Verdere pogings om Afrikaans te ondermyn

Deel op

Hoekom word Engels opgedomkrag tot dieselfde status as Afrikaans?

Deel op

Vier dekades lank, van 1948 tot 1989, het Suid-Afrika ‘n Afrikaanse, blanke, politieke bewind gehad. In sy laaste dekades was daardie regering toenemend verplig om teen die terreurbendes van “bevrydingsbewegings” op te tree. Die sukseskoers van die veiligheidsmagte (weermag en polisie) was beter as 1 dooie lid tot 10 dooie terroriste, ‘n getalsverhouding wat opvallend soortgelyk aan dié van die Israeli’s en Palestyne is. Ons stryd teen terreur en ten gunste van Europese beskawing is hoofsaaklik deur Afrikaners en in Afrikaans gevoer. Dít is iets wat die ANC-regering ons nooit sal vergewe nie. Die ANC se Waarheids- en Versoeningskommissie, met Desmond Tutu aan die spits, was glad nie daarop ingestel om vergifnis in ANC-geledere te bewerkstellig nie; veel eerder om (grootliks) valse skuldgevoelens by die blankes te wek en skadevergoeding te eis.

Maties... nou met opgedomkragte Engels.
Maties… nou met opgedomkragte Engels.

Met ‘n ruim 80% swart bevolking, wat sorg dat die ANC-regering aan die bewind bly, is die jag op Afrikaners oop. Myns insiens is Afrikaans die kern van die Afrikaner. Dit verduidelik die hernude ywer waarmee gepoog word om Afrikaner-Afrikaans, naamlik Standaardafrikaans, te vernietig. Dié aanslag kom nie net van die ANC-regering nie. Nie-wit “Afrikaanses” doen lustig mee, asook blankes (insluitende oud lede van die Afrikaner Broederbond) wat Damaskus-ervarings gehad het of as opportuniste bloot polities korrek probeer wees. In my vorige skrywe (Praag 30 November) het ek die jongste gebeure (tot 24 laaslede) aan hierdie front bespreek. In hierdie rubriek neem ek verdere verwikkelings, tot die einde van November, in oënskou.

Op 22 November het die raad van die Universiteit Stellenbosch (US) besluit dat Afrikaans en Engels daar voortaan gelyke status gaan hê; dus dat die US nie meer kragtens sy stigtingsvoorwaarde ‘n egte Afrikaanse universiteit gaan wees nie. Hierdie grondverskuiwende besluit het tot op hede nog nie die voorbladsy van Die Burger gehaal of die onderwerp van een van sy hoofartikels gewees nie. ‘n Berig ter verduideliking (eintlik: goedpraat) van die US se nuwe taalbeleid is wél gepubliseer (Die Burger, 25 November, p 4). Ses mak vrae is aan Arnold Schoonwinkel, die US se viserektor vir leer en onderrig, gestel.

Hoekom word Engels opgedomkrag tot dieselfde status as Afrikaans? “Een van die strategiese doelwitte is … die verbreding van toegang. Die nuwe taalbeleid is juis belyn met hierdie strewes.” Let op Schoonwinkel se US-geykte woordkeuse: strategiese, belyn. Wat hy erken, is dat die taalbeleid verander is om nie-wittes te bevoordeel. Die groot verloorders is Afrikaanse blanke studente wat nie meer ‘n kulturele tuiste op die US-kampus het nie.

Voorheen het Schoonwinkel dit al duidelik gestel dat Afrikaanse studente ‘n mindere behoefte aan tolking as Engelse studente het. Dit in sigself toon reeds dat daar by tolking geen gelyke behandeling van hierdie twee groepe gaan wees nie. Hierdie keer erken Schoonwinkel by herhaling hierdie feit: “Engelse lesings getolk na Afrikaans … die behoefte daaraan uiteraard baie minder is.”

Sy verwerplikste bewering is dat daar minstens 50% Afrikaanse onderrig in die US se tweetalige klasse aangebied word. In hierdie berig lieg Schoonwinkel dit twee keer. Enige dosent wat al probeer het om ‘n klas aan te bied wat veronderstel is om tweetalig te wees, weet dat sulke klasse ontaard in ‘n hoofsaaklik Engelse klas omdat daar alewig “benadeeldes” is wat dadelik beswaar aanteken as die dosent iets in Afrikaans sê. Dit is juis die groot beswaar teen die US se berekening van sy Afrikaanse “aanbod”: dat ‘n tweetalige klas sonder meer as 50% Afrikaans gereken word.

