Hibridisering van Afrikaans

Deel op

Trantraal het die ATKV-poësieprys vir sy bundel Chokers en Survivors ontvang. (Let daarop dat die kortste van die drie woorde in die titel darem Afrikaans is.)

Deel op

In die akademie het dit my opgeval dat dosenteverenigings geneig was om amptelik meer linksgesind as die deursnee-dosent te wees. Skrywersverenigings ly blykbaar aan ‘n soortgelyke tekortkoming. Dit is waarom die leiding van PEN Afrikaans aan iemand soos Sonja Loots toevertrou is. Dit gaan ‘n mens se verstand te bowe dat iemand wat die spot met die Afrikaanse Taalmonument dryf (Praag 31 Augustus) tot so ‘n amp verkies kon word. Tans is Kerneels Breytenbach, gebore en getoë in die Naspersstal, die voorsitter.

Breytenbach het op LitNet (4 deser) aangekondig dat Danie Marais as die bestuurder van PEN Afrikaans aangestel is. Sy pos word deur Dagbreektrust befonds. Hierdie trust is destyds deur Afrikaners soos Hans Strijdom en Hendrik Verwoerd gestig om die belange van Afrikaans in die mediawêreld te bevorder. Sedertdien het dié trust egter ontaard en word die ANC-geïnspireerde inklusiwiteitsmanie openlik aangehang (Praag 25 Julie). As omroeper by Smile-radio pas hierdie pos Marais soos ‘n handskoen. Ek het reeds oor Marais se oorverligte reaksie op Dookoom se Larney-liedjie geskryf (Praag 9 deser). Breytenbach loof Marais vir sy “onverskrokke nuk om nuwe maniere van dinge doen te besproef.”

Hierna word Marais aan die woord gestel, maar dit is nie duidelik tot waar Marais se teks strek en waar Breytenbach oorneem nie. Die ATKV en Media24 word genoem as instansies wat Afrikaans op dieselfde manier as PEN Afrikaans bevorder. Maar soos verwag kon word, word die heil van Afrikaans, ooreenkomstig die siekte van ons tyd, uitsluitlik op ‘n polities korrekte manier gepromoveer. “PEN Afrikaans staan in diens van almal wat skryf in Afrikaans.” Daarna word dié stelling egter gekwalifiseer. Wat met “Afrikaans” bedoel word, bv die aard of gehalte daarvan, word ook nie gespesifiseer nie.

Oor die politiek-geïnspireerde muilband waarkragtens PEN Afrikaans funksioneer, is daar egter geen onduidelikheid nie. “Ons wil egter graag saamwerk met enige groep of instansie wat ‘n belang in die voortbestaan, bevordering en gebruik van Afrikaans as geskrewe taal het, mits daardie groep of instansie ook inklusiwiteit en nie-rassigheid as beginsels ondersteun. Ek sien dit dus as een van die primêre doelwitte van die bestuur om te werk daaraan dat wit, bruin en swart Afrikaanse skrywers ewe tuis voel by PEN Afrikaans.”

Opsommend kan seker gesê word dat wanneer Afrikaans as medium vir die verspreiding van behoudende, konserwatiewe of regse (politieke) inligting gebruik word, dit op geen steun van PEN Afrikaans kan reken nie; maak nie saak as dit suiwer, ordentlike Standaardafrikaans is soos oorvloediglik op bv die Praag-webwerf aangetref word nie. Daarenteen kan skrywers, soos Nathan Trantraal en Ronelda S Kamfer, wat onder die dekmantel van “Afrikaans” moedswillig en met oorgawe sub-demoties met ons moedertaal mors en dit tot ‘n mengeltaal transformeer om etniese en politieke redes reken op die ongekwalifiseerde steun van PEN Afrikaans. Die eksplisiete identiteitsloosheid van PEN Afrikaans word soos volg verwoord: “Om Afrikaans te bevorder, soos ons dit wil doen, is nie ‘n vasklou aan enige lewensbeskouing of verlede nie.”

Die aanstelling van Marais as bestuurder van PEN Afrikaans is deur Die Burger (6 deser, p 18) aan die groot klok gehang deur ‘n onderhoud te publiseer wat Willem de Vries met Marais gevoer het. Marais begin deur te beweer dit is “baie belangrik dat daar weer ‘n organisasie is wat in die eerste plek belangstel in die bevordering van Afrikaans.” Dit is, soos ek hierbo aangetoon het, ‘n leuen. Vir PEN Afrikaans gaan dit “in die eerste plek” om ‘n politieke oriëntasie wat met dié van die ANC versoenbaar is.

