Die ondergang van die kultuurmens

Deel op

Deur Joseph Secrève

Een van die interessante eienskappe om in Europa te woon is dat ‘n mens die kans gegun word om te sien hoe samelewings gevorder het van die kultuurfase na die beskawingsfase. Sommige volkere het al die beskawingsfase bereik en ander sit nog in die kultuurfase.

Ek handhaaf hierdie terme soos die geskiedkundige Oswald Spengler dit genoem het, en om ons huidige dilemma te verstaan kan ons baie leer van sy beskouing. Selfs al het sy befaamde werk Untergang des Abendlandes sowat ‘n honderd jaar gelede verskyn is die akkuraatheid van sy analises vlymskerp en tot op hede seker meer aktueel as toe dit eers verskyn het.

Spengler sien beskawings as iets wat uit verskillende fases bestaan. Elke beskawing het ontkiem, groter geword, ouer en wyser geword en val uiteindelik weer uitmekaar, net soos enige ander lewende wese. Daar is dus eindelose sikli van opkoms en ondergang.

Die interessante gedeelte is dat Spengler se werke nie meer gedoseer word nie. Iemand waarmee ek gesels het met ‘n beperkte kennis van Spengler het my gevra of sy skrywes “nie rassisties is nie”. In alle eerlikheid kon ek geen teken van enige superioriteit of minderwaardigheid in sy teorie bespeur nie, bloot opgang en afgang van beskawings, met al die nodige verwikkelinge daaromheen.

Dit was egter in die sestiger jare noodsaaklik gewees om sy werke weg te steek, en watter beter manier as om die etiket “rassisme” op te plak.

In daardie tyd het ons die kulturele Marxiste in volle opbloei gesien. Die akademiese bedrog van Margaret Mead en Franz Boas het Spengler se standpunte verdring en die Frankurt Skool het dit probeer herskryf om by hul sienswyses in te pas. Die mens het geen inherente kultuur nie, maar is ‘n skoon lei wat eindeloos maakbaar is deur invloede vanuit die samelewing. Jean-Paul Sartre se argument dat die mens eers bestaan en dan agterna sy wese bepaal, het nog verder krag gesit by hierdie standpunt. Die tydsgees het bepaal dat mense op soek gaan na ‘n vorm van sosiologie of antropologie met ‘n toepassingswaarde.

In die tyd waarin ons nou leef is die bogenoemde “maakbaarheid van die mens” uitgedien en sien ons Spengler se idees weer terugkom, en veral die penarie waarin die Afrikaner verkeer kan ons hieruit leer.

Die kultuurfase in Spengler se analise is wanneer die beskawingsfase nog nie aangebreek het nie. Mense is dikwels gelowig, die tydsgees word gekenmerk deur ‘n hoogbloei van kuns, literatuur, wetenskap en die uitbreiding van die kulturele siel van die betreffende volk. Dink maar aan Nederland in die Gouden Eeuw met meesters soos Rembrandt, Vermeer, Van Gogh en baie ander of die Duitsers met Goethe en Schiller.

Sodra hierdie fase ‘n sekere wasdom bereik het begin die beskawingsfase in te tree. Die beskawingsfase is die begin van die einde. Die kern binne-in begin atrofeer en die skors moet nou die kwynende lewe dra. Alle kragte wat ooit opgeleef het, is uitgekristaliseer oor die land, al die paaie bewandel, die gewoontes begin verstyf in bestaande praktyke. Geloof begin te taan en die mense verloor hul spirituele dryfkrag. In die plek van die kultuur begin geld, sekularisasie en ateïsme oor te neem, en word nou die belangrikste kenmerke van ‘n beskawing. Daar is konstante krisisse, oorloë, massa-emigrasie, die stede loop oor, die platteland ontvolk, en hierdie megaverstedeliking vernietig die krag, siel en intellek van die betreffende volk.

