De Kock weer hof toe oor parool

Eugene de Kock sal ‘n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria indien nadat die minister van justisie en korrektiewe dienste geweier het om aan hom parool toe te staan.

Michael Masutha het in Julie De Kock se paroolaansoek afgekeur omdat die families van sy slagoffers nie daaroor geraadpleeg is nie.

De Kock (65) het reeds 18 jaar tronkstraf uitgedien.

Masutha het gesê daar moet in die volgende 12 maande ‘n nuwe paroolverslag en profiel oor De Kock opgestel word.

De Kock, die voormalige Vlakplaas-polisiebevelvoerder, het hom in Mei tot die hooggeregshof in Pretoria gewend om Masutha te dwing om ‘n besluit oor sy parool te neem.

Regter Thokozile Masipa het op 28 Mei beveel dat die minister 30 dae het – vakansiedae of naweke uitgesluit – om te besluit of De Kock op parool vrygelaat moet word.

Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het glo in November verlede jaar al ‘n besluit geneem oor De Kock se parool. Die aanbeveling is aan Sbu Ndebele, die vorige minister van korrektiewe dienste, gestuur vir oorweging.

Hy het egter nooit ‘n besluit geneem nie en De Kock moes gevolglik vroeër vanjaar die hof nader om hom te dwing om dit te doen.

Die saak is as afgehandel beskou nadat Ndebele se regsverteenwoordigers aangedui het dat hy teen 12 Mei ‘n besluit sou neem. Weer is geen besluit geneem nie en nadat Ndebele sy pos ná die verkiesing verloor het, het De Kock weer die hof genader.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.