“By PEN Afrikaans hoef ons net te wonder of ‘n bepaalde projek of besluit tot die voordeel van Afrikaanse skrywers en lesers strek.” Wat op Praag se Afrikaanse webwerf gepubliseer word, is ongetwyfeld “tot die voordeel van Afrikaanse … lesers.” Sou hierdie Praag-skrywers dus op PEN Afrikaans se steun kon reken? Volgens PEN Afrikaans se uitgangspunt sal dit nie gedoen word nie. Marais stel dit baie duidelik: “In beginsel is PEN Afrikaans bereid om met enigiemand saam te werk wat graag Afrikaans of Afrikaanse skryfwerk bevorder of finansier, mits daardie organisasie erns het met nierassigheid en inklusiwiteit.” PEN Afrikaans se Afrikaansbevordering is dus ononderhandelbaar onderhewig aan sy linkse politieke inslag.

Afrikaans is volgens Marais deur apartheid geïsoleer, terwyl PEN Afrikaans se affiliasie met die internasionale PEN “daardie hele wye internasionale skrywerswêreld oopmaak … Ek dink dis baie belangrik om die groter gesprek te soek en terselfdertyd die rol van Afrikaans binne ‘n meertalige omgewing te bekyk.” Die identiteitsloosheidstrewe, waarna ek hierbo verwys het, vergemaklik hierdie soort wêreldburgerskap. Daardie gemoeidheid met meertaligheid verwater natuurlik die Afrikaansfokus. Om Trantraal en Kamfer se morsige mengeltaal, wat kosbare troetelkleinode vir PEN Afrikaans is, te verstaan, is kennis van Afrikaans glad nie voldoende nie. Meertaligheid, veral kennis van Afrikaans en Engels, maar ook van Kaaps, is noodsaaklik.

In die derde paragraaf hierbo is beweer: “PEN Afrikaans staan in diens van almal wat skryf in Afrikaans.” Maar die meerderheid Afrikaansskrywers was en is blank. Hoe kan dinge geplooi word sodat die heil van Afrikaans nie langer aan blankes toevertrou word nie; sodat wittes ook hier die miskendes en uitgeworpenes word? Marais verander doodeenvoudig sy deuntjie van skrywers na sprekers. “‘n Afrikaanse skrywersvereniging wat ‘n taal wil bevorder waar die meerderheid van die sprekers nie wit is nie, moet eenvoudig in gedagte hou hy het ‘n mandaat om Afrikaans in ál sy variante te bevorder, om hibriditeit [oftewel verbastering] dus te steun. Dit gaan daaroor om sekere ruimtes te probeer terugkry* of opnuut te skep waarbinne mense met Afrikaans kan doen wat hulle wil.”

[*Byvoorbeeld dat Afrikaans, volgens Magdaleen Kruger van RSG, aan die bruines teruggegee moet word, want die wittes het glo Afrikaans van hulle (die Khoi en die slawe) gesteel (Praag 10 Februarie 2013).]

Marais: “Mense met Afrikaans kan doen wat hulle wil.” ‘n Duideliker lisensie vir taalchaos kan nie aan dese en gene gegee word nie: Mors soveel soos julle wil met Afrikaans. Julle sal in elk geval altyd kan reken op die oorverligte steun van PEN Afrikaans. Moenie julle steur aan wat die eertydse volksvaders, met die grys skoene, as Standaardafrikaans voorgeskryf het nie. Kom ons sleep Afrikaans verder deur die modder. Besoedel Afrikaans met Engelse woorde, maar as jy Engels praat of skryf, maak dit ‘n saak van eer om dit korrek te probeer doen. Marais: “Dat mense goed met Afrikaans doen waarvan ander Afrikaanssprekers niks hou nie, is vir my juis ‘n teken van vitaliteit.” Vir my, daarenteen, is dit heiligskennis, want Afrikaans is die medium waarin uitdrukking aan die diepste wese (of siel) van die Afrikaner gegee word.