Christo Viljoen, die president van die US-konvokasie, is ontstig oor die nuwe taalbeleid (Die Burger, 25 November, p 14). In ‘n sin kry hy sy verdiende loon omdat sy onbesonne beleid was om die taalkwessie uit die openbare arena te hou. Dit het die magte van die bose vrye teuels gegee om te konkel. Hou in gedagte dat hierdie taalbeleid vorm aangeneem het toe van die hoofrolspelers in die groot kruip na die rektorskap betrokke was en daar herhaaldelik deur die voorsitter van die US-raad, George Steyn, te kenne gegee is dat na ‘n Russel Botman-kloon gesoek word. Gevolglik was die natuurlike neiging om Afrikaans in die nuwe taalbeleid verder te benadeel.

Viljoen noem dat “die de facto-status van Afrikaans as onderrigtaal afgeskaal” word. “Dit is gans onduidelik hoe deur aan Afrikaans en Engels gelyke status te verleen, ‘die posisie van Afrikaans versterk (gaan) word’ en hoekom dit nodig is om op dié wyse ‘meertaligheid te bevorder’ … Die ontstaansrede van die US 96 jaar gelede is in taaloorwegings gefundeer. Op 19 Februarie 1915 het die Raad van die Victoria-Kollege [die Engelse voorganger van die US] ‘n besluit om die US te stig ten einde ‘een echte Hollandsch-Afrikaansch Universiteit te zijn’ aanvaar … Hierdie spesiale plek van Afrikaans as inklusiewe onderrigtaal aan die US het nou formeel tot ‘n einde gekom. Die ervaring is dat die gelykstelling van die twee onderrigtale telkens die onvermydelike agteruitgang (en selfs verdwyning) van Afrikaans as onderrigtaal presipiteer, waarvan die Universiteit van Johannesburg (ontspring uit die RAU [Randse Afrikaanse Universiteit]) die beste voorbeeld is … Met dié waterskeidende besluit verdwyn dít wat die US anders as enige van die ander 25 Suid-Afrikaanse universiteite gemaak het.”

Afrikaansdislojaliteit… so kenmerkend van ontwikkelde bruines

Ek kan my kwalik ‘n gemener en sluwer joernalis as Henry Jeffreys voorstel. Onlangs het hy geskryf oor “Israel se oorlog met die Palestyne” (Die Burger, 6 Augustus, p 12) deur heeltemal die Palestyne se daaglikse gewelddadige aanvalle op Israel te ignoreer. Op dieselfde eenogige manier skryf hy graag oor die “vergrype” van die “apartheidsregime” sonder om ooit die ANC en PAC se terrorisme te veroordeel of selfs maar te erken. Sy kenmerkende reaksie op die nuwe US-taalbeleid verskyn onder die opskrif: “Maties verdien lof vir taalplan” (Die Burger, 26 November, p 10). “Die Universiteit Stellenbosch het uiteindelik ‘n sinvolle taalbeleid aanvaar wat Afrikaans verskans [?] sonder om die universiteit se potensiaal om te blom [!] as ‘n toeganklike instelling van wêreldklas te ondermyn.” Met “uiteindelik” gee Jeffreys te kenne dat die US lankal moes opgehou het om ‘n egte Afrikaanse universiteit te wees. Afrikaansdislojaliteit, wat so kenmerkend van ontwikkelde bruines is, gevoed deur anti-wit (veral anti-Afrikaner-) sentiment, is in oorvloed by Jeffreys waarneembaar. Hy beskou homself as swart, maar dan die soort swarte, soos Russel Botman en Jonathan Jansen, wat om die dood nie in ‘n swart woongebied wil bly nie en dus homself in ‘n tradisioneel blanke woonbuurt welkom verklaar.