In hierdie verstedelikte gebiede sien ons die opkoms van die identiteitlose massa: Naamloos, sielloos, goddeloos en materialisties, slegs uit om te geniet van oppervlakkige brood en spele. Dit is die mense waarna Oom Jaap Marais verwys het as die “lopende lyke” en NP van Wyk Louw na die “mensebredie”. Hierdie fase word verder gekenmerk deur geld en mag, en hul wapens is massa media en demokrasie. Geld heers oor die chaos en slegs geld profiteer hiervan.
Die kultuurmens vorm die grootste bedreiging vir die geldmag. Hulle belange staan direk teenoor mekaar. Die mense wat nog in hul kultuur en hul siel glo word tot verstotenes gereduseer en die geldmag is ter wille van sy eie oorlewing genoodsaak om die kultuurmens te vernietig. Vandaar dat die geldmag sy identiteitlose massa (oftewel “fellaheen” soos Spengler na hulle verwys) inspan om die kultuurmens te bespot en verketter.

Soos wat hierdie fase voltrek, die chaos wat opstapel, begin die fellaheen ook steeds meer rigtingloos te word. Die graad van vulgariteit wat die geldmag veroorsaak het begin hulle ook nou aan te tas, en dan begin mense massaal op soek te gaan na ‘n leier wat hulle kan verlos uit hierdie ellende. In hierdie laat beskawingsfase sien ons ‘n herintrede van die Keiserryk, bestaande uit ‘n charismatiese leier wat orde in die chaos belowe. Demokrasie het tot niet gegaan en nou begin die keisers onder mekaar te baklei vir oorheersing. Dit lei vervolgens tot ‘n ontvolking van die stede en ‘n herbevolking van die platteland. Mense word weer gelowig en probeer soos vanouds die draad van hul vergane kulture weer op te vat. En so is hierdie sirkel voltooi.

Ek dink nie dat dit enige verklaring behoef oor watter fase die Afrikaners (en Westerse volke oor die algemeen) onsself in bevind nie.

Die narigheid is egter dat, streng gesproke, bevind Afrikaners hulself nog steeds in die kultuurfase. Dit kan ons ook sien aan die hand van hoe dit gons by uitgewers van Afrikaanse literatuur en dat sosiale media in Afrikaans verre van dood is. Hierdie vuigheid wat tans oor die land heers is doelbewus veroorsaak deur die geldmagte juis om die Afrikaners te breek en Suid-Afrika te reduseer tot ‘n put van sieklikheid. Dit is daarom ook verstaanbaar dat hulle so fel teen apartheid geskop en geslaan het, aangesien aparte ontwikkeling ‘n tipiese hoogstand is van ‘n volk in sy kultuurfase.

Die kultuurmense wil nie in hul ontwikkeling versteur word nie en ook nie ander versteur nie. Integrasie sou aldus Spengler ook lei tot pseudomorfose, oftewel ‘n haat tussen kulture omdat hulle unieke uitdrukkingsvorme belemmer word deur die invloede van ander kulture.

Weereens sien ons hoedat hierdie ophemeling van vermenging van volkere geen inherente waarde vir die volkere self het nie. Uiteraard is dit belangrik dat mense kennis neem van mekaar, maar nie tot soverre mate dat hulle geen eie tuiste meer het nie. Die enigste mense wat uiteindelik baat vind by grootskalige amalgamasie van volkere is diegene wat die grootgeld beheer. Hierdie figure, waaronder die Nuwe Wêreldordeprofeet Henry Kissinger is grootliks beïnvloed deur Spengler se werk en gebruik dit as ‘n bron om die wêreld klaar te maak vir ‘n globale keiserryk. En vanuit die Sowjet Unie – daardie proeftuin van globale oorheersing – het hulle geleer hoe om hierdie verlamde staat van nihilisme in hul guns om te buig. Na alle waarskynlikheid het hulle al lankal geloofskrifte en derglike iewers in argiewe weggebêre vir die dag dat hulle hierdie spirituele leemte gaan vul met hul eie lekkergelofie wat die mensdom net verder gaan wegstuur van sy hoër indiwiduele bewussyn.

Soos gewoonlik is daar helaas baie Afrikaners wat hulle siel verkoop het aan hierdie geldmagte. Dat selfs Kallie Kriel nou hulle taal begin praat en vir selfs meer verdeeldheid begin sorg is ‘n kommerwekkende gebeurtenis. Dit is nogal verbasend om te sien hoe maklik intimideerbaar hulle geword het.

Dit is hoog tyd om die alternatiewe media aan die publiek te bring. Slegs dan – en met ‘n bietjie genade van bo – kan ons weer begin insien dat bo-op Majuba die lig nog brand.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.