Enkele vrae aan Afriforum en Kallie Kriel

Deel op

Niks kon my meer verstom as toe ek op 13 November die mediaverklaring van Afriforum met die titel, “Dan Roodt se uitsprake stel Afrikaners in ‘n slegte lig” lees nie. My eerste reaksie op Twitter was:

Agterna het ‘n dame insgelyks vir my getwiet: “Die makste honde byt die seerste.”

roodt_dan_wikiOp Radio Pretoria het ek ook verwys na NP-denke wat ons steeds oorheers: Die NP het gedink die KP is sy grootste vyand, nie die SAKP nie. Vandag regeer die SAKP (en sy bondgenoot, die ANC) die land.

Wat het daartoe aanleiding gegee? wonder ‘n mens. Ek het al gehoor dat daar by Afriforum oor alles vergader word alvorens ‘n besluit geneem word. Het daar dus ‘n ure lange vergadering plaasgevind waartydens Kallie Kriel, Ernst Roets en ‘n paar ander gewik en geweeg het alvorens hulle ‘n verklaring teen my uitreik? Dalk was dit ‘n groot “strategiese” besluit?

Moontlik was Afriforum bekommerd oor al die kritiek wat hulle uit liberale geledere moet verduur, naamlik dat hulle “regs en rassisties” is. Toe staan Kallie Kriel in die vergadering op en sê: “Weet julle, manne, ek het ‘n plan. Ons moet vir die liberale wys ons kan net so polities korrek soos hulle optree. Kom ons gee hulle ‘n nuwe teiken: Ons stoot vir Dan Roodt voor dat hy die slae verduur.”

Two PiranhasIn die Amasonevallei as ‘n boer mos sy vee deur ‘n sytak van die rivier wil lei waarin dit krioel van die piranas, dan slag hy een bees as lokaas vir die aaklige roofvissies. Terwyl hulle die karkas binne ‘n uur of twee kaal stroop, laat hy dan sy kudde rustig hoër op deur die rivier waad.

Was dit die plan? Moes die piranas op my losgelaat word terwyl Afriforum agteraf so ‘n bietjie die kat in die donker knyp, net so sodat die media dit nie agterkom nie?

Van die oomblik dat ek en PRAAG besluit het om vir Steve ‘n klip uit die pad te rol deur die hofbevel teen Conrad Koch alias Chester Missing aan te vra, het daar skielik ‘n horde kritici op my toegesak. Skielik is daardie oneerlike geredigeerde prul van ‘n video weer opgehaal waarin die Daily Show my letterlik woorde in die mond lê deur die verkeerde antwoorde na vrae waarop ek heeltemal anders geantwoord het, in te voeg.

Nou wonder ek: Is dit die soort “slim” taktiek wat julle by Afriforum goedkeur? Dus kan ek maar my videokamera bring en ‘n onderhoud met Ernst Roets kom voer en agterna die onderhoud gaan redigeer soos ek wil? Sou julle toestem tot so ‘n onderhoud, in die Daily Show-styl?

Feit is dat ek deur die Daily Show mislei is om te dink dat dit ‘n ernstige onderhoud sou wees waartydens ek aan buitelandse kykers die probleme in Suid-Afrika sou kon oordra, rondom misdaad, plaasmoorde, asook taal- en rassediskriminasie teen blankes.

Wat is die Daily Show se taktiek? Ek het intussen afgekom op dié kommentaar op Bloomberg wat enigeen afraai om aan die Daily Show deel te neem, omdat hulle so oneerlik is en videomateriaal wysig of manipuleer. Die probleem is dat hierdie artikel op Bloomberg eers vanjaar op 23 September 2014 gepubliseer is, terwyl die kwaadwillige Daily Show die onderhoud met my in 2010 opgeneem en uitgesaai is. Indien ek die Bloomberg-artikel destyds gelees het, sou ek waarskynlik nooit die onderhoud toegestaan het nie.

