Media24 ken Mandy Rossouw-kleinhuisieprys aan Conrad Koch toe

Skoppensboer het ook vandeesweek mit gespannter Aufmerksamkeit die nuwe reëls in ons agbare howe gadegeslaan. Reël nommer 1, subartikel (a) is: Bring jou pop saam. Subartikel (b) van dieselfde reël bepaal: Trek loslit aan en laat jou pop met sy skoene op die bank sit. Of verkieslik op Edelagbare se skoot.

Reël 2 is: Maak die landdros ‘n figurant in jou poppespel en kry die media om dit alles op video vas te lê. Reël 3 is: Enige uitspraak van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het regskrag in ‘n Suid-Afrikaanse Hof, veral as Zimbabwe daarvoor gestem het. En dan reël 4: Enigiets is toelaatbaar, solank jy nie “apartheidsontkenning” of “holocaust-ontkenning” pleeg nie.

skoppensboerOns weet dat moord en verkragting reeds lankal in ons land “gedekriminaliseer” is. Jy mag dit ook maar onder die invloed van drank of dagga pleeg, mits jy nie agterna ‘n motor bestuur nie. Of liewer: mits jy nie agterna ‘n motor bestuur en nie R200 by jou het om die metropolisieman wat jou mag voorkeer, mee om te koop nie.

Diefstal, maar veral diefstal uit die staatskas, is nie net toelaatbaar nie; dis verpligtend. Daar bestaan ‘n hele alfabetsop van eufemistiese terme daarvoor, soos BEE, BBEE, SEB, AA, RA, en wat nog. Die enigste vorm van entrepreneurskap is tenderpreneurskap.

Omdat Skoppensboer nie ‘n dief of tenderpreneur is nie, roem hy hom allermins as “varkwagter by die nuwe bedeling”, soos oorle Izak de Villiers in ‘n toespraak voor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns op Potjiesdorp geseg het.

Dat die bedeling egter oor al hoe meer varkwagters beskik, is gewis. In ou Rome, waar ons Romeins-Hollandse reg vandaan kom, was dit ‘n belediging om vullis voor jou buurman se huis te gooi en kon hy jou daarvoor dagvaar. In die Kaap smyt hulle sommer ontlasting voor die provinsiale parlement! Baie onromeins, maar tog “proudly South African”, soos dit deesdae op Ingels heet.

O tempora o mores! het Cicero gesê, as dit nou nie ‘n flagrant regse aanhaling is nie.

Media24, wat al die grootste Afrikaanse dagblaaie ter wêreld besit, is skaam vir Afrikaans, maar trots Suid-Afrikaans. Daarom ook trotse varkwagters wat enige varksigheid met geesdrif omhels.

Nogtans is Skoppensboer ‘n tikkie verras deur die jongste aankondiging dat Media24 die Mandy Rossouw-kleinhuisieprys aan Conrad Koch, alias Missing Jester* toegeken het.

Mnr. Wim du Minus, adjunkopperhoof van Media24, het in die blaaie van sy groep met trots vermeld:

“As vurige varkwagters by hierdie wonderlike bedeling, kan ons nie anders as om joernalistieke talent te vereer waar ons dit raaksien nie. Naas ons Legends-pryse loof ons natuurlik jaarliks die Mandy Rossouw-prys vir politieke joernalistiek uit. Persoonlik verstaan ek maar alte goed dat alle politiek om die kleinhuisie en verskeie p- en k-woorde draai, want ek is trots om te sê dat ek in die huis van ‘n nagwadrywer op Klerksdorp grootgeword het. My pa was die ruggraat van die emmerstelsel in Klerksdorp, en dit was nie die bodorp nie. Daarom, terwyl ons Conrad Koch vir sy voortreflike bydrae tot politieke joernalistiek bekroon, wysig ons terselfdertyd die titel van die prys effens na die Mandy Rossouw-kleinhuisieprys. Komende ná die toekenning van ‘n toiletprys deur Ahmed Kathrada, die Rivonia-veteraan, aan die nimlike mnr. Conrad Koch, het ons gevoel Media24 mag nie agterbly nie. Die stroom sal ons volg, is immers ons maatskappyleuse.”

