Omstrede wetenskaplike wil Nobelprys laat opveil

Deel op

Een van die wêreld se groot wetenskaplikes, die genetikus James Watson, is uit die openbare lewe verstoot na kommentaar oor swart IK in 2007.

Hy wil nou sy 1962-Nobelprys vir die ontdekking van die struktuur van DNS op ‘n veiling verkoop. Dit sal na verwagting meer as $3 miljoen haal.

“Omdat ek ‘n ‘onpersoon’ is, is ek afgedank van die direksies van maatskappye, so ek het geen inkomste nie, afgesien van my akademiese inkomste,” het die wetenskaplike gesê wat noodgedwonge moes bedank by die Cold Spring Harbor Laboratory, waar hy vir vier dekades gewerk het.

“Niemand wil regtig erken ek bestaan nie,” het hy aan die Financial Times gesê.

Ten spyte van sy moeilike omstandighede – Watson is nooit weer genooi om openbare lesings te gee sedert 2007 nie –  leef die Amerikaanse wetenskaplike nie in algehele armoede nie.

Hy het gesê hy beplan om die opbrengs van die medalje te skenk aan die “instellings wat na my gekyk het,” insluitend sy alma mater, die Universiteit van Chicago, en Cambridge, waar hy en sy laboratoriumvennoot Francis Crick, ontmoet het en met wie hy die Nobelprys gedeel het.

Die 86-jarige Watson beplan ook om kuns te koop.

“Ek wil regtig graag ‘n [skildery deur Engelse skilder David] Hockney besit.”

Crick se medalje wat verlede jaar opgeveil is, is deur Jack Wang opgeraap, ‘n relatief onbekende Chinese biotegniese entrepreneur, en het sowat $2,3 miljoen gehaal.

Die verkoop van Nobelpryse is ‘n onlangse verskynsel, met Watson wat slegs die vierde ontvanger is wat dit wil laat opveil.

Die Amerikaanse skrywer William Faulkner se 1950-medalje het nie die reserweprys op ‘n veiling verlede jaar gehaal nie. Faulkner se werk handel oor rasseverhoudinge in die Amerikaanse Suide.

In Oktober 2007 het Watson aan die Sunday Times gesê dat hy “somber voel oor die vooruitsig van Afrika”, want “al ons sosiale beleidsrigtings is gebaseer op die feit dat hulle intelligensie dieselfde is as ons s’n, terwyl al die toetse sê dis nie regtig so nie.”

Hy het later dieper in die moeilikheid geraak ná hy anekdotiese verslae aangehaal het wat beweer swart werknemers is minder intelligent, en dat daar geen talentvolle swart wetenskaplikes bestaan wat gewerf kan word om in sy laboratorium te werk nie.

Watson se rasseteorieë oor IK het akademiese ondersteuning uit ‘n paar oorde ontvang, soos onder meer in Richard J. Herrnstein en Charles Murray se omstrede boek The Bell Curve, wat beweer dat Ashkenazi-Jode en Chinese oor ‘n hoër IK beskik as gewone blankes.

“Ek is nie rassisties in ‘n konvensionele manier nie,” het hy aan die Financial Times gesê.

“Ek vra om verskoning … die [Sunday Times] joernalis het op een of ander manier geskryf dat ek bekommerd is oor die swartmense in Afrika as gevolg van hul lae IK. En jy is nie veronderstel om te sê dat dit so is nie.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.