‘Regstellende herposisionering van grond’

Deel op

Julius Malema en sy hordes is nie alleen nie. Die Swapo Jeugliga se geskorste mnr. Job Amupanda het pas aangekondig hy wil grond gryp.

Amupanda wil volgende Vrydag 2 000 aansoeke vir erwe in “die elite buurt” Kleine Kuppe by die Windhoek munisipaliteit indien.

Hy het ‘n beroep op grondlose Namibiërs gedoen om by dié aksie betrokke te raak.

Die munisipaliteit sal agt maande tyd gegun word om die aansoeke af te handel.

Indien hulle nie gehoor gee nie, sal oorgegaan word tot “regstellende herposisionering” van grond in “ryk en gegoede” voorstede soos Kleine Kuppe, Avis, Eros, Auasblick en Klein-Windhoek, sê Amupanda in ‘n verklaring wat vanoggend uitgereik is.

Politieke ontleders is egter dit eens dat mnr. Job Amupanda se skielike bedanking uit die Swapo Jeugliga (SPYL) se nasionale uitvoerende komitee, nie die regerende party se politieke planne op die vooraand van die verkiesing gaan verongeluk nie, het die Republikein berig.

Amupanda, voorheen die jeugliga se sekretaris van inligting, publisiteit en mobilisasie, het bedank. Dié stap volg ná hy eergisteraand met mnr. Nangolo Mbumba, sekretaris-generaal van Swapo, en dr. Elijah Ngurare, leier van die SPYL, asook ander lede van die regerende party, vergader het.

Amupanda het sedert Sondag die tonge laat klap toe hy onwettig ‘n erf in Kleine Kuppe in Windhoek afgesteek het. Dié stap het hy “regstellende herposisionering” gedoop.

Hy gaan homself nie langer ten gunste van lede van die Swapo-party verloën nie, het Amupanda gisteroggend in ‘n verklaring gesê.

Hy het ook uitgevaar teen Swapo-lede wat volgens hom die kluts kwyt is. Amupanda sê hy is nie bereid om soos ’n eerbiedige dienskneg die vrede te bewaar met die hoop dat hy daarvoor vergoed sal word nie.

Pogings is aangewend om hom sover te kry om sy siel te verkoop en na ander se pype te dans, onreëlmatighede mis te kyk, net handjies te klap en liedjies te sing, sê hy.

“Dít kan ek nie toelaat nie. Ek weier om die ander wang te draai soos wat die Bybel ons geleer het. Die situasie het onuithoudbaar geword, soveel so dat die nasionale uitvoerende komitee (van SPYL) iets heeltemal anders geword het as wat ons gedink het,” sê hy.

Amupanda bly egter aan as lid van die sentrale komitee, maar gaan hom voortaan op aktivistiese veldtogte toespits en meer tyd in die nedersettings en landelike gebiede deurbring.

“Ek gaan nou hoofsaaklik op regstellende herposisionering konsentreer en die jeug mobiliseer sodat ons leiers besef hoe ernstig die grondkwessie is en dat oplossings gevind moet word voordat dit te laat is,” se Amupanda.

Op sosiale media het die nuus van Amupanda se bedanking soos ’n veldbrand versprei. Daar is kwaai gegis dat hy gedwing is om van sy posisie afstand te doen.

Mbumba het dit ten sterkste ontken. Slegs “Swapo-kwessies” is tydens Dinsdagaand se vergadering bespreek, het hy gesê.

Intussen meen die politieke ontleder, mnr. Graham Hopwood, dat Amupanda se bedanking geen impak op Swapo se ondersteuners gaan hê nie, aangesien hy steeds deel van die party bly.

“Miskien as hy uit die party bedank en ’n beroep op sy ondersteuners gedoen het om níé die party te steun nie, sou dit ietwat van ’n verskil gemaak het,” het Hopwood gesê.

Hopwood sê die lojaliteit teenoor Swapo lê baie diep en dat stemme nie maklik na ’n ander party geskuif kan word nie. Kiesers gaan ook nie sommer níé aan die verkiesing deelneem nie.

Prof. Bill Lindeke, nog ‘n politieke kenner, sê Amupanda se bedanking is buitengewoon, veral in Swapo. Dit het hom egter ook nie heeltemal verras nie.

“Amupanda het homself meer as een keer in konflik geplaas en is waar­skynlik gevra om te bedank, aangesien hy die party onder verdenking geplaas het. Wat ons nou wil sien, is hoe ver is hy bereid om te gaan,” sê Lindeke.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.