Wat kon Die Burger nog doen om ‘n mengeltaal soos Kaaps bo Standaardafrikaans te bevorder? Deur die volgende dag ‘n onderhoud van Murray la Vita met Nathan Trantraal te publiseer (7 deser, p 15). Trantraal het die ATKV-poësieprys vir sy bundel Chokers en Survivors ontvang. (Let daarop dat die kortste van die drie woorde in die titel darem Afrikaans is.) Antjie Krog het vanselfsprekend hoë lof vir die gedigte gehad. La Vita verwys na “‘n briljante kortverhaal” van Trantraal wat as grondteks vir ‘n drama, Delilah, gebruik is en op 13 deser op kykNET uitgesaai word. Trantraal se wye belesenheid en perfeksionisme word beklemtoon. Daar is egter geen aanduiding dat Trantraal al ooit iets in bv ‘n Afrikaanse woordeboek of die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls nageslaan het nie, wat ten minste in hierdie opsig van sy beweerde perfeksionisme ‘n klug maak.

Pleks van verdere aandag aan Trantraal se mengeltaal te gee, volstaan ek met ‘n enkele aanhaling om aan Praaglesers ‘n aanduiding te gee van die soort taal waarom dit hier gaan. Trantraal sê die volgende oor hom en sy broer: “Ek en André het ‘n baie close [hegte] verhouding, so [dus] dit help as iemand ouer as jou [jy] is wie [wat] klein bietjie vroeër as jou [jy] alles discover [ontdek] totdat jy by daai punt kom dat jy self nuwe goed uit [op] jou eie discover [ontdek].” Diegene wat behoefte aan nog hiervan het, kan Trantraal se rubriek in Rapport lees. Dáár is sy tekste ‘n nog erger vorm van koeterwaals (dus brabbel-, krom- of wartaal).

‘Die polities korrekte stert swaai die Afrikaanshond’

Die voorafgaande opmerkings oor Marais en Trantraal dui op ‘n kanker wat reeds wyd versprei het. Die stryd word teen Standaardafrikaans (en by implikasie teen Afrikaners) en ten gunste van die herstandaardisering, inklusiefmaking, hibridisering, kreolisering en verkaapsing/verbruining van Afrikaans gevoer. Hierdie refrein kom voor by die Afrikaanse Taalraad (ATR), Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, die ATKV, RSG en daar is ook groot simpatie hiermee in Naspers-geledere, waarvan die rioolkoerant Son die toonbeeld is. Mense soos Wannie Carstens en Michael le Cordeur gee die toon aan in hierdie openlike onderbeklemtoning (selfs minagting) van Standaardafrikaans. Die noodsaaklikheid van ordentlike, suiwer Afrikaans as die enigste sinvolle skans teen verengelsing word nooit deur hierdie elemente gepropageer nie. Onlangs het Gerda Odendaal, wat ‘n voorstander van die herstandaardisering van Afrikaans is (Praag 2 Februarie; ook 22 Junie), by die werksaamhede van die ATR betrokke geraak. Sy verpersoonlik eintlik die ATR se skewe benadering van Afrikaans. Die polities korrekte stert swaai die Afrikaanshond.

Verloopte Afrikaners en ANC-kornuite in bv die ATR kan gerus by DF Malan gaan kersopsteek oor wat Afrikaans is. “Die taal is die omhulsel wat alles wat tot ‘n volk behoort, saambind en tot één maak. Dit is die skil om die vrug, die vel om die liggaam, die bas om die boom, dit is nie net daar om saam te bind en in te sluit nie, maar ook om af te sluit teen dit wat buite is en tegelyk om alle gesonde groei en uitbreiding moontlik te maak” (Lindie Koorts, DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, Kaapstad: Tafelberg, 2014; Amazon Kindle 1586). “Vir Malan was nasionalisme ‘n lewende, groeiende organisme, met taal as die gom” (1590). “Malan se oortuiging [was] dat die sleutel tot sy volk se oorlewing in sy taal lê” (1098).

Wanneer die ANC en ander linkse elemente gevra word om plaasmoorde te veroordeel, is die geykte reaksie dat alle moorde veroordeel word. Wanneer die ATR en instansies met ‘n soortgelyke polities korrekte of self ANC-gesindheid gevra word om Standaardafrikaans te bevorder, is die geykte reaksie dat al die variëteite van Afrikaans bevorder word. Carstens het as voorsitter van die ATR openlik erken dat dit vir hom primêr om versoening gaan.* Hierdie politieke agenda is deur sy opvolger, Le Cordeur, voortgesit, maar met ‘n duidelike voorkeur vir bruin etnisiteit en die mengeltaal Kaaps. Hy hou van “byderwetse” Afrikaans (Netwerk24, 29 Oktober). Polities korrek is Dan Kgwadi Le Cordeur se jongste held. Le Cordeur glo Kgwadi gaan tot groot seën vir Afrikaans en die Noordwes-universiteit wees (Netwerk24, 3 en 11 deser).