In sy commendatio tydens die oorhandiging van die prys het mnr. Du Minus in ‘n gebrabbel van Kaaps, toiletterme en ge-Kochel (‘n neologisme wat vandeesweek deur die subredakteurs van Netwerk24 gemunt is) verval, wat soos volg in die gehate apartheidstaal, Standaardafrikaans, oorgesit kan word:

“Die heer Conrad Koch en sy sjarmante klein gekleurde Doppelgängertjie, die Missing Jester, het iets nuuts na hierdie bedeling se politieke kommentaar gebring: die toilet in al haar praal en glorie. Vir almal van ons wat nie Latyn op skool gehad het nie, maar net Lewensoriëntering, Wiskundige Geletterdheid en Engels Derde Addisionele Taal, verseker hy met sy stortvloed vloeke en skatologiese geswets dat ons demokrasie tot ‘n vlak verlaag word waar selfs ons Media24-varkwagters dit kan verstaan. Hoe laer alles in Suid-Afrika daal, hoe beter. Telkens as ek verby die informele nedersettings van ons medeburgers ry, sien ek naas die wonderskone inheemse argitektuur, die simbool van die Nuwe Suid-Afrika: die tydelike toilet wat my aan die edele beroep van my vader herinner. Watersuiwering was, nes Afrikanerregering, ‘n misdaad teen die mensdom! So eie aan apartheid. Laat alle riool in die riviere en spruite instroom, en alle vuilspuite soos mnr. Koch in opstand kom teen die laaste oorblyfselfs van logika en Latyn in ons samelewing! Laat die actio iniuriarum vergaan en in die plek daarvan die Kaapse papsak of emmer vol menslike ontlasting oor ons openbare debat gesprinkel word!”

Mnr. Du Minus, wat soms president Zuma vir Nkandla en sy poligamie kwalik neem, het by die glansgeleentheid met ‘n aansienlike aantal minnaresse en bywywe opgedaag wat een en almal op die betaalstaat van Media24 verkeer. “Die verskil tussen my en Zuma is,” het hy eenmaal met ‘n skewe glimlag beken, “ek trou nie met hulle nie. Die huwelik is ‘n uitgediende instelling.” Met trots het hy bygevoeg: “Ek het ook my kinders Engels grootgemaak, en nie Afrikaans nie, anders as Jacob Zuma wie se kroos steeds Zoeloe praat.”

Tiekie van den Berg, die aanlynradio-omroeper van Netwerk24, het popelend by die prysuitdeling gesê: “Ek bewonder Conrad Koch vir sy vernuftige gebruik van die c- en die f-woord in Engels. Maar die hoogtepunt vir my was toe hy gesê het dat Steve Hofmeyr ‘n vuilsiekte het. Dis politieke kommentaar uit die boonste rakke wat ons hier by Media24 nog moet bereik. Maar ons probeer hard.”

Me. Feral Haveapee van die Pity Press-koerant in die Media24-stal het insgelyks in ‘n ontwerperstabberd “kleur” aan die geleentheid verleen. “Ek is so bly dat Missing Jester sy broeklosmaakveldtog as rubriekskrywer in Pity Press kan voortsit. Hoe meer mense hy van vuilsiekte beskuldig, hoe beter vir die demokrasie.”

Mnr. Adderjan Pasop, die redakteur van ‘n Johannesburgse dagblad het insgelyks ‘n Legends-prys vir sy ondersoekende joernalistiek na nazisme op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit ontvang. Gevra watter duistere regse geheime hy tans ontsyfer, was hy aanvanklik ontwykend. Maar ná enkele dubbelsopies brandewyn en Fanta-lemoen, het hy teenoor Skoppensboer beken: “Man, ons ondersoek nou die Wits-Nazi’s.”

“Allawêreld!” roep Skoppensboer toe uit. “Ek het net geweet van die Potch-Nazi’s. Is daar nou Wits-Nazi’s ook?”

“Ja,” seg Adderjan. “Daar wás eens ‘n hele klomp liederlike Nazi’s by Wits wat in die departemente Afrikaans en Latyn saamgetrek was. Dit was voor die Revolusie en voor Romeins-Hollandse reg deur Zimbabwiese common law in ons land vervang is.”

