Propagandataktieke vir beginners

Deel op

ImageAs daar een politieke wapen is wat die ANC baie goed bemeester het en waar Afrikaners van kan leer, is dit om propaganda te maak om hul beleid te verdedig. Hierdie standpunt is weliswaar oorvereenvoudig, aangesien ‘n hele klomp bykomstighede die Afrikaner se politieke rug gebreek het, maar daar is ‘n onmiskenbare element van waarheid hierin opgesluit. Die ANC het teen alle verwagtinge in die onmoontlike reggekry, hoofsaaklik omdat hulle ‘n goeie span rojaal befondste propagandiste gehad het en oor die nodige aggressie beskik het om hul idees die wêreld in te dra.

Die vraag verrys: Hoe het ‘n terreurorganisasie dit reggekry om ‘n ideologiese Berlynse Muur in Suid-Afrika op te rig juis in die periode toe sloophamers besig was om dié muur met groot fanfare in Duitsland met die grond gelyk te maak? Die antwoord is: propaganda.
Deel op

Tussen die Eerste en Tweede Wêreldoorloë het die Chicago-skool ‘n hele groep navorsers bymekaar geroep om hierdie onderdeel van meningsvorming te ondersoek. Na die Tweede Wêreldoorlog het navorsing oor die krag van propaganda hoogty gevier met die stigting van die Frankfurt-skool en vanweë lukratiewe borge aan verskeie Amerikaanse universiteite wat juis ingestel was om ‘n verklaring te vind vir die gruwel van fascisme in Europa. Die resultate het gewissel van matig tot baie indrukwekkend, waarvan die bekendste sekerlik Stanley Milgram se gehoorsaamheidseksperiment was.

Met hierdie eksperiment is proefpersone geflous deur te glo dat hulle besig was om iemand te martel met pynlike skokke, maar het op aanbeveling van die "deskundige" navorser die skokke bly toedien wat steeds hewiger geword het. Slegs ‘n klein groepie proefpersone het teen die navorser se aandrang ingegaan en die eksperiment vroegtydig gestop omdat hulle die "marteling" nie meer kon aanskou nie (die "geskokte" persoon het heel oortuigend gemaak asof elke skok hom ‘n helse pyn toegedien het). Die oorgrote meerderheid proefpersone het "teen hul beter wete in" die eksperiment tot aan die einde toe voortgesit, omdat die navorser gesê het dat die skokke nie so erg is nie. Die konklusie was verstommend: Dis verbasend maklik om gewone, naïewe mense oor te haal om iemand te martel sodra ‘n gerespekteerde, magtige persoon jou daartoe aansit.

As ‘n mens ‘n ander indrukwekkende bevinding hieraan moet toevoeg, naamlik die konformiteitseksperiment van Solomon Asch, het ons al heelwat vordering gemaak om manipulasie en propaganda te begryp. In Asch se eksperiment is ‘n argelose proefpersoon na ‘n kamer vol ander "proefpersone" gelei en moes hy die lengte van ‘n streep op ‘n bord vergelyk uit ‘n keuse van drie ander strepe. Die proefpersoon was nie bewus dat die ander mense in die kamer deel uitgemaak het van die eksperiment nie. Hulle het gemaak asof streep C dieselfde lengte gehad het as die streep op die bord. Alhoewel die antwoord baie duidelik streep B was, het die meeste proefpersone teen hul beter wete in streep C geantwoord. Hulle het met ander woorde hul feitlike waarneming onderdruk ten gunste van dié van die groep.

Daar is ook nog ‘n derde sielkundige model van oortuiging wat hier van belang is, te wete die “Elaboration Likelihood Model” (ELM) van Richard Petty en John Cacioppo. In hierdie model het die navorsers ontdek dat daar twee weë is waarlangs ‘n mens iemand van ‘n bepaalde standpunt kan oortuig, naamlik ‘n sentrale weg en ‘n periferale weg. Die sentrale weg van oortuiging is net ‘n mooi naam vir die inhoud van die argument. Hoe duidelik is die standpunt, hoe realisties is dit, wat is die alternatiewe, is daar teenstrydighede daarin, ensovoorts. Die periferale weg daarenteen fokus eerder op die persoon wat dit sê se eienskappe en uiterlike kenmerke. Word hy/sy as ‘n deskundige beskou, is daardie persoon aantreklik, het hy ‘n mooi stel tande, lyk hy vriendlik, praat hy/sy mooi? ensovoorts. Sodra die argument wat hierdie persoon lewer van persoonlike belang is by een van sy luisteraars, sal die luisteraar meer geneigd wees om op die sentrale weg van oortuiging te fokus. Maar sodra die argument nie so direk ‘n invloed op die luisteraar het nie, sal hy/sy eerder op die periferale weg fokus, met ander woorde "wie sê dit" in plaas van "wat word gesê".

