnag nagenoeg 30 mense in New York in hegtenis geneem, het die polisiebevelvoerder van die stad, Bill Bratton, gesê. Vroeg Donderdagoggend het die protes nog voortgeduur.

‘n Reeks klein protesbyeenkomste­ het saamgekom en tot ’n opmars van byna 5 000 mense in Broadway-­rylaan tot by Times Square gelei.

Motorbestuurders wat in yslike verkeersknope vasgesit het, het hul toeters geblaas. Organiseerders het die getoet as ‘n teken van solidariteit verklaar.

Albei gevalle, saam met die dood van ’n 12-jarige swart seun wat deur polisie doodgeskiet is toe hy ’n speelgoedpistool in ’n speelpark uitgehaal het, het die ou debat in Amerika oor rassebetrekkinge weer laat opvlam.

Alhoewel wit wetstoepassers daarvan beskuldig word dat hulle Afro-Amerikaners met oor-aggressiewe polisiëring teister, is die protesoptogte gemik daarop om wit skuld uit te buit.

Sedert Brown geskiet is, is daar meer as 900 mense in Chicago doodgeskiet, meestal in swart-op-swart geweld.

Ná Woensdag se juriebesluit, het die prokureur-generaal, Eric Holder, gesê die Amerikaanse departement van justisie sal ’n federale burgerregte-ondersoek gelas na die saak van Eric Garner, 43, wat dood is nadat hy deur ’n New Yorkse polisieman, Daniel Pantaleo, in ’n wurggreep vasgehou is.

Garner is aangekeer na vermoed is dat hy sigarette waarop nie belasting betaal is nie, op Stateneiland verkoop het.

Die bruin komediant Trevor Noah – terloops erg ongewild by die meeste swart Suid-Afrikaners – het as gas op die Daily Show gegrap dat die VSA met swak rasseverhoudinge spog sonder dat hulle apartheid daarvoor kan blameer.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.