Eskom-raad baklei soos kat en hond, o.a. oor R43m vir New Age-koerant

Deel op

Eskom is die jongste semistaatsinstelling waarvan die raad dalk binnekort weens onbekwaamheid en binnegevegte vervang sal moet word. Die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, sal by die volgende kabinetsvergadering aanstaande week so ‘n voorstel indien.

Volgens die New Age-koerant van gister het die voorsitter van die Eskom-raad, Zola Tsotsi, ‘n brief aan Brown geskryf waarin hy haar hulp versoek aangesien die raad sonder hom vergader het.

Tsotsi het blykbaar gepoog om die raadsvergadering te kanselleer. Maar die lede, wat sekere items wou bespreek alvorens Eskom se halfjaarlikse uitslae bekendgemaak word, het sonder hom met die vergadering voortgegaan.

Een van die kwessies was die R43m-borgskap wat ‘n Eskom-amptenaar – waarskynlik die vorige HUB Collin Matjila – met die New Age gesluit het. Die borgskap behels dat Eskom se embleem tydens direkte uitsendings met kabinetsministers by die New Age uitgesaai word.

Die New Age-koerant behoort aan die Gupta-familie wat noue bande met die regerende ANC handhaaf en ook heelwat inkomste vir hul koerant vanuit regeringsborgskappe verkry.

Die transaksie is egter deur Eskom se ouditeure as ‘n “aanmeldbare onreëlmatigheid” bevraagteken.

Vrydag het die Mail & Guardian-koerant berig dat Tsotsi en Matjila gepoog het om die ouditeursopmerking stil te hou, maar hulle het blykbaar die stryd verloor teen die voorsitster van die oudit- en risikokomitee, Bajabulile Luthuli, wat van mening was dat die raad geen ander keuse had as om daaroor verslag te doen nie.

Matjila sit steeds op die raad as ‘n gewone lid en hoof van die tenderkomitee ná sy termyn as hoof van Eskom.

Uit die binnekring van Eskom is daar gister gesê dat die raadslede reeds maande lank met mekaar haaks is. Afgesien van die omstredenheid rondom die New Age-borgskap, heers daar ook spanning oor die toekenning van ‘n herstelkontrak vir Koeberg aan die Franse maatskappy Areva, nadat Eskom se tegniese komitee die Amerikaans-Japannese firma Westhinghouse aanbeveel het.

Westhinghouse beweer dat die spesifikasies verander is nadat hulle hul bod ingedien het. Die maatskappy het daarom ‘n hofaansoek gebring. Die nuwe aanstellings sal deur graderingsagentskappe, ekonome en Eskom-bestuurders dopgehou word.

Afgesien van bedryfs- en finansiële probleme, ervaar Eskom ook probleme met personeel wat bedank. Vier senior bestuurders het oor die afgelope jaar bedank, waaronder die HUB Brian Dames en die finansiële direkteur Paul O’Flaherty.

Daar heers ook onbevestigde gerugte dat verskeie senior bestuurders Eskom intussen vaarwel gesê het. Drie van die hoof- IT-spesialiste het pakkette aanvaar; ‘n vierde het bedank. Eskom is bloot die jongste van die semistaatsinstellings met drama in die raadsaal wat in die media uitspeel. Verskeie aander openbare maatskappye is deur konflikte op hul rade verskeur.

Die ANC het onlangs sy kommer oor die toestand by Eskom uitgespreek en ‘n ondersoekkomitee aangewys.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.