Revolusie van die sedes: Steve, ek en die walgpop

Deel op

Gister se sirkus by die Randburgse Landdroshof het vir my een ding bevestig: Suid-Afrika het ‘n algehele laagtepunt bereik wat norme van openbare debat en selfs die howe betref. Net soos by die Malema-haatspraakverhoor in 2010 het ek met verbasing geluister hoe die advokaat vir die verweerder ‘n argument daarvoor uitmaak dat daar geen beperking bestaan op wat Chester Missing alias Conrad Koch van Steve Hofmeyr mag sê nie of die skade wat hy hom finansieel en beroepsgewys mag berokken nie.

NUUT!

roodt_fbfotoDie stuk wetgewing waaroor dit gegaan het, Wet 17 van 2011 wat teistering verbied, is gewoon geïgnoreer terwyl advokaat Steven Budlender verklarings van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering oor apartheid in 1989 voorgelees het. (Terloops is Budlender die seun van die bekende advokaat Geoff Budlender wat in die sewentigerjare ‘n leier van die Engelse studente-organisasie NUSAS op die kampus van die UK was.)

Steve Hofmeyr het ook oor die afgelope paar uur verklaar dat dit nou “oop seisoen” is wat openbare uitlatinge in Suid-Afrika betref. Voortaan is ons almal gewikkel in ‘n semantiese oorlog in “‘n wêreld sonder grense”, om nou ‘n Afrikaanse boektitel uit die tagtigerjare aan te haal.

Soos ons ook met die Renate Barnard-geval gesien het, weet ek nie meer of ons veel geregtigheid van die howe kan verwag nie. As jy wit, Afrikaans of behoudend is – een van die drie is al genoeg – kan jy aanvaar dat die dobbelsteen teen jou gelaai is.

Sowel Steve Hofmeyr as PRAAG word geteiken. Waarom? wonder ‘n mens. Ek en Steve kom al ‘n lang pad saam, sedert ons in 2003 of daar rond saam teen die beoogde Pretoriase naamsverandering betoog het. Een van ons grondtekste is Pascal Bruckner se boek Die tirannie van (wit)skuld. Ons glo eenvoudig nie aan witskuld nie en wil gelyk met elke ander inwoner van die land behandel word.

Ons word geteiken omdat ons die afgelope paar jaar doeltreffend begin het om witskuld en van die meer groteske leuens oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis af te takel. Sowel Koch as sy advokaat argumenteer dat vorige Afrikanerregerings in ons land met dié van die Nazi’s gelykgestel moet word en dat dit, soos in Duitsland, voortaan onwettig behoort te wees om hoegenaamd iets oor apartheid te sê behalwe om dit verdoem weens die “ontelbare” (of miljoene) mense wat doelbewus vóór 1994 vermoor is! Om so iets te bevraagteken, word “apartheidsontkenning” genoem, wat kwansuis ewe aanstootlik as “holocaust-ontkenning” is.

Ander “apartheidsontkenners” waaraan ek onmiddellik kan dink, is prof. Hermann Giliomee en Ilana Mercer wat albei aspekte van apartheid gerelativeer of vergoeilik het.

Die ironie is dat diegene van ons wat weier om die mite of fiksie van Afrikaner-nazisme (met ses miljoen vermoorde swartes?) te aanvaar, geensins die vorige Nasionale Party ondersteun het nie. Mnre. FW de Klerk, Pik Botha en al die ander afgetrede ministers sê nie boe of ba nie, terwyl ons wat destyds in botsing met die regerende Afrikanerkliek was, nou die kastaiings uit die vuur moet krap!

Wat nou aan die gang is, is geen wit-swartstryd nie. Die meeste swartes in ons land kan geen flenter omgee oor wat daar van apartheid of “rassisme” gesê word nie. ‘n Klein groepie (blanke) kulturele Marxiste in Johannesburg en Kaapstad is egter daarop uit om Afrikaners en selfs Afrikaanse konserte aan te val omdat hulle nie tevrede is om die land se bates te stroop soos wat tans gebeur nie, maar enige gevaar van verandering op die horison wil neutraliseer.

