Mediclinic en Universiteit Stellenbosch gaan saamwerk om dokters op te lei

Deel op

Die privaathospitaalgroep Mediclinic gaan met die Universiteit van Stellenbosch saamwerk om voorgraadse dokters op te lei, iets wat die aantal dokters wat in Suid-Afrika geproduseer word, mag verhoog.

Nie net is daar ‘n beperkte aantal plekke by mediese skole beskikbaar nie, maar daar geld ook streng rassekwotas sodat blanke studente weggewys word ten gunste van gekleurde kandidate met laer punte in die matriekeksamen.

Daar word elke jaar ongeveer 1200 dokters aan mediese skole in Suid-Afrika opgelei, terwyl die regering sedert 1995 ook dokters in Kuba laat oplei.

Die dekaan van die Fakulteit Mediese en Gesondheidswetenskappe aan die Stellenbosse Universiteit, prof. Jimmy Volmink, meen dat dié stap strook met die regering se nasionale ontwikkelingsplan, wat die privaatsektor as vennoot by die ontwikkeling van ‘n geskoolde arbeidsmag wil betrek.

Gewoonlik geskied die opleiding van dokters primêr by die grootste en mees gespesialiseerde openbare hospitale soos Groote Schuur en Tygerberg. Terwyl dié instellings steeds uitstekende opleidingsmoontlikhede bied, kan mediese studente in ander omgewings ook leer, sê prof. Volmink.

Mediese studente aan die Universiteit van Stellenbosch kry reeds blootstelling aan pasiënte in plattelandse gebiede. Deur hulle toegang tot die privaatsektor te verleen, “verbreed die universiteit hul horisonne”, meen Volmink.

Die HUB van Mediclinic Suider-Afrika, Koert Pretorius, sê dat sy maatskappy reeds omtrent 1 000 verpleegters per jaar oplei, maar dat dit die eerste keer is dat ‘n formele ooreenkoms met ‘n mediese skool gesluit word om dokters op te lei. Mediclinic het tot die gevolgtrekking gekom dat die vestiging van ‘n private mediese skool nie lewensvatbaar is nie, sê hy.

Hy het bygevoeg dat die Wes-Kaapse regering die nodige wetgewing sou indien om die privaat sektor in staat te stel om by die opleiding van dokters op ‘n groter skaal betrokke te raak.

Die opleidingsvennootskap het vanjaar begin met net 32 dokters in hul vierde en vyfde studiejare wat ‘n maand lank by Mediclinic se Durbanville-hospitaal deurgebring het, as deel van hul “interne mediese rotasie”. Hulle het tyd saam met radioloë, patoloë en spesialiste in inwendige medisyne deurgebring. Aanstaande jaar sal die projek uitgebrei word, met 140 studente wat by vier verskillende Mediclinic-hospitale geplaas sal word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.