Die metaalwerkersvakbond Numsa beplan om ‘n optog na die departement van staatsveiligheid se hoofkantoor in Pretoria te hou uit protes teen wat hulle noem ‘n “vals intelligensieverslag”.
Die minister van Staatsveiligheid, David Mahlobo het egter die Inspekteur-Generaal van Intelligensie gevra om die bewerings te ondersoek.
In dié verslag word beweer dat Numsa beplan om die regering te destabiliseer.
Die adjunk-hoofsekretaris van Numsa, Karl Cloete het vroeër vandeesweek aan joernaliste gesê dat ‘n vals dokument versprei word as deel van ‘n plan om die vakbond te vernietig.
Die vakbond wil antwoorde hê oor waarom sy leier se selfoon afgeluister word, waarom geheimsinnige motors sy ampsdraers agtervolg en waarom staatsveiligheidagente probeer om Numsa se vakbondverteenwoordigers te werf om binne-inligting te kry oor die beplande United Front-beweging.
In ‘n weerlegging die verslag, wat aan die media uitgelek het, het die vakbond kommer uitgespreek oor die “interessante ooreenkomste” wat die verslag toon met ‘n verklaring van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) vroeër uitgereik het oor Numsa.
Die SAKP is gekant teen pogings van Numsa om ‘n sosialistiese werkersbeweging op die been te bring.
Die departement van staatsveiligheid het intussen enige betrokkenheid by die beweerde komplot ontken.
Die woordvoerder van die departement, Brian Dube sê hulle verwerp die aantygings met die minagting wat dit verdien.
Hy sê hulle is ook besorg oor die verpolitisering van staatsamptenare se werk in sake wat binne die vakbondstrukture val.