Afrikaans was eens ‘n koninklike en handelstaal in Europa

Dis nogal opvallend watter prominente rol Nederlanders, maar ook deesdae taalkundiges van die Potchefstroomkampus van die NWU, speel om die “kombuistaalteorie” van Afrikaans te bevorder! Eers was daar Valkhoff wat met sy boekie New light on Afrikaans and Malayo-Portuguese in die sewentigerjare die eerste skoot geskiet het. Toe ene Hans den Besten wat insgelyks beweer het dat die struktuur en woordeskat van Afrikaans aan Maleis en Koikoi ontleen is.

roodt_dan_wikiAlles dui egter daarop dat Afrikaans oor baie eeue heen “suiwer” gebly het, asook dat die taal eens ‘n hoë status as handels-, regs- en hoftaal in Noord-Europa geniet het.

Die geskrewe tradisie van Afrikaans is min of meer 800 jaar oud. Hoewel daar vandag na ons taal wat in die Middeleeue gepraat is as “Middelnederlands” verwys word, moet ons onthou dat nóg die staat Nederland nóg die taal “Nederlands” destyds bestaan het. Daarom het ons Middeleeuse digteres en briefskryfster Hadewijch die volgende in ‘n brief geskryf sonder om veel te wonder wat haar taal genoem word:

“Maer die rechte gheloeveghe hi sal weten dat die goetheit sijns liefs meerre es dan sijn sneven.”

In moderne Afrikaans lui dit so: “Maar die regte gelowige hy sal weet dat die goedheid van sy liefde meer is as sy dood.” Ons kan onmiddellik aflei dat “sneven” iets met doodgaan of sterf te make het. Trouens, die woord “sneef” as sinoniem vir “sneuwel” bestaan steeds in moderne Afrikaans en kan in die HAT opgekyk word.

Hadewijch het in die Hertogdom van Brabant gewoon wat dele van teenswoordige België en Nederland ingesluit het; vandaar die benaming “Brabants” wat aan die taal van daardie streek gegee is. As ons egter verby die verskille in spelling kyk, kan ons sien hoe min ons taal oor 800 jaar verander het!

Trouens, min ander tale ter wêreld kan hulle daarop roem dat hulle oor soveel eeue hul “reinheid, sterkte en hoogheid” behou het. Laasgenoemde drie terme verteenwoordig die opdrag van die Sweedse Akademie wat die wêreldberoemde Nobelpryse uitdeel, om die “Sweedse taal se reinheid, sterkte en hoogheid” (Svenska språkets renhet, styrka och höghet) te handhaaf.

Soortgelyk aan die verskille in spelling tussen Hadewijch se Middeleeuse Brabants en Afrikaans, verskil die Sweedse spelling ook van Afrikaans, maar ons kan sien dat al drie woorde (reinheid, sterkte en hoogheid) presies dieselfde is.

Ongeveer 95% van die woordeskat of leksikon van Afrikaans stem ooreen met dié van Nederlands, daarom is die twee tale onderling verstaanbaar. Afrikaans is egter geensins “vereenvoudigde Nederlands” nie. Vele Afrikaanse woorde kom ooreen met terme in Duits en die Skandinawiese tale, soos ons so pas vanuit die Sweedse voorbeeld kon aflei. Meer nog: Hoewel die eerste taalbeweging Afrikaans ter ere van ons vasteland vernoem het, kon ons dit ewe seer “Eurokaans” of “Nederduits” genoem het, want min mense besef watter merkwaardige ooreenkomste daar tussen die grammatika, idiome en woordeskat van verskeie Nederduitse dialekte en dié van Afrikaans bestaan.

Die woordjie “vir” wat ons aanmekaar gebruik, is afkomstig uit die Holsteinse dialek van Nederduits waar hulle dit “ver” spel (die Nederlanders sê “voor” en in Hoogduits is dit “für”). Net so bestaan die term “dörnat” in Holsteins (“deurnat” in Afrikaans), terwyl Hoogduits “durchnaß” gebruik.

Waarom staan die NG Kerk van Afrikaners as die “Nederduitse Gereformeerde Kerk” bekend en nie as die “Nederlandse Kerk” nie? Waarskynlik het die kerkvaders in die sewentiende eeu gevoel dat “Nederduits” ‘n beter beskrywing van die oorsprong van hul lidmate was as bloot “Nederlands”. Die Duitse dialek wat in die noordoostelike hoek van Duitsland, die deelstaat Mecklenburg-Voorpommere, asook die eiland Rügen, gepraat word, toon juis die grootste ooreenkomste met Afrikaans.

Op die Noord-Duitse eiland Rügen word selfs die beroemde Afrikaanse dubbele ontkenning aangetref! Die ongelukkige is egter dat die Nederduitse dialekte van Noord-Duitsland met hul fassinerende sleutels tot die herkoms van Afrikaans as gevolg van die tweede wêreldoorlog grotendeels uitgesterf het. Ongeveer driemiljoen mense praat nog Nederduitse dialekte, vergeleke met honderdmiljoen wat Hoogduits, die taal van die Suide, magtig is.

Daarom verteenwoordig Afrikaans nie net die taal van byna 400 jaar se geskiedenis in Suid-Afrika nie, maar ook ‘n voorafgaande 300 jaar se Europese geskiedenis toe Nederduits die lingua franca en handelstaal van die Hansa-stede was. Nederduits of dan Proto-Afrikaans, is in die 1300s reeds as regstaal deur die Deense konings gebruik. Tot en met die uitbraak van die vernietigende dertigjarige oorlog in Noord-Europa (1618-1648), was Nederduits ‘n groter taal as Engels, Frans, Russies of Spaans, tale wat vandag as wêreldtale gereken word.