Die nuwe taalbeleid sal glo “help om van Maties ‘n instelling te maak wat gemaklik is in sy Suid-Afrikaanse en Afrika-vel en te fokus op die toekoms eerder as om voortdurend die gevangene van ‘n omstrede herkoms en verlede te wees.” Hier is kenmerkende bruin logika te bespeur. Die “swart” Jeffreys se manier om gemaklik in sy Suid-Afrikaanse en Afrika-vel te voel, is om by voorkeur Afrika-hempies (selfs met afbeeldings van hutte daarop) te dra. In die ou Suid-Afrika en in die US se verlede is daar baie om op trots te wees, maar die eenogige Jeffreys maak asof die blanke nalatenskap noodwendig (hoofsaaklik) sleg moet wees.

“Die universiteitsraad wat pas die nuwe taalbeleid aanvaar het, verdien lof vir ‘n grootse stap in die regte rigting. Die raad was té lank ‘n dienstige oorlogsone oor Afrikaans. Die stryd oor die taal het die universiteit by tye groot skade aangerig en by tye die indruk gewek dat dit ‘n stryd was oor behoudendheid (van ‘n ryk, dog gevlekte verlede) teen die strewe na groter inklusiwiteit wat die demokrasie noodwendig vereis.” Jeffreys veroordeel dus sonder meer as skadelik die pogings wat die “taalbulle” ter behoud van Afrikaans aangewend het. Volgens hom moet ‘n kwalitatiewe minderheid voor die inklusiwiteit/verswelging van die massa buig. En Jeffreys meen blykbaar dat sy etniese groep tot by die Strandlopers ‘n onbevlekte verlede het. Jan van Riebeeck het egter reeds in sy dagboek hulle streke gedokumenteer. As ‘n mens jou dieselfde eensydige veralgemenings as Jeffreys veroorloof, het bruines ook geensins ‘n onbevlekte hede nie (bv dranksug, dwelmverslawing, vandalisme, bende-geweld, misdaad) maar polities korrek word dit (feitlik) nooit geopper nie.

In Jeffreys se rubrieke is dit duidelik dat Nelson Mandela ongekwalifiseerd sy groot held is. Dan is daar etniese genote soos Trevor Manuel, Jakes Gerwel en Russel Botman, wat male sonder tal opgehemel is. Afrikaanse taalstryders het Botman glo “op allerlei maniere verdag gemaak en probeer ondermyn … Hy is soms uitgebeeld as ‘n vyand van Afrikaans.” Jeffreys probeer waaragtig voorgee dat Botman ‘n lojale ondersteuner van Afrikaans was: “In Botman het Maties ‘n ware taalstryder vir Afrikaans gehad,” maar Botman se eie kinders is anti-Afrikaans gesind. As rektor was Botman nie bereid om ‘n sent aan die US se woordeboek van Afrikaanse geneeskundige terme te bewillig nie. Enige objektiewe waarnemer sal erken dat Afrikaans in die Botman-era met rasse skrede agteruit geboer het. Jeffreys verskaf self die rede hiervoor. Botman “het ‘n breër visie gehad. Een wat Maties gesien het as ‘n integrale deel van Suid-Afrika, Afrika en die wêreld – ‘n instelling wat inklusiwiteit [en] toeganklikheid” nastreef. Jeffreys reken dat Botman genoegdoening uit die nuwe US-taalbeleid sou put. Ek stem saam. Maar Jeffreys sal nie ‘n flenter omgee as Jannie Marais, die US se stigtingsweldoener, in sy graf omdraai nie.

In Die Burger (26 November, p 11) word ‘n leser soos volg aangehaal: “My man het in die 70’s gekwalifiseer as geneesheer by Maties, al was hy Engelssprekend. Hy het klas geloop in Afrikaans, maar is toegelaat om sy eksamens in Engels te skryf. Hy het by die US ingeskryf omdat hy daar wou wees (oa vir die rugby!) en hy het aangepas by die taal – die universiteit het nie aangepas by hom nie! Dis so goed ek gaan Foschini toe en dring aan om vleis daar te koop. Daar is genoeg Engelse universiteite … wanneer word Ikeys gedwing om in Afrikaans onderrig te gee?”