Met die ELM moet ek onmiddelik dink aan ‘n figuur soos Ronnie Kasrils. Die laaste parlementêre toesprake wat ek van hom gesien het, het hy ‘n vriendelike en beleefde indruk gemaak. ‘n Mens sou nie kon glo dat hy self betrokke was by die foltering van swartes in Quattro, die ANC se goelag in Angola nie, laat staan nog sy strydkreet dat hy blankes wil doodmaak. Dieselfde geld ook vir iemand soos Jeremy Cronin, wat ‘n aangename indruk maak, maar as ‘n mens sy argumente en opstelle lees, wemel dit van swak geformuleerde en onsamehangende standpunte. Hulle moet gebruik maak van hul sjarme om mense te oortuig. Aan inhoud skiet hulle ernstig tekort.

Navorsing het eweneens aangetoon dat dommer mense meer geneig is om duidelik bevooroordeelde propaganda te glo terwyl intelligenter mense beter oortuig word deur ewewigtiger standpunte. Egter, om angs in te boesem is ‘n goeie manier om mense te beheer. Dis ‘n taktiek wat Machiavelli goed beskryf het en nog daagliks deur sluwe heersers gebruik word. Die gevaar is dat hoe minder inhoud ‘n heerser kan gee om sy magswellus goed te praat, hoe meer vul hy die leemte met angs en massahisterie.

Aangesien dit nou twee voor twaalf is vir blankes in Suid-Afrika, is dit van uitermate belang dat aandag bestee word aan die feitelike gebeure van Suid-Afrika se geskiedenis. Die ANC se propagandasiklus moet verbreek word, desnoods deur teenpropaganda te maak. Gelukkig behoort ‘n blote aanhaling van die feitelike gebeure genoeg propaganda ten gunste van blankes te wees. Selfs linkse politici in invloedryke lande is agter die skerms meer ewewigtig as wat ‘n mens dink. Hulle weet dat feite aangespreek moet word en ontkenning op die lang termyn geen nut het nie.

Myns insiens sou ‘n uitstekende redmiddel wees om ‘n internetargief op te stel waarin parlementêre toesprake, biografieë, meningsopnames, sensusse, ensovoorts van die Nasionale Party-bewind en die ANC/SAKP se planne aan almal beskikbaar gestel kan word. ‘n Strategie wat ook kan werk, maar moontlik nie baie aandag sal geniet nie, is om geleerde blankes wat in die buiteland te woon te mobiliseer om met hul eie lande se politici aan tafel te sit en die situasie in Suid-Afrika aan die kaak te stel. Die ANC kan gelukkig geen druk uitoefen op internetwebwerwe of Afrikaners in die buiteland nie. Die internetargief kan desnoods deur ‘n buitelandse universiteit gedra word, hoewel Orania se webwerf se "In diepte"-afdeling ‘n uitstekende versameling informasie bevat.

Bok van Blerk het gewys dat daar nog steeds ‘n stewige solidariteit onder Afrikaners bestaan, sowel in Suid-Afrika as in die buiteland, mits ‘n mens die regte snare raak. Dat een lied die ANC so bedreig laat voel, is ‘n belangrike bewys dat Oom Thabo se imperium eintlik ‘n reus op kleivoete is. Sodra ons bewus raak van hoe propaganda werk, soos wat ek geprobeer het om met bogenoemde eksperimente aan te toon, ons feite aanhaal en onsself as skaflike en innemende mense aanbied, mag ons dalk meer op die wêreldtoneel regkry as wat ons gedink het.  

Ek mag verkeerd wees, maar die middele tot onafhanklikheid lê dalk voor ons neuse. Dis net ‘n kwessie van moed, koördinasie en geleentheid om dit te benut. As Thabo Mbeki kan sê dat Zimbabwe se suiwering van blanke boere onafwendbaar was, wat weerhou ons om aan die beskaafde wêreld te sê dat ‘n onafhanklike volkstaat om dieselde redes onafwendbaar is? Thabo het so pas die geleentheid vir ons gegee. Ons kort nou nog net moed en koördinasie… en ‘n bietjie hulp van buite.

компьютерная диагностика автомобиля оборудование купить украинаtopcargo

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.