Corrie Sanders: Moordverhoor duur voort

Deel op

Die moordverhoor na die dood van die gewilde kampioenbokser, Corrie Sanders, duur vandag voort.

Die drie Zimbabwiërs, wat verdink word van die moord op Sanders, het in Mei in die Pretoriase hooggeregshof skuld ontken op sy moord.
Paida Fish, Chris Moyo en Samuel Mabena het onskuldig gepleit op aanklagte van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, kwaadwillige beskadiging van eiendom, en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
Sanders (46) is in September 2012 tydens ‘n rooftog by ‘n restaurant in Brits, Noordwes, geskiet.
Die kruisondervraging van die derde beskuldigde sal in die Noord Gautengse hooggeregshof in Pretoria voortgaan.
Die staat kon gister nie sy kruisondervraging van die beskuldigde, Samuel Mabena, voltooi nie.
Regter Irvin Preller het die staat se voorstel dat die saak tot Desember uitgestel word, verwerp. Regter Preller sê ‘n uitstel sal die beskuldigde benadeel.
Samuel Mabena het vroeër die polisie daarvan beskuldig dat hulle hom gemartel het.
Sanders het in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Hy het tydens die rooftog ‘n verjaarsdagpartytjie bygewoon en wou sy dogter teen die aanvallers beskerm, toe hy geskiet is.
Van die gaste is ook beroof en twee voertuie is beskadig.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.