“Wanneer was dit?” vra Skoppensboer toe.

“Man, dit was doer in die sewentiger- en tagtigerjare. Van die Nazi-taalkundiges daar het beweer Afrikaans is ‘n Wes-Germaanse taal wat aan Nederlands verwant is en nie ‘n Khoi-San-taal nie. Kan jy glo dat enigeen so ‘n rassistiese teorie kan verkondig? ‘n Mens sidder net by die gedagte!”

“Ja, ek kan sien dit kan jou tronkstraf besorg as jy nie versigtig is nie. Dis amper so erg soos die K-woord, ek bedoel nou die een wat nie met die toilet te maak het nie… Maar gelukkig is Wits se Afrikaanse departement darem nou afgeskaf, deur die toedoen van ‘n Stalinbos-intellektueel.”

“Juistement,” beaam Adderjan Pasop, in sy jeans en oopslaanhemp, ietwat ongeskeer. “Dit eindig egter nie daar nie. Daar was ‘n departement van klassieke tale ook by Wits waar Latyn en Grieks gedoseer is, onder andere aan regstudente. Daar was twee verregse Jode in die departement waarvan een ‘n boek ter verdediging van apartheid en blanke regering in Suid-Afrika geskryf het, South Africa after Vorster, en ‘n ander ‘n meer onlangse boek teen rasstellende aksie waarin hy ook na rasverskille in IK verwys…”

“Maar dis absoluut skokkend!” snak Skoppensboer na sy asem. “Ek hoop hulle het die doodstraf gekry, voor hy nog afgeskaf is.”

“Ongelukkig lewe albei nog,” sug Adderjan. “Een woon in Londen waar hy as advokaat praktiseer en die ander het hier in Johannesburg afgetree waar hy af en toe vir verregse Amerikaanse webwerwe artikels skryf.”

“Kan jy nou meer…” merk Skoppensboer op. “Maar Wits het darem seker die departement van klassieke tale afgeskaf, nie waar nie? ‘n Mens kan nie toelaat dat Latynse spreuke ons land en ons regstelsel verder besoedel nie.”

“O ja,” sê Adderjan. “En dis nie al nie. Ons het Dan Roodt se akademiese rekords nagegaan en uitgevind hy was in albei departemente geregistreer: Afrikaans en klassieke tale. Dit verklaar waarom hy skielik as kampvegter vir Romeins-Hollandse reg ontpop.”

“Soos Ulpianus gesê het: ‘die voorskrifte van die reg is die volgende: om deugsaam te lewe, ‘n ander nie te benadeel nie en aan iedereen te gee wat hom toekom’,” haal Skoppensboer die lang vergete spreuk aan, gelukkig nie op Latyn nie, anders was hy nou in die tjoekie vir apartheidsontkenning, fascisme of ‘n ander misdryf soos dit deesdae deur Conrad Koch en sy pop “bereg” word.

Adderjan het hom egter genoegsaam aan dubbel-Richelieus en Fanta vergryp om nie agter te kom dat Skoppensboer self uit bedenklike bronne aanhaal nie. Hy gaan voort: “Dis waarom ons nou by Media24 besluit het om die hele slopemmer oor Dan Roodt, wat as handlanger vir Steve Hofmeyr optree, om te keer. Soos Karen Zoid gesê het, ‘Roodt rym met idioot’. Hy is gevaarlik dom en ons weet almal wat dom is, is regs. Ons behoort hulle almal in konsentrasiekampe te sit of daardie Sowjetstrafkampe waar hulle jou sommer op ‘n hongerdieet laat aanhou werk het tot jy dood neerslaan. Wat was die goed se naam nou weer?”

“Goelags,” help Skoppensboer hom met dié brokkie inligting. “Dit klink asof Media24 waarlikwaar die Revolusie omhels het. Maar sê my, ek is nuuskierig oor Conrad Koch se contubernium, sy regspan van agt, waaronder twee advokate, asook ses prokureurs en klerke, wat by die Randburgse Landdroshof opgedaag het om ‘n amateur- regsvrywilliger soos Roodt aan te durf?”

“Wat is ‘n contubernium? Is jy dalk ook ‘n regse, dat jy soveel Latynse terme ken?”