PEN Afrikaans het nie, soos tereg verwag kon word, op sy eie op die nuwe US-taalopset gereageer nie. Eers toe hy deur LitNet om kommentaar genader is, het Danie Marais, die oorverligte nuwe bestuurder (Praag 9 en 16 November), soos volg geskryf (LitNet 27 November): “Die bestuur van PEN Afrikaans is versigtig optimisties oor die hersiene taalbeleid van die US. Dis egter onmoontlik [?] om te raai wat die langtermynimpak van hierdie beleidsverandering op Afrikaans as akademiese taal gaan wees. Die effek van die US-taalbeleid gaan afhang van die doeltreffendheid waarmee die doelstellings wat daarin vervat is, verwerklik word. Selfs al sou die taalbeleid daarin slaag om die geleentheid tot voorgraadse studie in Afrikaans te verseker en te bevorder, bly daar vraagtekens oor die gebruik van Afrikaans in nagraadse studie. Sonder die daadwerklike bevordering van ook nagraadse Afrikaanse akademiese skryfwerk en publikasie lyk die toekoms van Afrikaans as akademiese taal bitter onseker.”

Die nuwe taalbeleid word dus nie deur PEN Afrikaans verdoem nie. Polities korrek is hy “versigtig optimisties,” al word dié goeie verwagting darem ietwat getemper. Sodanige kwalifisering moet egter nie vertolk word as ‘n afwyking van die linkse politieke inslag van PEN Afrikaans nie. “PEN Afrikaans staan ‘n inklusiewe benadering tot taalkwessies voor. Ons is dus nie ten gunste van enige toepassing van die taalbeleid wat tot nadeel of uitsluiting van enige studente aanleiding gee nie. [Dus: vleis moet by Foschini te koop wees.] Ons doen ‘n beroep op die US se bestuur, raad en dosente om erns te maak met die implementering van die taalbeleid en die daadwerklike bevordering van veeltaligheid [eerder as van Afrikaans?]. Met die langtermyn in gedagte, kan Afrikaans op tersiêre vlak slegs deur amptenare en hoogleraars wat sensitief met die taal- en kultuurverskeidenheid van alle studente omgaan, bevorder word.”

Die eintlike taalinstansie wat veronderstel is om dadelik op iets soos die drastiese amptelike verandering in die US-taalbeleid te reageer, is die Afrikaanse Taalraad (ATR). Op kenmerkende wyse het hy geswyg totdat LitNet gevra het wat die ATR-standpunt is. Die uitvoerende hoof, Jacques van der Elst, het toe ‘n antwoord geformuleer (LitNet 27 November). Gewoonlik vrek die ATR oor politieke korrektheid en leun hy agteroor vir “Afrikaanses”. As Van der Elst nie so erg stief soos ander ATR-direksielede oor Standaardafrikaans klink nie, moet in gedagte gehou word dat hy voor sy aftrede ‘n Afrikaansdosent op Potchefstroom was en diep geraak is deur die mate waarin Afrikaans en Afrikanerkultuur in die eertydse Dopperhemel deur politieke korrektheid en ANC-gedienstigheid gesaboteer word.

“‘Meertaligheidsdoelwit’ is die etiket op die houer waarin [die US-] raadsbesluit verpak is. Niemand [?] sal sê dat dit ‘n besluit téén Afrikaans was nie … Die uiteensettings wat ek wel oor die nuwe taalbeleid kry, dui op ‘n baie regverdige [?] opset van ‘n gelyke bedeling vir die twee tale. Om die waarheid te sê, dit lyk of die Afrikaanse student selfs ‘n meer gewaarborgde [?] toegang tot Afrikaanse onderrig kry as voorheen … Is dit egter nodig dat die vlagskip van Afrikaanse universiteite, selfs van alle universiteite in die land, so akkommoderend ten opsigte van Engels moet wees? Is die universiteit dan so onder taaldruk, terwyl daar twee Engelse universiteite [eintlik drie: Universiteit Kaapstad, Universiteit van Wes-Kaapland en Cape Peninsula University of Technology] in sy onmiddellike omgewing gevestig is, waarvan een [eintlik grootliks al drie] volledig eentalig Engels is en waar die edel doelwit van meertaligheid ver te soeke is?”