[*Carstens sing steeds hierdie deuntjie. Hy kan nie besluit of politiek of Afrikaans voorkeur moet geniet nie. Wat beskou Carstens as die grootste vyand van Afrikaans? “Ons eie Afrikaanse mense wat begin moed verloor oor Afrikaans en begin oorgaan na Engels.” Maar hy ruk nie Le Cordeur en sy meelopers in die ATR in die bek oor hulle propagering van die mengeltaal Kaaps nie. Dink Carstens dat Steve Hofmeyr Afrikaans bevorder? Sy antwoord is eerder polities korrek as pro-Afrikaans: Hofmeyr “versinnebeeld ongelukkig daardie element wat ons nie meer met Afrikaans geassosieer durf hê nie” (Die Burger, By&Naweek, 15 deser, p 11).]

Le Cordeur sien darem in dat Kgwadi se ideaal dat die swart kind van Ikageng dieselfde geleenthede as die wit kind van Gimmies moet kry nie iets oorspronkliks is wat deur Kgwadi uitgedink is nie. Dit is bloot ‘n variasie op Russel Botman se tema: die bruin dogter van die plaaswerker moet dieselfde geleenthede as die wit seun van die plaaseienaar kry (Praag 20 Julie). Die vordering wat daar is, word nie deur Le Cordeur genoem nie: Botman se dogma is sowel ras- as geslagsgedrewe, terwyl Kgwadi darem seksisme vermy.

Genadiglik het Le Cordeur se ampstermyn as ATR-voorsitter pas tot ‘n einde gekom. Van die nuwe voorsitster kan ‘n verbetering, maar kwalik kitswonderwerke, verwag word. ‘n Radikale heröriëntasie en hersamestelling van die ATR (raadslede en personeel) is noodsaaklik. Anders as wat sy naam aandui, was die ATR nog nooit ‘n egte Afrikaanse taalraad nie. Helena Liebenberg se Taaloord is oneindig meer Afrikaansgetrou. Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans, as hy sy oogmerk gestand wil doen, lei skade omdat hy toelaat dat hy as ‘n medewerker van die ATR gelys word.

Wat tereg van die nuwe ATR-voorsitster, Anne-Marie Beukes, verwag kan word, is dat sy die Afrikaanse taal (en nie politieke korrektheid nie) vooropstel en veral Standaardafrikaans, wat die beste in die Afrikaansvariëteite verteenwoordig, kompromieloos bevorder. Daar is egter geen rede vir optimisme nie. Beukes wil nie ‘n taalbul wees nie (‘n duidelike teken van halfhartigheid) en eerder versoening bevorder. Afrikaans se voetspoor moet glo vergroot word. Pleks van die heil van ordentlike Afrikaans na te streef, bly groter inklusiwiteit die ATR-ideaal (Netwerk24, 12 deser), insluitende koeterwaals. Red nou ‘n taal met ‘n instansie soos die ATR en ‘n voorsitster soos Beukes. Hoe is dit moontlik dat Karel Prinsloo, ‘n ATR-direksielid en die skoonseun van Piet Meyer (eens die hoof van die Afrikaner Broederbond en die SAUK), hom die miskenning van Standaardafrikaans kan laat welgeval?

Onderliggend aan veral Le Cordeur se destruktiewe benadering van Standaardafrikaans is Nico Koopman se propagering van hibriditeit as die alles-saligmakende transformasiemiddel. Google gerus: nico koopman hibriditeit. Koopman praat selfs van ‘n pedagogie van hibriditeit. Hy stal onbeskaamd sy akademiese vlakheid uit. Vermenging/verbastering van kultuur en etnisiteit word deur hom aangeprys; ook taalverbastering. Koopman spreek hom ondubbelsinnig teen Standaardafrikaans uit. Om van pluraliteit, verskeidenheid, verskeurdheid, diversiteit ontslae te raak, word hibriditeit verheerlik as die wonderkuur om inklusiwiteit, eenvormigheid, gelykmaking, integrasie, assimilasie, kohesie daar te stel. Afrikaners word verwater tot Afrikaanses en verder tot Suid-Afrikaners, Afrikane en wêreldburgers; ‘n resep vir identiteitsloosheid.* Op ‘n soortgelyke manier word die NG Kerk meer inklusief gewens deur samesmelting met die Verenigende Gereformeerde Kerk,** asook verbondenheid met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die Wêreldraad van Kerke.