“O nee!” skerm Skoppensboer. “Ek is net te veel deur apartheidsonderwys beskadig, dink ek. En verder kyk ek maar goeters op Wikipedia op. ‘n Contubernium was ‘n groep van agt Romeinse soldate, wat deur ‘n decanus aangevoer is. Tien sulkes het ‘n centuria opgemaak en agt van hulle weer ‘n kohort (480) en nege kohorte ‘n legioen.”

“Jy beter pasop, jong, netnou begin ons oor jóú ook skryf. Ons moet die rassiste en die kenners van klassieke tale met wortel en tak uitroei,” sê Adderjan dreigend.

“Ek sal beslis in my pasoppens bly,” antwoord Skoppensboer deemoedig. “Maar die advokaat van die poppespeler, mnr. Budlender, ek hoor sy pa was ‘n grootkop in NUSAS by Ikeys in die donker dae van apartheid, nie waar nie?”

“Dis waar ja,” sê Adderjan. “Ons is veral dankbaar teenoor almal wat destyds so hard teen apartheid gestry het, soos mnre Joe Slovo, Ronnie Kasrils, Ruth First, Ahmed Kathrada, Billy Nair, Denis Goldberg, Lionel “Rusty” Bernstein, Bob Hepple, Arthur Goldreich, Harold Wolpe, Jimmy Kantor, Helen Suzman en nog vele ander.”

“Dis nogal opvallend dat hulle nou nie juis tot die swart meerderheid behoort het nie, nè? Behalwe vir Mandela, wat deur die firma Witkin, Sidelsky en Eidelman as prokureursklerk in diens geneem is, ‘n paar wit base wat hom seker op die regte pad gehou het, met Das Kapital en die Ou Testament en so aan,” meen Skoppensboer.

“Ja, ek sien wat jy bedoel,” sê Adderjan. “Maar die Bybel sê mos die Jode is die uitverkore volk en wie is ons om daaroor te stry? Die Jode en die Xhosas, want hulle kry mos albei sulke operasietjies op verskillende stadia in hul lewens.”

“Ai, ai, ai,” sê Skoppensboer. “Ek sal nou maar liewer stilbly, want netnou sê ek iets Freudiaans. Miskien moet ons liewer weer politiek, ek bedoel toilet, praat. Ek sien een van die Rivonia-aangeklaagdes, Arthur Goldreich, het agterna in Israel gaan aftree en is daar oorlede. Wat is Media24 se redaksionele beleid sover dit Israel aanbetref?”

“Kyk,” sê Adderjan, “uit dankbaarheid teenoor die Joodse gemeenskap wat ons blanke Afrikaners óók van apartheid bevry het en vir ons die toilettokrasie gebring het, sal ons nooit enige kritiek teen Israel uitspreek nie. Ons het die allergrootste agting vir die Israelse boubedryf, onder andere. Weet jy dat hulle die Duitsers oortref het en ‘n veel langer en hoër muur as die Berlynse Muur tussen hulle en die Palestyne gebou het? Die Berlynse Muur was ‘n Mercedes; die Israelse Muur is ‘n Meibach of ‘n Rolls-Royce!”

Adderjan is nou duidelik begeester en ruk ‘n ietwat verfomfaaide skets uit sy sak en druk dit terstond onder my neus, met die woorde: “Kyk nou daar! Is dit nie ingenieurswerk nie?”

israelmuur

Hy sit sy betoog voort, selfs sonder betooghoofde van senior advokaat Steven Budlender: “723 kilometer lank: die volmaakte skeiding tussen twee volkere! Nie net bly die Israeli’s rassuiwer nie, hulle bly ook godsdienssuiwer. Die vroue dra sulke hoofbedekkings en is feministies onderdanig aan hul gades, net soos al ons feminazi’s in Skewe-Beeld elke dag bepleit. Weet jy wat was vir my die mooiste van my besoek aan Jerusalem?”

“Uhm, nee,” sê Skoppensboer. “Wat?”

“My besoek aan die Klaagmuur! Dit was vir my pragtig dat die mans en die vroue so apart van mekaar gebid het, elkeen met sy eie stukkie van die Klaagmuur. So anders as ons Afrikaners met ons primitiewe Calvinisme wat saam-saam in die kerk na die dominee sit en luister. Dis dié dat ek vir Piet Kopdoek, George Claassen en al die ander ateïste vrye teuels gee om die God van die Afrikaner sommer ook met die toiletemmer te gooi. Ons is Hom nie waardig nie.”

