Ramaphosa berispe DA oor parlementêre wanorde

Deel op

Adjunk-President Cyril Ramaphosa sê die DA se besluit om met die mosie teen president Jacob Zuma voort te gaan, het die veelparty-ooreenkoms wat bereik is, geknou.

Hy sê die DA-besluit druis in teen die ooreenkoms wat Dinsdag met partyleiers bereik is.

Ramaphosa sê al die partye het ingestem om ‘n politieke oplossing vir die onuithoudbare toestand in die parlement te probeer vind.

Volgens hom druis die DA se mosie in teen die gees van die ooreenkoms.

Die parlement het intussen die DA se mosie om Zuma te berispe, verwerp.

Die DA-leier Mmusi Maimane, het die mosie ingedien omdat Zuma vrae in die Nasionale Vergadering skriftelik wou beantwoord.

Die mosie is met 217 stemme teen 78 verslaan met vier LP’s wat buite stemming gebly het.

Die ANC het talle onnodige mosies ingedien en die debat oor die DA-mosie met bykans vier uur vertraag.

Maimane het gesê die geloofwaardigheid van die Nasionale Vergadering kan net herstel word as Zuma die reëls van die Vergadering aanvaar.

Hy het gevra dat ‘n spesiale sitting van die parlement oorweeg moet word as Zuma bereid is om vrae te beantwoord.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.