“Ek is bevrees dat die US op die lang duur tog sy unieke Afrikaanse identiteit gaan verloor, of dalk [?] al verloor het. Taal is gelyk aan identiteit – dis nie sommer ‘n nutsmiddel nie. En dis tog nie ‘n misstap om net Afrikaans te wees nie. Natuurlik gaan die besluit ‘n nadelige uitwerking hê op die hoër funksies van Afrikaans as akademiese taal. Stil-stil kan dit, as belanghebbendes [soos die ATR] nie keer nie, ook ‘n uitkringende negatiewe effek hê op die bestaan (voortbestaan) van eentalige Afrikaanse skole … Volgens die jongste sensus het byna sewe miljoen Suid-Afrikaners aangedui dat Afrikaans hulle gebruikstaal/moedertaal is … laat hulle hulle meesleur deur die golf van verengelsing met al sy ideologiese implikasies wat die land oorspoel?”

Die uitgeweke joernalis en historikus, Leopold Scholtz, se pa, die historikus en joernalis G(ert) D(aniel) Scholtz (1905-1982), was ‘n volbloed-Afrikaner. Tekens van GD se invloed op Leopold is nog duidelik waarneembaar wanneer sy seun in Nederland oor Afrikaans skryf (Die Burger, 28 November, p 12). “Daar is veral drie redes waarom die besluit van Stellenbosch om tweetalig te word en die rigting waarin Potch beweeg, rampspoedig is. Eerstens het verskeie gerespekteerde internasionale navorsers (Jean Laponce, Joshua Fishman, François Grin) gewys op wat gebeur wanneer ‘n swakker taal aan ‘n onderriginstelling op gelyke vlak met ‘n sterker taal moet meeding: Die swakker taal verloor onherroeplik veld en verdwyn ten slotte of oorleef as ‘n soort kuriositeit in ‘n museumkas. Dit is in Suid-Afrika reeds geïllustreer. Aan die UPE [Universiteit Port Elizabeth] en die UWK [Universiteit van Wes-Kaapland] het Afrikaans prakties verdwyn, aan die UJ [Universiteit Johannesburg] en die UP [Universiteit Pretoria] is dit op sterwe na dood, en aan die UV [Universiteit Vrystaat] gaan dit die kreeftegang. Hoe kan dan beweer word dat Afrikaans se posisie op Stellenbosch juis verstérk word? Op Stellenbosch het agtereenvolgende bewindhebbers [Chris Brink en Russel Botman] plegtige beloftes oor die behoud van Afrikaans gedoen, en op papier is dit – soms – nagekom. Maar die verband tussen die papierbeleid en wat op voetsoolvlak in die lesinglokaal gebeur, waar dit saak maak, is dikwels toevallig.”

“Ek herhaal dus wat ek ‘n paar jaar gelede in dié ruimte [Scholtz se weeklikse rubriek in Die Burger] geskryf het. Mense, hóór nou wat ek hier sê: As sake nie omgekeer word nie, sal Stellenbosch (en Potch!) binne 15 tot 20 jaar (as dit nie gouer is nie) eentalig Engels wees.” Wat ek hier bygevoeg, is dat dit deel is van die die land se “vreedsame oorgang na demokrasie, meerderheidsregering en vryheid vir almal.”

“Ten tweede, ‘n Stellenbosch en ‘n Potch sonder ‘n volwaardige Afrikaanse aanbod is die dood in die pot vir Afrikaans op skool. Sonder die vooruitsig om in Afrikaans te kan studeer, is daar minder [onvoldoende?] rede vir skole om Afrikaans te bly. Diegene wat die universiteite verengels, al gebeur dit met die edelste motiewe, help aktief aan die einde van hul moedertaal.”

“Ten derde is dit ‘n pedagogiese feit dat moedertaalonderwys ook op tersiêre vlak noodsaaklik is.” Scholtz haal dan Nederlandse akademici aan wat protes aanteken teen die neiging by sommige Nederlandse universiteite om te verengels. Begrips- en algemene geestelike en akademies-wetenskaplike vorming, dus die vermoë om daadwerklik te verstaan, word ten beste in die skolier en student se moedertaal tuisgebring.