Nou kan Kallie, Ernst en die res van die Afriforumspan waarskynlik argumenteer dat Bloomberg se mening nie veel werd is nie. Ek sou graag wou vra: Beskou julle Bloomberg as ‘n verregse, “rassistiese” inligtingsbron? Nietemin is dit helder dat hierdie rubriekskrywer van Bloomberg die Daily Show nie as ‘n ernstige nuusbron beskou nie en meen dat hulle oneerlik en onregverdig met hul tegnieke van onderhoude voer en redigering is. Daarom behoort ‘n mens “jou eie kamera en ‘n getuie saam te bring” om seker te maak dat hulle nie dít wat jy sê, verdraai nie. Trouens, sy herhaal verskeie kere die raad dat niemand behoort in te stem tot ‘n onderhoud met die program nie.

Nou kom ons by die politiek van die Daily Show wat grotendeels die standpunte van die Demokratiese Party en Amerikaanse liberalisme in die VSA ondersteun. Dit sluit in regstellende aksie, amnestie vir onwettige immigrante en groter maatskaplike besteding in. Is dit die soort beleidsrigtings wat Kallie Kriel en Afriforum vir Suid-Afrika óók voorstaan? Waarom het Solidariteit, wat aan Afriforum verwant is, dan ‘n hofsaak oor die nie-bevordering van Renate Barnard gemaak as die organisasie hom met Amerikaanse liberalisme en regstellende aksie in die VSA vereenselwig?

Jesse-Jackson-RaceCardTans is daar ‘n kwessie by die Johannesburgse lughawe aan die gang waar twee blanke lugbeheerbestuurders weens “rassisme” geskors is omdat hulle ‘n swart lugbeheerbeampte van nalatigheid wat byna ‘n botsing tussen twee vliegtuie veroorsaak het, beskuldig het. Solidariteit verdedig die twee geskorste blanke beamptes teen wie die “rassekaart” skaamteloos gespeel is. Maar Solidariteit se “burgerregte”-afdeling, Afriforum, speel die rassekaart teen my. Hoe rym dit? Is dit nie ‘n geval van op twee stoele sit nie?

Verskeie mense het op sosiale media die kommentaar gelewer dat Afriforum sekerlik met my kontak kon gemaak het indien hulle ‘n beswaar gehad het teen enige van my standpunte. Waarom het ek geen vooraf waarskuwing hieroor ontvang nie? Of beskou Afriforum my as so melaats vandat ek Steve Hofmeyr teen Conrad Koch probeer help het en deur die liberale piranas aangeval word dat hulle my liefs wil verstoot, asook van ander Afrikaners verwag dat hulle my behoort te verstoot?

Oor die afgelope anderhalf dekade het ek seker meer as ‘n miljoen woorde in boeke, maar veral op die internet, geskryf. Watter van my “uitsprake stel Afrikaners in ‘n slegte lig”? Of gaan dit bloot om die enkele oneerlike video van die Daily Show wat hier aangegryp is om nie soseer Afrikaners nie, maar my in ‘n slegte lig te stel?

Watter van my uitsprake is “rassisties”, wonder ek? Is dit rassisties bloot om na boeke of gepubliseerde navorsing oor etniese en rassegroepe te verwys? Of om ‘n swart rubriekskrywer soos Sandile Maimela aan te haal waar hy skryf oor swartes se swak matriekuitslae omdat hulle te veel partytjie hou? Daar gaan seker nie ‘n dag verby dat rubriekskrywers of meningsvormers in Suid-Afrika nie op een of ander manier na ras of rassegroepe verwys nie. Byvoorbeeld het ‘n rubriekskrywer van die Daily Maverick, Sisonke Msimang, enkele dae gelede ‘n rubriek gepubliseer waarin sy beweer dat blanke mans ‘n groot probleem in Suid-Afrika verteenwoordig. Sy skryf:

Increasingly, as these white male inspired dramas unfold on our pages, I find myself returning to a theme that has preoccupied me since I began writing regularly; the subject of violent, white masculinities. I write fairly frequently about the violent conduct of white men; it is such an under-scrutinised topic. I am also fascinated by the extent to which perverse behaviour – when it is enacted by white male bodies – is quickly explained away.

