Ope brief van Oom Paul aan Afrikaners

Deel op

Geagte volksgenote,

Jare lank al lê ek hier in my graf in die Heldeakker te Pretoria en hou u doen en late met liefde, belangstelling en sorg dop. Deesdae met toenemende sorg, moet ek sê. Daarom het ek dit goedgedink om hierdie brief vanuit die graf, outre-tombe, om nou saam met Chateaubriand te praat, aan u te stuur.

Ten eerste, dankie aan die vrywilligers wat verlede jaar in Oktober my grafsteen kom skoonmaak het. Ek waardeer dit opreg, veral noudat daar geen meer dienste van dié aard vanuit die amptelike kanale verrig word nie.

Nou ja, waar sal ek begin? Toe ek staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek was, was daar twee politieke beginsels wat my gerig het: Die eerste was om vryheid bo alles te stel. Die tweede was om lig te loop vir Engelse. U weet, oorle Hendrik Potgieter wou destyds nie in Natal agterbly nie, want seg hy, Natal is te naby aan die see en waar die see is, is die Engelse.

My eerste werklike ervaring van Engelse lis was toe Theophilus Shepstone ons Republiek in 1877 kom annekseer het. Eers het hy gemaak asof hy sommer net bietjie handel wou kom dryf; die volgende oomblik word ons geannekseer en was ons amper ons duur gekogte vryheid kwyt! Gelukkig kon ons dit by Majuba herower en het Gladstone agterna ingestem om weereens die Sandrivierkonvensie te erken.

U weet, as ek dink aan die aantal veldslae wat ons volk onder my leiding moes veg, eers toe ek kommandant was en later president, sterf ek ‘n tweede dood as ek vandag sien hoe u deur u minderes oorheers word! Dis verskriklik hoeveel van ons mense, u en my vlees en bloed, vandag vermoor word, man, vrou en kind. Dan praat ek nie eens van ons vroue en meisies wat deur die barbare onteer word nie… Hoe op aarde kan u dit toelaat? In my dae as kommandant sou ek lankal deur die president en die Volksraad vanaf my plaas Boekenhoutfontein ontbied gewees het om op te saal en ‘n strafekspedisie uit te stuur.

Die slag van Blauwkrantz, soos geskilder deur Thomas Baines
Die slag van Blauwkrantz, soos geskilder deur Thomas Baines

In my prille jeug het ek aanskou wat die Zoeloes die vroue en kinders by Blauwkrantz en Weenen aangedoen het. Daar is een ding wat erger is as om onder Engelse te moet leef en dit is om in die mag van swartes te verkeer. U moet sterk staan; moenie voor die vyand buig nie. ‘n Mens mag maar diplomaties wees, maar nooit mag u buig nie. ‘n Vyand wat geen ontsag meer vir u het nie, sal u eenvoudig uitwis.

Veral die swartmense het ‘n ontwikkelde sin vir mag. En vrees. Die dag as die swartes u nie meer vrees nie, gaan dit nag wees. Dit kan nóg erger word as vandag; in daardie donker dae tussen Februarie en Desember 1838 toe Piet Uys en sy seun Dirkie by Italeni omgekom het, het ons almal gedink dis nou die einde: die Zoeloes is eenvoudig sterker as ons. Dit het gereën; ons kruit was nat en voortdurend het ons verdere aanvalle gevrees. Maar met die hulp van God en die Gelofte het ons op 16 Desember oorwin!

Op ‘n stadium het elke skoolkind in Suid-Afrika geleer wat ek op ‘n keer kwytgeraak het: “Haal uit die verlede wat goed is en bou jou toekoms daarop.” Hoe het dit gebeur dat soveel Afrikaners dié spreuk vergeet het? Leef u dan deesdae net vir die oomblik, vir die volgende rugbywedstryd of die volgende drankie?

