Berigte dat Sipho Masinga, die openbare uitsaaier se groepshoof van tegnologie, geskors is, is glo waar. Die SABC wou egter nie uitbrei oor die redes vir sy skorsing nie.
“Die media gaan nie gebruik word as ‘n manier om ‘n dissiplinêre proses te hanteer nie,” het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SABC, aan Sapa gesê. Volgens Kganyago is Masinga meer as ‘n maand gelede al die deur gewys.
City Press het Sondag berig dat Masinga geskors is omdat hy onderbrekings in die diens op verouderde en gebrekkige infrastruktuur blameer het in ‘n verslag.
Radiostasies en TV-kanale was verlede maand glo weens tegniese probleme van die lug af. Kganyago het gesê die verslag is ‘n “interne dokument” wat nie in die openbaar bespreek behoort te word nie.
Volgens die City Press se berig het Masinga in sy verslag gesê dat talle van die probleme met die infrastruktuur “erger gemaak word deur die aanstelling van onbevoegde mense wat moratoriums plaas op instandhouding en belegging in nuwe tegnologie.”