Oor vyf Kaapse rassiste en Nazi-vergelykings

Deel op

Vanoggend ontvang ‘n brief in my epos van ‘n leser wat eintlik aan Marianne Thamm van die Daily Maverick gerig is, na aanleiding van haar rubriek oor vyf Kaapse rassiste. Daarop het ek soos volg geantwoord.

Jy kan gerus maar aan me. Thamm op Afrikaans skryf; sy is die taal heel goed magtig. Hoe lank ons nog Afrikaans mag skryf, is natuurlik ‘n ope vraag, gegewe die feit dat sy edele, minister Blade Nzimande, so pas gesê het dat hy enige oorblywende of selfs nuwe privaat- Afrikaanse instelling sal “toemaak”.

roodt_dan_wikiMaar terwyl ons nog daardie vryheid geniet – wees dankbaar! – laat ons nie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie.

Ek het nie daardie storie van die “vyf jong blankes uit goeie huise” gevolg nie. Ek neem aan hulle is Engels, dit verklaar seker hoekom hulle uit “goeie huise” kom. Ek en jy kom nie uit “goeie huise” nie.

Miskien moet jy nie die Daily Maverick so ernstig opneem nie. Marianne Thamm se skalkse humor waar sy “na-oorlogse Duitsland” met “wit Suid-Afrikaners” vergelyk, het my laat glimlag. Of miskien is ons blanke belastingbetalers daaraan “skuldig” dat hulle die winste van Daimler Benz en BMW verhoog deur al daardie miljarde aan die ANC en SAKP se soustreinryers en tenderpreneurs beskikbaar te stel sodat hulle Mercedesse en BMW’s kan koop?

Gegewe dat die Ontvanger van Inkomste, volgens ‘n onlangse aankondiging, nou net in Engels gaan kommunikeer, is ons dalk kwytgeskeld van belastings en sal ons nie langer die Nazi-motorbedryf in stand hoef te hou nie. By die mees onlangse Johannesburgse Internasionale Motorskou het ‘n besoekende Nazi, juis by die BMW-stalletjie, my vertel dat een uit elke agt Duitsers deesdae in die motorbedryf werksaam is. Hulle klink heeltemal te dom om van tenders en regstellende aksie te leef, daardie klomp Duitse Nazi’s. Mev. Merkel het nie eens ‘n Nkandla nie en luister boonop graag na Wagner, Hitler se gunstelingkomponis. Dis eenvoudig verregaande!

Ek sien Zapiro is ontsteld dat ek verwys na die rol van die marxiste in ons onlangse geskiedenis.

zapiro_dan_steve

Hoe vreemd, want almal is dan so trots om, hetsy lede van die SAKP, hetsy graduandi van ons universiteite te wees waar Karl Marx en sy horde dissipels van die Frankfurtse en ander skole net met die nodige eerbied, piëteit en bowenal toewyding behandel moet word? En mnr. Joe Slovo, “ons vader van die nasie” wat met ‘n rylaan in Johannesburg (eens bekend as Harrowweg) vereer is, was mos ewe trots daarop dat hy uit ‘n “goeie huis” doer in Obelei, Litaue gekom het om die rooi evangelie aan ons arme agterlike Afrikaners te bring, nie waar nie? As jy nog nie sy biografie onder oë gehad het nie, lees Hoe Joe Slovo die land verower het.

Benewens die vyf miljoen wat onder Thabo Mbeki aan Vigs dood is, is 500 000 sedert 1994 vermoor. Dis ‘n bagatel, ja, ek weet. En die 4000 boere wat sadisties gemartel en uitgemoor is, is insgelyks niks om oor huis toe te skryf nie. Dis alles net so pragtig… “nie-rassig”. Soos Winnie op ‘n kol gesê het: “The farmers are killing themselves.” Dis nou swart humor.

Die enigste rassistiese staatsdepartement wat nog oor is, is korrektiewe dienste wat steeds die aangehoudenes volgens ras klassifiseer. Slegs 1,2% van alle misdadigers wat vonnisse uitdien, is blankes!

Hoe is dit moontlik, sou jy vra? Met al die rassistiese blanke Nazi’s wat vry rondloop en, soos Steve ook gesuggereer het, veroorsaak dat mense in Soweto hoë mure om hul huise bou om hulle teen aanvalle, rooftogte, moord en verkragting te beskerm, is daar duidelik iets fout.

Dalk sal jy binnekort die antwoord in die Daily Maverick lees. “Skreeusnaaks” is mos die Foucauldiaanse popspeler se gunstelingwoord. Dit beloof om skreeusnaaks te wees. Miskien het Harry Potter en sy vriende ons getoor om net te vergeet van die “ware toedrag van sake” toe die blanke Nazi’s 500 000 mense vermoor het?

Ekskuus, my fout. Dis baie meer as 500 000! Soos senior advokaat Steven Budlender in die agbare poppekas, ekskuus, hof, gesuggereer het: vóór 1994 is miljoene swartes deur die blanke Nazi’s in ‘n volksmoord uitgewis. Omdat Mandela so gaaf was, het hy ons vergiffenis geskenk en het ons ons Nürnbergverhoor vrygespring. Ons hoef nie eens gemartel te gewees het om die waarheid te bely nie en geen Britse laksman soos Albert Pierrepoint het ons met ‘n snel werkende galg kom regsien nie.

Maar binnekort sal jy dalk nie meer daaroor mag praat nie, want miskien raak “apartheidsontkenning” ‘n strafbare misdryf à l’allemande. Dis nou die mense wat hoog opgee oor “vryheid van spraak” wat so iets in die mou voer.

Nog swart humor, as dit nou nie ‘n rassistiese term is nie, net enkele dae ná Swart Vrydag toe die Beierse Motorwerke-handelaars seker flink sake met staatsamptenare gedoen het.

Wat “name calling” betref, waarna jy ook verwys, is dit ongelukkig die enigste pyl in die politiese korrekte koker. Ongeag wat jy sê of doen, gaan hulle jou ‘n “rassis” en ‘n “Nazi” noem. Vermy dit dus om ‘n Duitse motor te ry en betaal hulle in eie munt terug.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.