So van drank gepraat, soos u weet was ek ‘n geheelonthouer. Altyd het ek ‘n glas melk verkies as die ander Franse sjampanje of Kaapse brandewyn drink. Drank en dronkenskap het al menige volk vernietig. Is dit nie waar die probleem begin het, dat almal beneweld was toe hulle in die vroeë negentigerjare ‘n nuwe toekoms vir ons volk moes onderhandel nie? Veral nou in hierdie feesseisoen met al sy jolyt, druk ek u op die hart om u nie aan Bacchus oor te gee nie. Wees sterk, rein van hart en helder van gees!

Ek hoor mense praat van ‘n gebrek aan leierskap onder ons Afrikaners. In die ZAR was dit net ek en Piet Joubert wat met mekaar meegeding het, maar tog het ons oor al die belangrike sake saamgestem. Al was ek reeds bejaard, het mense steeds vir my gestem omdat hulle op my kon vertrou om nooit ons vryheid prys te gee nie. Kyk vandag rondom u: Waarskynlik is daar twee soorte leiers, dié wat bereid is om onvryheid te aanvaar en al hoe dieper in die moeras van kompromie in te gly en dié in wie se harte steeds die vryheidsvuur brand wat ons oor die Drakensberg, deur al die veldslae en die taalstryd van die twintigste eeu voortgestu het. Maar moet ook nie die Transvaal verafgod nie: Ek is self in die Kaapprovinsie gebore en S.J. du Toit wat saam met my deur Europa getoer het en soveel vir onderwys in ons republiek gedoen het, was insgelyks ‘n Kapenaar!

Waak teen verdeeldheid en verwerp diegene wat verdeeldheid aanstig. Die verraaier val altyd sy broer langs hom eerste aan, alvorens hy die vyand te lyf gaan. Nooit sal ek vergeet hoe ons volk op 5 Januarie 1864 weens ‘n magstryd en onderlinge geskille by die Krokodilrivier op mekaar geskiet het nie. Op daardie dag het nege van my eie staatsleërmanne en vyf-en-veertig van die opstandelinge gesneuwel. Jare daarna is verwyte my nog daaroor toegeslinger. Maar wat moes ek doen toe hulle op ons begin skiet?

Paul_Kruger____n_4ace43b92b359Erger nog, vir diegene wat my lewensverhaal deur D.W. Krüger gelees het, was die uitwerking van die Transvaalse burgeroorlog op die naturelle besonder nadelig. Soos J. de Beer van Lydenburg aan M.W. Pretorius kort ná ons onderlinge stryd geskryf het: “die naam van die Afrikaanse nasie is verlore en daarmee ook die vrees daarvoor by die naturelle”.

Hier vanuit my graf in Pretoria, ons mooi stad wat tans met ‘n vreemde naam onteer word, kan ek sien hoe u meer onlangs óók naam weggegooi het met al die kleinlike rusies tussen politieke partye en ambisieuse dog kortsigtige leiers, totdat u vandag die knie moet buig voor ‘n Zoeloehoofman. Eers wanneer almal weer saamstaan as één, onverdeelbare volk, sal dinge beter gaan. Eers dan sal u u vryheid kan herwin waarvoor soveel van ons in die verlede ons lewens op die slagveld teen die Engelse of in die byna onophoudelike Afrika-oorloë van die negentiende eeu gewaag het.

Verenig onderling, maar sorg ook dat u slim diplomate wat Europese tale praat na Europa stuur waar hulle ons saak in die raadsale van die wêreld en teenoor politieke leiers kan stel. Ek was geen geleerde man nie, hoewel ek my Bybel beter as selfs die teoloë van Nederland geken het. Sonder Leyds wat die politiek van Europa geken en verstaan het, sou ek egter nooit geweet het wat ons volgende te doen staan nie.