“Dis die beste argument vir ateïsme wat ek nog gehoor het,” sê Skoppensboer droogweg. “Nie eens Piet Kopdoek sou so iets kon uitdink nie. Dis… geniaal!”

“Ja,” sê Adderjan. “Soos André P. Brink gesê het, ons volk verdien nie om voort te bestaan nie. Was dit maar ons wat by Auschwitz omgekom het! Dan was daar nooit apartheid nie! Dan is die wêreld ‘n misdaad teen die mensdom gespaar!”

Die vermaarde joernalis en wenner van die Legends-prys vir ondersoekende joernalistiek wat so gereeld die nazisme in sy Potchefstroomse uithoeke uitsnuffel, bars eensklaps in trane uit. Eers bêre hy sorgvuldig sy skets van die Israelse muur in een van sy jeans-sakke en haal dan ‘n snesie uit die ander.

“Ek raak baie onsteld as ek oor apartheid praat,” sê hy verskonend, alvorens hy sy neus snuit. As hy tot bedaring kom, vervolg hy: “Dis waarom ek vir Virginia Keppler aangesê het om daardie ope brief aan Steve Hofmeyr te skryf, dat hy kan besef hoe verskriklik die verlede was. Eintlik het die stryd teen apartheid nog nie opgehou nie. Dit was nie genoeg om die Groepsgebiedewet af te skaf nie. Ons moet ook die groepsgebied in ons koppe afskaf. Solank as wat Steve Hofmeyr Die Stem sing, gaan dit nie gebeur nie. Ons moet weer sáám met die Rivonia-aangeklaagdes hierdie geestelike apartheid beveg totdat daar niks meer daarvan oorbly nie. Die enigste goeie ding wat Paul Kruger gedoen het, was om 40 000 Lithause Jode toe te laat om na die Transvaalse Goudveld te kom. Sodoende het hy darem vir ons leiersmateriaal verseker, want self is ons te ingeteel en primitief om te weet wat vir ons goed is. Lees maar Marlene van Niekerk se roman Triomf waarin die Afrikaner in al sy verstandelik vertraagde bloedskande ontbloot staan. As Stalinbosse intellektueel het sy al genoeg werke van die Frankfurtse Skool van Adorno, Marcuse en Horkheimer ingeadem om die Afrikaner se outoritêre kultuur in al sy agterlikheid te deurgrond.”

“Ek sien,” sê Skoppensboer. “En soos die skrywers van The Bell Curve aangetoon het, beskik die Asjkenazi-Jode oor ‘n hoër gemiddelde IK as die gewone blanke of Triomf-bewoner, nie waar nie?”

“Presies,” sê Adderjan. “Dit strek mnr. FW de Klerk tot eer dat hy voor ‘n hoër wese soos mnr. Joe Slovo, gebore Yossel Mashel Slovo in Lithaue, gebuig het. Maar ons by Media24 het die lig gesien. Nie net buig ons voor ons meerderes nie, maar ons buig veral voor Conrad Koch se pop!”

“Dieselfde pop wat Dan Roodt vandeesweek onteer het deur hom aan te raak?” por Skoppensboer hom aan.

“Ja,” antwoord Adderjan, met sy oë wat van begeestering glinster. “Hoe durf hy, wat onrein is, daardie Heilige Simbool aanraak? Hoe durf hy?”

“Kom ons drink op die toekoms sonder Steve Hofmeyr,” sê Skoppensboer en lig sy glasie wyn wat uit ‘n Kaapse bottel met ‘n Engelse etiket kom. “L’chaim**.”

“L’chaim,” beaam Adderjan en teug aan sy soveelste Richelieu-en-fanta.

* So genoem vanweë die afwesigheid van enige humor – Skoppensboer.

** “Aan die lewe” in Hebreeus as enige leser nie daarvan bewus is nie – Skoppensboer. Sien ook onderstaande videogreep uit die klassieke film met John Wayne en Kirk Douglas, Cast A Giant Shadow.


