Franse filosoof oor nuwe anti-Semitisme

Deel op

Volgens Finkielkraut is Westerse intellektuele in die greep van ‘n “internasionalistiese pogromisme” waardeur hulle alle groepe wat hul etniese identiteit wil behou, stigmatiseer as “die enigste ware rassiste”.

Deel op

Die bekende Franse filosoof, Alain Finkelkraut, waarsku in ‘n nuwe boek dat anti-Semitisme verander het. Die bron daarvan is nie meer etniese nasionalisme soos in die verlede nie, maar die multikulturele beweging.

In ‘n boek genaamd Au nom de l’Autre (In die naam van die Ander), skryf hy, “die toekoms van haat is nou in die kamp van die multikulturele beweging en nie in dié van Vichy se volgelinge nie.” Vichy was tydens die Tweede Wêreldoorlog die setel van die Franse regering wat met die Duitse Nazi’s saamgewerk het. Finkelkraut beklemtoon verder: “Die probleem is in die kamp van die rasgemengde samelewing en nie in dié van die etniese nasie nie.”

Alain Finkielkraut
Alain Finkielkraut

Finkelkraut het hom voorheen teen etniese nasionalisme uitgespreek en die universele aard van die Franse nasie beklemtoon, teenoor die Duitse tradisie van Herder en ander wat klem lê op taal en afkoms.

Hy het ook kritiek gelewer op die vervlakking wat gepaardgaan met die multikulturele samelewing, maar dit is die eerste keer dat hy hom so sterk uitspreek teen multikulturalisme as bron van anti-Semitisme en haat jeens bepaalde etniese groepe soos Jode.

“Dit wat tans teen die Jode gehou word, is nie dat hulle die Franse identiteit korrupteer nie, maar dat hulle martelaarskap afdwing of laat afdwing in hul naam op die andersheid van die Palestyne.”

Volgens hom is Westerse intellektuele in die greep van ‘n “internasionalistiese pogromisme” waardeur hulle alle groepe wat hul etniese identiteit wil behou, stigmatiseer as “die enigste ware rassiste”. Dit lei tot ‘n nuwe anti-Semitisme wat aan die opmars is in Europa, maar dié keer nie in die naam van rasse- of etniese suiwerheid nie, maar in die naam van die verpligting om te meng.

Hy skryf hierdie nuwe onverdraagsaamheid teenoor Jode toe aan die “kultus van die Ander.” In samehang met die “kultuur van skuld en verskoning” onder Europeërs, veroorsaak dit dat die Ander, “selfs al gedra hy homself soos ‘n verklaarde vyand, nooit enigiets beoefen behalwe geregverdigde selfverdediging nie; as hy wandade pleeg, is dit in reaksie op die reaksionêre gees, in reaksie op apartheidsmaatreëls of op die veiligheidsmaatreëls waarvan hy die slagoffer is.”

Ook weens die hoë aantal Arabiere en Moslems in Frankryk, is die gevalle van anti-Joodse aanvalle op sinagoges en begraafplase besig om toe te neem. Frankryk beskik oor ‘n groot Joodse gemeenskap van ongeveer 700 000 siele.

Uit die PRAAG-argief: hierdie artikel is vir die eerste keer gepubliseer op 8 September 2003 om 16:07

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.