Moet nooit vergeet waar ons vandaan kom nie: uit Nederland, Duitsland en Frankryk. Ons is Afrikaners, maar ons behoort ook tot daardie groter blanke, Europese beskawing. Tydens ons tweede vryheidsoorlog wat so tragies geëindig het en my doer ver na Clarens in Switserland gestuur het, het vrywilligers van oor die hele Europa by ons Boeremagte aangesluit: uit Frankryk, Duitsland, Nederland, Vlaandere, Ierland, Skandinawië en Rusland het hulle gekom om sy aan sy met ons te veg. Daardie gesneuweldes vanuit Europa se beendere rus steeds in dié aarde saam met my en ons. Soos Opperman in “Gebed om die gebeente” skryf:

Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn . . .
Seën, Here, al die bleek gebeente van die stryd –
ek ken as moeder na ‘n halwe eeu van pyn:
een land vol skedels en gebeente, een groot graf
waaroor U noordewind die droë dissel waai
en spruit en krans vul met die afloskrete van
die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai

Cornelis 'Cor' van Gogh
Cornelis ‘Cor’ van Gogh

Die beroemde skilder Vincent van Gogh se broer Cornelis het insgelyks die hoogste prys vir ons volk se vryheid hier betaal… besef u dit? In Parys het ek die Franse president en al die groot skrywers van daardie intellektuele volk ontmoet wat my een en almal verseker het dat ons vryheid en onafhanklikheid hulle na aan die hart lê. Laat ‘n nuwe Leyds of selfs my staatsprokureur Jan Smuts opstaan en ons volk weer geliefd by die Vasteland van Europa maak sodat ons sáám vir vryheid en vir reg in Afrika kan opstaan!

In my tyd het al ons probleme van Engeland af gekom. Vandag het dit nie veel verander nie, behalwe dat die Verenigde State lyk my die rol van Engeland oorgeneem het, of dat al twee saam die wêreld wil destabiliseer. Daardie patriotiese Russe wat teen Engeland in die Krimoorlog geveg het en by die honderde duisende gesneuwel het, verkeer vandag weer in die spervuur. Ek sien hulle boikot nou vir Rusland nes Engeland ons altyd geboikot het as sy die naturellestamme teen ons opgesteek en hulle bewapen het terwyl sy weier dat ons ammunisie deur die Natalse of Kaapse hawens invoer!

In dié verband het dr. Leyds my ‘n Franse spreekwoord geleer: Plus ça change, plus ça reste la même chose, oftewel: Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Hier vanuit my laaste rusplek sien ek dat die Uitlanderprobleem nog nooit opgehou het nie. Onthou u nog wat ek gesê het? “Dis nie die stemreg wat u wil hê nie, dis my land!” Ook in meer onlangse tye was daar ‘n gedoe oor stemreg vir die swartes en wat gebeur toe? Ons – ek en u – is die land kwyt! Het dit oor stemreg gegaan of om die land in te palm sodat die Uitlanders dit na hartelus kan plunder?

U sal die Uitlanderprobleem moet pak. Een voordeel wat u het, is die ywer van ons Afrikanerhistorici wat ná my dood ons hele geskiedenis haarfyn opgeteken het. Gaan lees gerus oor die Uitlanders op: wie hulle was, uit watter lande hulle gekom het en hoe hulle vanuit Johannesburg voortdurend besig was om ons republieke te ondermyn, ook die republiek van 1961 wat onder daardie slim Hollandse Afrikaner, ‘n moderne Leydsman, Hendrik Verwoerd, tot stand gekom het! Die swartman is nie u vyand nie. In my tyd was ek goed bevriend met Magato, die Tswana-hoofman; ek het selfs sy kinders oorsee gestuur om op universiteit te gaan leer. God het die swartman ook geskep; so gemaak en so laat staan. Hy is maar soos hy is.