[*Net soos van die erkenning van plaasmoorde en Standaardafrikaans weggeskram word deur ander variëteite te berde te bring, word deesdae graag beklemtoon dat elke mens ‘n verskeidenheid identiteite (of rolle) het. Multi-identiteit en multi-kulturaliteit word aan die orde gestel ten einde veral Afrikanerskap en Standaardafrikaans te verwater. Uit eie keuse is veral ontwikkelde bruines by uitstek identiteitsloos, gevolglik wil hulle deesdae, anders as voorheen, eerder swart as wit wees (dus nie die voor die hand liggende bruin wees nie) en eerder Engels- as Afrikaanssprekend wees. Bruines se identiteitsloosheid strek tot by hulle voorgeslagte deurdat hulle soms op inheemsheid en ander kere op uitheemsheid aanspraak maak. As die nasate van die Khoi-San beweer hulle dat hulle altyd hier gewees het. As die nageslag van die “benadeelde” ingevoerde slawe maak hulle deesdae op bevoordeling aanspraak. Maar dit is juis die medewerking van bruines wat die ATR noodsaaklik ag, gevolglik word enige moontlike pro-Standaardafrikaans- en pro-Afrikaner-aksie by voorbaat in die kiem gesaboteer.]

[**Die VGK eis dat samesmelting met die NGK op sy voorwaardes geskied, wat op liefdelose wyse ononderhandelaar is, bv die ongekwalifiseerde aanvaarding van die Belhar-belydenis. Die vereniging van die NGK en die VGK sal die gatslag vir Afrikaans as kerktaal wees, maar geen kerkampsdraer noem dit openlik as ‘n ernstige beswaar teen kerkeenheid nie. Die verengelste verre verlede van die NGK word blykbaar nie as ‘n euwel beskou nie en mag maar terugkeer. Net so eienaardig is dat die NGK nie eerder met die Gereformeerde Kerk en die Hervormde Kerk saamsmelt nie. Dit sou, wat Afrikaans betref, werklike kerklike eenheid wees. Sodanige amalgamasie behoort veel makliker as met die VGK moontlik te wees, terwyl dit finansieel en taalgewys en vir Afrikanerskap nie naasteby so rampspoedig sal wees nie.]

Die onderliggende toonbeeld van Koopman se hibriditeitsleer is bruin etnisiteit, met homself as die voortreflikste voorbeeld. Al word wittes as deurgaans sleg voorgestel, is die getal prominente nie-wit ANC-kornuite wat met hibridiese gevolge met wittes getrou het opvallend. Waar kom Koopman se hibriditeitsleer vandaan? Soos die meeste ANC-retoriek kom dit van Amerika. In Amerikaanse staatslaerskole is daar elke week ‘n verpligte les oor diversiteit, wat gelyk- of eendersmaking as ideaal het. Sentraal-uitgedinkte propaganda, afkomstig van wit liberaliste, word vir iedere kind ingegee. Byvoorbeeld: “Mama is chocolate … Daddy is vanilla … Me (sic) is better … It is a new color. It is a new flavor. For love. Sometimes blackness seems too black for me, and whiteness is too sickly* pale; and I wish every one were golden. Remember: long ago before people moved and migrated, and mixed and matched … there was one people: one color, one race” (Jared Taylor, Face to face with race, Oakton: New Century Foundation, 2014; Amazon Kindle 1138).

[* Daar sal nie gesê word swartes of goues/bruines is “sickly” nie, maar wittes mag maar op hierdie manier te na gekom word.]

In ‘n neutedop: hierdie hibriditeitsleer kan as die kern van Koopman se teologie (wat nie van ANC-politiek te skei is nie) beskou word. Dit is ook waarom Koopman so entoesiasties is oor die diversiteitsweek wat Russel Botman aan die Universiteit Stellenbosch ingestel het. Aan Koopman word deesdae die hoofskap toevertrou van wat ‘n skrale twee dekades gelede die Kweekskool van die NGK was. Die Basters van Rehoboth se benadering van identiteit is stukke beter as dié van Koopman. Hulle is trots daarop om Basters/basters en Afrikaans te wees, streef na staatkundige onafhanklikheid en probeer nie om skyn-Owambo’s te wees nie.

Daar kan geen twyfel meer bestaan oor die afgrond waarnatoe hibridiese taal, oftewel koeterwaals, met die komplimente van die betrokke instansies tans op pad is en watter moeite hierdie elemente doen om eerbare Afrikaans se ondergang te bewerkstellig nie.

Ek hoop om volgende keer in besonderhede oor Jared Taylor se bogenoemde nuwe boek te skryf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.