Is dit ‘n “rassistiese uitspraak”? Sy sonder dan spesifiek blanke mans vir kritiek uit. En indien wel, gaan Afriforum ook ‘n verklaring daaroor uitreik en op RSG tydens spitsuur aankondig dat Msimang Suid-Afrikaners “in ‘n slegte lig stel”? Of beskik Msimang oor spraakvryheid wat ek nie het nie omdat sy swart is?

Terloops, is Afriforum ten gunste van spraakvryheid? Ek het destyds gewaarsku toe julle Malema aangekla het dat dit dalk mag terugkom om by ons te spook, aangesien ons spraakvryheid ook aan bande gelê mag word. Die hofbevel het Malema nie gekeer om weer sy omstrede liedjie te sing nie; dit het ook nie sy politieke opgang gestuit nie.

Saam met vele mense wonder ek nou: Presies wat is Afriforum se “strategie”? Duidelik het hulle ‘n strategie om, tesame met die New Yorkse Daily Show en ‘n hele horde liberale piranas in Johannesburg en Kaapstad – ook in Melville! – my verdag te maak en te verguis, selfs te belaster. Maar hoe lyk die res? Waarheen is hulle as “groot organisasie” met Afrikaners op pad? Wat is die eindbestemming?

Het Afriforum enigiets uit die onlangse Afrikanergeskiedenis geleer? Ek kan onthou hoe die Nasionale Party eers vir Ian Smith van Rhodesië in die rug gesteek het. Dit was ook ‘n geval van: voer die piranas of die krokodil en hoop jy word laaste geëet. Toe is Namibië aan Swapo oorhandig. Daarna het die NP een tuislandleier na die ander verraai en hulle ook aan die revolusie opgeoffer. Voer die krokodil.

Tydens die onderhandelinge het die NP begin om teenoor die internasionale mening te konformeer en selfs die ANC se standpunte oor te neem. Waar het dit ons gebring? Tot hier waar Afriforum en Solidariteit nou taamlik tevergeefs hofsake oor Renate Barnard maak. Wat het ons by al die toegewings aan politieke korrektheid gebaat?

Ná my, watter ander Afrikanerfigure gaan Afriforum nog vir die liberale piranas voer wat van plesier kraai telkens as hulle sien hoe verdeeld Afrikaners is en dat hulle mekaar aanval en in die openbaar beledig? Is daar ‘n teikenlys of was dit net ek?

PRAAG is ‘n pro-Afrikaanse beweging. Dit staan in ons naam. Afrikaans en Afrikaners is vir ons onlosmaaklik verbind. Waarvoor staan Afriforum presies? Het julle nou ‘n anti-rassistiese beweging geword wat saam met Section 27 en ander linkse organisasies “rassiste” gaan begin jag? Gaan Afriforum nou kyk of boere hulle werkers voor in die bakkie laat sit of agter op die bak? Asook dat swart werkers dieselfde toilette as boere gebruik? Gaan Afriforum nou hand om die blaas met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie deur die land reis op soek na aparte toilette? Moontlik gaan Afriforum ontdek dat boere en hul swart werkers nie dieselfde toilette gebruik nie… Gaan Afriforum daaruit ook die afleiding maak dat hulle “rassisties” is en hulle by die Menseregtekommissie gaan aankla? En as so ‘n boer nou ‘n betalende lid van Afriforum is, wat dan?

My spraakvryheid, my reputasie en my waardigheid is deur Afriforum geskend. In ‘n sekere mate het Afriforum my lewenswerk en alles wat ek die afgelope twee dekades vir Afrikaners probeer doen het, vernietig. Daardie miljoen woorde wat ek geskryf het, elke betoging waaraan ek saam met Steve Hofmeyr of ander Afrikaners deelgeneem het, elke petisie wat ek opgestel het, lyk nou asof dit alles moeite verniet was.

Met trane in my oë, vra ek: Wat het ek gedoen om dít te verdien?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.