In my tyd het ek die roem gesmaak wat ons dapper volk toekom. Ek het met Europese staatshoofde, konings en met Bismarck op die kruin van sy mag vergader. Ek en Bismarck het mekaar se spreektale met mekaar gepraat: ek Afrikaans en hy Platduits, en ons kon mekaar verstaan. Desondanks is ek ‘n eenvoudige man en sien die wêreld op ‘n eenvoudige manier.

Daarom sê ek nou vir u: Sedert 1886 en die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het niks verander nie! Die Uitlander misbruik die stemreg om ons rykdom in te palm. Hy is te lafhartig om regtig te baklei; sy vernaamste wapen is die leuen. Met leuens, propaganda, die pers wat hy beheer, in boeke en briewe aan vername mense, verguis hy ons en stel ons magteloos. Ek stem saam dat daardie klein FW-prokureurtjie van julle ‘n misoes is. Hy is die naam “Afrikaner” nie waardig nie. ‘n Hensopper en ‘n hanskakie soos min. Maar sonder die Uitlander se leuens en propaganda sou selfs die verraaier FW de Klerk nie so maklik ons hele volk uitverkoop het nie.

Nog ‘n woord wat Leyds en Smuts my geleer het, heet op Duits Realpolitik. As ‘n mens se middele beperk is, kan jy nie ‘n groot oorlog gaan voer nie. Destyds toe ek kommandant was en daar daag net twintig man vir die kommando op terwyl ‘n honderd opgeroep is, het ek telkens maar gedoen wat ek kon en nie wat ek graag wou nie. Maar selfs met twintig man kan ‘n mens ‘n paar honderd swartes of Engelse aandurf. In die haglike situasie waarin ons volk vandag verkeer, sal u die belangrikste kwessies eerste moet pak. Hulle is:

  • neutraliseer die propaganda-aanslag; die pers was nog altyd vyandig teenoor ons, maar met die koms van die internet kan ons hulle opkeil;
  • doen iets aan die geweld en onveiligheid; kry almal om in enklawes agter mure en ander versperrings te woon, patrolleer die strate, stig weer kommando’s soos ons in die 1800’s gemaak het;
  • boikot alle volksvyandige ondernemings, ongeag wie hulle is, selfs dié wat aan Afrikaners behoort as hulle Verraaierkaners is;
  • suiwer die Afrikanerleierskorps van almal wat dislojaal teenoor ons vryheidstrewe is.

Die stryd met die pen is belangriker as dié met die geweer. In my tyd het Sir Percy Fitzpatrick met sy Transvaal from within die oorlog teen ons ontketen. In die 1960’s en die 1970’s het ek gesien hoe die haat teen Suid-Afrika aangeblaas is totdat daar terreur ontketen is, met bomme op straat en in restaurante. Net so stig vele joernaliste in Suid-Afrika en in Brittanje vandag steeds oorlog en volksmoord teen die Afrikaner aan. Sorg dat hulle negatiewe idees en propaganda met hand en tand beveg word.

President Jan Brand van die Vrystaat, hoewel hy nooit daardie Engelse Orde van Sint-Michaël en Sint-George moes aanvaar het nie, het in my tyd ‘n gesegde gehad: “Alles sal regkom, mits elkeen sy plig doen.”

Moenie moed verloor nie. Deur ons lang en heldhaftige geskiedenis het ons volk al vele en erger beproewinge beleef en weerstaan.

Soos ons ou volkslied lui:

Kent gij dat volk vol heldenmoed
En toch zo lang geknecht?
Het heeft geofferd goed en bloed
Voor vrijheid en voor recht
Komt burgers! laat de vlaggen wapp’ren
Ons lijden is voorbij
Roemt in de zege onzer dapp’ren
Dat vrije volk zijn wij!
Dat vrije volk, dat vrije volk
Dat vrije, vrije volk zijn wij!

Gelofte- en Kersgroete,

Stephanus Johannes Paulus Kruger
President van die Z.A.R. (9 Mei 1883 – 10 September 1900)
Onder u bekend as “Oom Paul”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.