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Henrietta

    “Hoe laer alles in Suid-Afrika daal, hoe beter.” En ‘n mens kan byvoeg, hoe meer tuis voel “hulle”.

  • Vrystater

    Die Jode in Suid-Afrika p*s (“urineer”) vandag op die goedheid van Paul Kruger en die Boere-nasate wat hulle as armlastige Joodse vlugtelinge in ons Boererepublieke toegelaat het! Dis nou stank vir dank aan hulle nuwe vaderland en Boerevolk! As mens darem maar die wiel kon terugdraai!

    • G

      Om te dink ons het daardie mislike stukkie woestyn van hulle erken wat hulle by die Palestyne gesteel het en vir hulle wapens gegee in die Sesdaagse oorlog. Dit wat hulle nou aan die Afrikaners doen gaan hulle suur bekom. Karma is ‘n biets

  • Riempies

    Amo Amas amat amamus amatus amant – Uno duo tress quartor kwinkwe sex septum octo novem decem ………………………………Duo do viginte viginte. (Onthou ek was nog baie jonk toe gewees die dat ek hierdie so goed onthou ;-))
    Skoppensboer nee wat ons sal so n gesprekkie of wat in Latyn kan gesels, dink net hoe gaan daar skepsel met die poppe en sy poppemeesters se plooie en kolle verdiep terwyl hy/hulle vrek van die
    nuuskierigheid. Laat ons almal sonder uitsondering ….. Ad Destinatum persequor!!!

  • Guest

    Yet Lynn and Vanhanen report that Israeli Jews have strikingly low IQs by comparison.

    • G

      Die mite van die “uitverkore volk”?

  • Riempies

    Desia ek het hierdie skakel gelees – en hierdie kommentaar het vir my uitgestaan:

    “Armor

    November 28, 2014 at 9:23 am

    White lives matter so little that the idea of anti-white racial
    persecution can not even be considered, according to the jewsmedia.”

  • Gas

    Terwyl Skoppensboer, wat klaarblyklik heelwat van Wits weet, by daardie universiteit stilstaan, en ook by kleinhuisies, in John Vorster se tyd het Alec Douglas-Home van Brittanje se neef of iets (familie in elk geval, ook gedoop Douglas-Home, mos (help maar reg as u nadere kennis het), in ‘n Wits-studenteblaadjie ‘n skets van ‘n student wat in ‘n spoeltoilet se pot afloer gehad en dan vra die kêrel: Are you the Prime Minister? – hierdie prime minister synde Vorster. Dit het nogal ‘n herrie veroorsaak dat hierdie Brit so laag in sy gasheerland kon daal. Maar vandag, en met die lees van Skoppensboer, weet ons die antwoord was nie so vanselfsprekend nie. Dit was toe al die tyd Adderjan. Of in ieder geval een van sy kollegas.

    • G

      Ek dink die stem in die toilet was Ton Vosloo wat die woord Afrikaanses uitgedink het toe hy die Afrikaner dood verklaar het vir sy monopolie.

  • Piet

    Kom ons wees nou maar eerlik en Skoppensboer kan dit doen sonder om hom self aan te stel: Ek dink nie Koos Kombuis en Sonja Loots is opleibaar tot skryfwerk op hierdie vlak nie. Laat hulle maar by Huisgenoot en Rapport hou. Satire wat die geteikende laat voel dis of ‘n stootskraper of ‘n snymes of albei tegelyk wat hom of haar vermink, se hooftrekke kan die tweetjies seker in ‘n lesing baasraak, daardie gesies van hulle is eenvoudig nie opleibaar tot so iets nie. Hoop maar intussen Skoppensboer bly beskeie, maar altyd vurig, gebruik die spotgereedskap maar af en toe. En: Hulle het daarvoor gesoek!

  • G

    Arme Ané. Jy het nou net die plaas weggegee. “Blankes” is SA is nie dieselfde as “Afrikaners” nie. En jy weet duidelik nie hoe die Afrikaners se prestasie lyk nie. Ek is nie deel van jou “ons” nie. Gaan sluit aan by jou Joodse vriende wat jou uitwissing beplan.

  • FR2P

    Fool. Whites and Afrikaners are not synonyms.