‘Grondgryp in Pretoria is wettig’

Deel op

Die EFF het Woensdag aan Sapa gesê daar is niks onwettig aan die grondgryp by Nellmapius, oos van Pretoria, nie.

“Daar is niks fout daarmee nie. Indien die regering sloer om grond aan mense toe te ken, moet hulle dit beset,” het Floyd Shivambu, EFF-hoofsweep, aan verslaggewers by die parlement gesê.

Die hoofsweep van die Tshwane-metroraad, het intussen gesê dat ‘n wyksraadslid in Nellmapius, Precious Marole, se huis gevandaliseer en geplunder is. Die polisie kon nie onmiddellik die voorval bevestig nie.

Die Tshwane-metropolisie het vroeër Woensdag besetters van Nellmapius met rubberkoeëls verwilder nadat hulle plakkershutte in ʼn oop stuk veld wou oprig.

Die oproeriges het metropolisielede met klippe bestook waarna die metropolisielede met rubberkoeëls op hulle losgebrand het. Die klipgooiers het na die nabygeleë lokasie gevlug toe die metropolisie ‘n Nyala-pantservoertuig teen hulle ontplooi het.

Die Ou Bronkhorstspruit-pad is vroeër met brandende motorbande, klippe en takke versper.

Vusi Msiza, woordvoerder van die EFF se Nellmapius-tak, het vroeër gesê die grondbesetting het Sondag begin. “Ons het mense hier op die stuk grond aangetref waar hulle besig was om plakkershutte te bou. Ons het besluit om hulle te ondersteun, aangesien ons almal hierdeur geraak word.” Hy het gesê mense is moeg daarvoor om vir HOP-huise te wag en dat hulle grond soek waar hulle hul eie huise kan bou.

Julius Malema, leier van die EFF, was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Dumisa Ntuli, woordvoerder van die ANC in Gauteng, het gesê die spesifieke stuk grond is geoormerk vir laekostebehuising.

Mbuyiseni Ndlozi, die EFF se nasionale woordvoerder, het vroeër gesê die party ondersteun grondonteiening maar wou nie spesifiek kommentaar lewer die gebeure in Nellmapius nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.