Die linkse, Marxistiese kliek wat die werklike mag agter die troon van die ANC is, het die land met naakte propaganda, verguising, laster, beledigings en uitskeltegnieke in die tagtigerjare verower. In die vroeë negentigerjare het FW de Klerk en die res van die NP eerloos voor hierdie aanslag gekapituleer en vandag pluk ons die vrugte van hul oorgawe. Nou die dag sê ‘n Engelse dame vir my hier in Johannesburg: “Yes, the Nats sold us out. And we had voted for them for years.”

Ons land is met leuens, halwe waarhede, intense laster en verguising verower. Maar belangrik: dit word steeds op dié manier beheer! Die enigste verskil is dat dit nou veel erger as in die verlede is. Benewens dat jy iemand vir ‘n “Nazi”, “fascis” en  “rassis” kan uitskel, kan jy nou sommer toevoeg dat hy ‘n “moroon” en “idioot” is wat aan ‘n geslagsiekte ly. Jy kan ook ‘n volskaalse heksejag teen iemand voer, hom finansieel of ekonomies probeer benadeel, hom by sy werkgewer gaan verkla of sy Facebook- of Twitter-rekening deur middel van vals klagtes gesluit probeer kry.

Wat is die uiteindelike doelwit van dié semantiese oorlog? Maak geen fout nie: Die ekonomiese marxisme wat in Rusland tot die dood van tienmiljoene mense gelei het, het nou oorgeslaan in kulturele marxisme wat grootliks van die VSA afkomstig is. Wesentlik is die twee egter dieselfde. Een van die mees beroemde kulturele marxiste, Susan Sontag, het haarself só uitgedruk:

The white race is the cancer of human history; it is the white race and it alone—its ideologies and inventions—which eradicates autonomous civilizations wherever it spreads, which has upset the ecological balance of the planet, which now threatens the very existence of life itself.

Blankes moet die skuld dra vir alles wat in ons land en in die wêreld verkeerd loop. Hierdie groteske leuen verseker nie net die mag van ‘n klein linkse kliek – die nomenklatoera – nie, maar gee hulle ook geredelik toegang tot die staat met al sy hulpbronne. Die staat is die grootste maatskappy van almal en deur tenders, korrupsie en doodgewone diefstal en plundery word die linkse kliek met hul “humanitêre” beginsels al hoe ryker.

Hierdie toestand herinner my baie aan die 1920’s in Duitsland tydens die sogenaamde Weimarrepubliek toe wanorde en ‘n sedelike revolusie die hele land in ‘n krisis gedompel het.

Indien ons toelaat dat ons deur propaganda, asook ‘n gevloek en geskel, geheel en al oorheers en gemarginaliseer word, is daar net een voorland vir ons: ‘n Zimbabwe. Alles wat ons besit, sal op ‘n dag van ons afgeneem word: elke plaas, elke huis, elke voertuig, alles wat ons het. Soos iemand vandag op Facebook opmerk: ons is nou terug tot voor die Groot Trek.

Agter al die grappe, beledigings en “satire” wat met groot mediafanfare uitgesaai word, lek die kulturele marxiste hul lippe af vir die dag wanneer ‘n volk se hele erfenis soos ‘n ryk appel in hul skoot gaan val…

Verstaan ons mense dit? Marxisme het baie groter lande as Suid-Afrika op hul knieë gedwing en hele volksmoorde is in die naam daarvan gepleeg; vra maar enigeen in Oos-Europa. Die kulturele tipe is nie minder skadelik as die ekonomiese tipe nie. Inteendeel.

Die stryd is fel. Ons gaan nog baie houe vat. Daarom is ons meer as ooit van u steun afhanklik.

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.