Afgesien van J. du P. Scholtz en Edith Raidt, was daar oor die afgelope aantal dekades feitlik geen taalkundiges met insig in die verwikkelde Europese herkoms van Afrikaans nie. Boonop het hulle hul navorsing verrig in die tyd voor die internet toe al die inligting oor die Noord-Europese dialekte nie so geredelik soos vandag beskikbaar was nie. Die woord “mooi” word in die Hamburgse dialek gebruik (terwyl in Hoogduits “schön” gangbaar is) en selfs in ‘n intensiewe vorm as “mooi-mooi”.

Sulke herhalings (“plek-plek”, “gou-gou”, ens.) noem taalkundiges “reduplikasie”. Dit is een van die elemente van Afrikaans wat die kreoliste aanvoer om te beweer dat Afrikaans ‘n kreoolse taal is, wat so ‘n neiging vanweë “taalkontak” met Khoisan, Xhosa, Maleis, Portugees of wat ook al ontwikkel het. Dít terwyl die V.O.C. sy amptenare verbied het om inheemse tale aan te leer! Intussen is reduplikasie ‘n algemene verskynsel en is daar ‘n Kanadese taalkundige aan ‘n Amerikaanse universiteit wat voorbeelde van regoor die wêreld versamel. Veral in Nederduits en die Skandinawiese tale wemel dit van reduplikasie. Die Sweedse woord vir “ouma” is “mormor”, letterlik “moedermoeder”.

Weens Afrikaans se “eenvoudige” grammatika, vergeleke met Nederlands en Duits, word daar ook aangevoer dat dit ‘n teken van kreolisme sou wees. Weereens is die grammatika van Sweeds feitlik ewe eenvoudig as dié van Afrikaans, ‘n Noord-Europese taal wat nooit in kontak met Afrika of Maleisië was nie, maar wel met Nederduits (ook Platduits genoem), wat die groot aantal Afrikaans-Nederlandse woorde in Sweeds verklaar.

Sover ek weet, is geen fonologiese studie nog onderneem om presies vas te stel hoe Afrikaans in die Noorde van Europa in die ou Hanse-handelsgebied inpas nie. Afrikaans val heelwat sagter op die oor as Nederlands of Hoogduits, sonder ‘n geleende Franse “R” vanuit die keel en klink daarom meer soos Nederduits of Sweeds.

Nog ‘n opvallende verskil tussen Nederlands en Afrikaans is die woord “baie” wat ons gedurig gebruik en wat glo uit Maleis afkomstig is. Die Hollanders sê “zeer” en “veel”. Dis een van die trofeë in die kreolis se ornamentekas. Ongelukkig vir kreoliste het ‘n redelik onlangse PhD-proefskrif in die VSA, Apperception and Linguistic Contact between German and Afrikaans (2011) bewys dat twee soortgelyke woorde in sowel sewentiende-eeuse Nederlands as Nederduits bestaan het. Daarom het die Afrikaanse woord deur appersepsie – en nie soseer ontlening nie – onmiddellik aan die Kaap inslag gevind.

Daar is geen faset van die Kreoolsteorie wat nie in een of twee akademiese artikels met verwysing na Nederduits of sewentiende-eeuse Nederlands vermorsel kan word nie. Want Afrikaans verteenwoordig ‘n samesmelting van Noord-Europese dialekte wat langsaam oor honderde jare plaasgevind het.

As sodanig is Afrikaans ‘n kleinood vir sowel Suid-Afrika as Europa. Gegewe die afgang van Nederduits, veral ná die tweede wêreldoorlog toe sprekers van Noord-Duitse dialekte deureenvermeng is, verteenwoordig Standaardafrikaans vandag ‘n lewende monument aan daardie verskeidenheid dialekte wat in die provinsies van die Lae Lande, maar ook die prinsdomme en stede van Noord-Duitsland, gepraat is.

Afrikaans is nóg ‘n “gemorstaal” soos die Potchefstroomse dosent Hans du Plessis in 2006 daarna verwys het, nóg ‘n “bastertaal” soos die nie-taalkundige Breyten Breytenbach in 1973 tydens sy marxistiese fase kwytgeraak het. Veel eerder is dit ‘n taal wat na vorm en struktuur veel suiwerder as Engels of vele ander Europese kultuurtale gebly het.

Nie verniet nie het die Australiese taalkundige en self ‘n kenner van Germaanse tale, Bruce Donaldson, opgemerk:

Because of a perceived threat to the separate identity of Afrikaners vis-à-vis their English-speaking compatriots, there is a longstanding fear of those international loanwords with cognate forms in English such that they are now regarded as dispensable anglicisms with preference being given to indigenous synonyms. This phenomenon has lead to an overall impression of the vocabulary of Afrikaans being more Germanic than that of Dutch. Many ingenious neologisms, but above all loan translations from English, further contribute to the overall puristic impression of the vocabulary, lugreëling ‘air conditioning’, rekenariseer ‘to computerize’, toebroodjie ‘sandwich’; droogskoonmaak ‘dry cleaning’, muurpapier ‘wall paper’, paneelklopper ‘panel beater’. (König, E., red. The Germanic languages, bl. 503)

Die feit dat Afrikaans vandag onder uiters negatiewe politieke omstandighede en die oorheersing van ‘n Engelse staatstaal oorleef, getuig verder van sy adellike grootsheid wat van die 1300s tot vandag toe voortleef en nog wag om deur skrywers en veral taalkundiges ontdek te word.


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.