VSA se buitelandse fiasko word net groter

Deel op

Suid-Afrika se Staatsveiligheidsagentskap sê in sy monitering van aktiwiteite in Irak en Sirië, is hulle nie bewus van burgers wat aan die stryd deelneem nie.

Koerante het die afgelope naweek berig dat 140 Suid-Afrikaners van Gauteng en die Wes-Kaap in Irak en Sirië veg vir die Islamitiese staat van Irak en Sirië (ISIS/IS).

Intussen is die Amerikaanse sekretaris van Verdediging Chuck Hagel, die enigste Republikein in Obama se nasionale veiligheidspan, afgedank.

Volgens Hagel was hy “nooit regtig in daardie baie hegte binnekring in die Withuis wat al die besluite neem oor die debakel waarin die VSA se buitelandse beleid regdeur die wêreld vandag verkeer nie”.

Amerika se buitelandse beleid is onteenseglik ‘n gemors. Maar wie het dan die “besluite” geneem om die “ongelooflike debakel” te skep as dit nie Hagel was nie? Hoekom is hy dan ooit in die eerste plek aangestel as dit nie sý verantwoordelikheid was nie?

Saddam is onttroon en sy Soennie-regime vernietig met groot vermaak en Amerikaanse vertoon, in ‘n flagrante skending van internasionale reg. En vandag is die Islamitiese staat, ‘n barbaarse vertakking van Al-Kaïda, in beheer van Mosoel, Anbar en ‘n derde van Soennie-Irak.

Terrorisme is ‘n daaglikse gebeurtenis, nadat die Amerikaners hul “War on Terror” geloods het. Praat van ‘n totale fiasko!

President Barack Obama het boonop vroeër haastig verklaar dat IS nie ‘n Moslem-organisasie is nie.

Irakse soldate, ondersteun deur die Sjiïtiese milisie en die ­Koerdiese peshmerga, het gister twee dorpe noordoos van Bagdad aangeval om ’n hoofpad tussen die hoofstad en die grens met Iran te probeer beveilig.

Peshmerga en ­weermagoffissiere sê hulle kon vorder tot by Jalawla, 115 km van Bagdad, en ­naburige dorp, Saadiya, wat hulle van die Islamitiese Staat (IS) probeer terugkry, sedert hulle daarvan beheer geneem het.

Tien mense wat soldate, peshmerga-lede en milisie insluit, is in gister se gevegte dood en 32 is gewond, het ’n bron by die Khanaqin-hospitaal aan Reuters gesê. Daar was geen ­onmiddellike syfers vir ­sterfgevalle van IS-­vegters nie.

Irak se Sjiïtiese regering, ­ondersteun deur ­Amerikaanse lugaanvalle, probeer om die IS te stuit sedert dit in in Junie in die hoofsaaklik ­Soenniese ­Moslem-provinsies van ­noordelike Irak bedrywig is.

Verlede week het die weermag ’n maandlange beleg van die land se grootste raffinaderye noord van Bagdad gestuit, maar IS-vegters gaan voort om gebied in die westelike provinsie van Anbar, aangrensend aan Sirië, Jordanië en Saoedi-Arabië oor te neem.

Milisie van die IS het die afgelope twee dae geveg om volle beheer oor die Anbar-provinsie se hoofstad, Ramadi, te neem.

Jalawla en Saadiya is in die Diyala-provinsie geleë wat hoofsaaklik onder beheer van Bagdad se regeringsmagte en Koerdiese peshmerga is.

‘n Senior peshmerga-amptenaar sê die IS se ­teenwoordigheid in Jalawla bedreig die­ ­Koerdies-beheerde dorpe van Kalar en Khanaqin in die noorde, asook nabye damme en olievelde.

Om weer beheer van die dorpe te kry, sal dit ook moontlik maak dat die pad tussen Bagdad en ­Khanaqin, naby die grens van Iran, heropen kan word, het ’n ­sekretaris-generaal van ­peshmerga, Jabbar Yawar, gesê.

Terwyl die Soennitiese IS-mag nog nie tot in Bagdad gevorder het nie, is hulle in beheer van dorpe rondom die Sjiïtiese ­hoofstad en het hulle verantwoordelikheid aanvaar vir ’n reeks bomme in die Sjiïtiese distrikte van die stad.

Intussen het ’n motorbom in die Sjiïtiese stad Yousufiya, 30 km suidoos van Bagdad, die lewens van vyf mense gister geëis, het die polisie bevestig

Gister is ook bekend gemaak dat twee vroue en ’n man in ­Maleisië in hegtenis geneem is, omdat hulle vermoedelik vir IS ­ondersteun. ’n Vier en dertigjarige vrou en ’n 28-jarige man is Vrydag by ’n treinstasie in Kuala Lumpur in hegtenis geneem, volgens dieNew Straits Times. Nog ’n man (33) is by ’n busterminus in ­hegtenis geneem.

Die polisiehoof, inspekteur-­generaal Khalid Abu Bakar, het gesê die verdagtes het glo verskeie ­Facebook-rekeninge waarmee hulle Maleisiërs lok om by die IS aan te sluit of geld in te samel.

Rusland sal ‘n beroep op die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies doen om ‘n formele verbod op die aankoop van olie uit gebiede wat beheer word deur terroriste, te plaas.

Dit sluit olie in wat deur die Islamitiese Staat (IS) se militante gebuit word, het die Russiese minister van buitelandse sake Sergei Lawrof Vrydag gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.