Ek het groot waardering vir die stekie waarmee Scholtz sy rubriek afsluit. “Dis ten slotte ontstellend dat van die Afrikaanse [dus Naspers-] koerante slegs Rapport tot nog toe ‘n prinsipiële geluid oor die saak laat hoor het [Praag 30 November]. Hopelik verander dit nog.” Dié hoop het nie beskaam nie. Die dag daarna het Die Burger (29 November, p 14) nie ‘n hoofartikel nie, maar darem sy weeklikse redaksionele rubriek, Dawie, aan die US-taalbeleid gewei; ‘n hele week nadat dié gewraakte besluit geneem is.

Die Burger en die hanskakies

Die Burger spreek hom nie in beginsel teen hierdie radikale US-raadsbesluit uit nie. “Die groot toets vir die Universiteit Stellenbosch se nuwe taalplan lê in die wyse waarop dit uitgevoer gaan word.” Dan word argumente vir sowel die pro-Afrikaanse as die pro-Engelse of meertaligheidstandpunt aangevoer. Wesenlik kom dit daarop neer dat die erflating (aanvanklik het ek geskryf: nageboorte) van Louis Botha en Jannie Smuts se hanskakie-mentaliteit gelyk gegee word. (HAT: hanskakie: “Minagtende benaming vir ‘n Afrikaner wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog na die Britse kant oorgeloop het.”) Byvoorbeeld: “Afrikaans kan ‘n hindernis wees wat swart studente uitsluit, en by ‘n universiteit wat as ‘n bakermat van apartheid bekend gestaan het, is groter toeganklikheid moreel noodsaaklik.”

“Uiteindelik kan nie van die [US-] raad verwag word om op te tree asof die toekoms van Afrikaans sal staan en val na gelang van wat aan die US gebeur nie.” Waarom nie? Dit kan ‘n belangrike rede vir die US se voortbestaan wees en dit was sodanige rede. Motivering vir Die Burger se standpunt word nie verskaf nie. Wat hier verkondig word, word blykbaar deur die koerant as vanselfsprekende evangelie aanvaar. Dawie is darem “onomwonde ten gunste van die behoud van Afrikaans as ‘n onderrigtaal aan die US, met die voorbehoud dat dit nooit [!] weer as meganisme vir onbillike uitsluiting gebruik word nie.” Dit is ‘n lomp eierdans soortgelyk aan dié van PEN Afrikaans hierbo. Die implikasie is blykbaar dat as Afrikaans veroorsaak dat sommige studente uitgesluit word, Die Burger nie meer ten gunste van Afrikaans as US-onderrigtaal sou wees nie.

Dan kom Dawie by Die Burger se geliefde Botman uit. “As Maties (in die woorde van wyle prof Russel Botman) ‘n plek moet wees waar sowel die boer se seun as die plaaswerker se dogter kan studeer, moet daar maatreëls wees om te sorg dat die plek van die Afrikaanse plaaswerkersdogter van, sê maar, Laingsburg of Klaarstroom nie geneem word deur die welvarende Engelssprekende sakeseun van Durban nie.” Botman se bedenklike rassistiese en seksistiese redenasie het ek reeds in besonderhede aan die kaak gestel (Praag 20 Julie). Nou borduur Die Burger voort op Botman se ongure argument deur sowel welvarendheid as taal rassisties en seksisties verdag te maak.

In sy laaste paragraaf gooi Dawie die volgende sousie oor die gereg wat hy voorgesit het. “Geen taalplan is egter in isolasie ‘n waarborg van enigiets nie. Die raad en die volgende rektor moet sorg dat die nuwe taalplan só toegepas en bestuur word dat Afrikaans nie vedere skade ly nie [!], terwyl toeganklikheid en diversiteit daadwerklik bevorder word. Mag die US se administrasie, akademici en alumni sy/haar hande in dié taak sterk.” Die Burger het dus voorbeeldig nie-seksisties die opsie van ‘n vrou as US- rektor oopgehou. Dit is baie duidelik dat Die Burger die nuwe US-taalplan verwelkom. Geen woord word gerep oor die verkragting van Jannie Marais se stigtingsvoorwaarde nie. Hierdie koerant is sekerlik nie meer ‘n bondgenoot van die Afrikaner en Afrikaans nie.

Vir my en my geesgenote bly daar net een eerbare grondslag oor. Wees met oorgawe altyd wat jy is: Afrikaner en Afrikaans.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.