Eskom het kragverbruikers gewaarsku dat beurtkkrag van Donderdag asook oor die naweek ingestel kan word.
Die waarskuwing is Woensdag uitgereik dat beurtkrag weer ingestel kan word indien die druk nie op die kragnetwerk verlig word nie.
“Ons gebruik tans ons noodreserwes,” het Andrew Etzinger, woordvoerder van Eskom, gesê. “Na verwagting gaan die noodreserwes voor die einde van die week uitgeput wees wat ekstra druk op die kragnetwerk gaan plaas en die kans op beurtkrag kan verhoog.”
Die hele land word geraak deur die kragprobleme.
Eskom sukkel om aan die vraag na elektrisiteit te voldoen, gedeeltelik weens probleme by die Majuba-kragstasie in Mpumalanga.
Intussen sê Eskom hy verwag dat eenheid ses van die nuwe Medupi-kragstasie binnekort in werking gestel sal word.
Die kragverskaffer het egter gewaarsku dat dit nie die einde van die kragprobleme sal beteken nie.
Instandhouding by die Cahora Bassa-aanleg in Mosambiek plaas glo bykomende druk op kragvoorsiening.
ʼn Steenkoolsilo het verlede maand by die Majuba-kragstasie in Mpumalanga ineengestort en landswye kragonderbrekings tot gevolg gehad.
Die silo het meer as 10 000 ton steenkool geberg en die voorraad na ses ander eenhede by die kragstasie beïnvloed.