Swak diens en banier eindig in die hof

Deel op

Die selfoondiensverskaffer Cell C, wat ‘n kliënt met ‘n swak kredietrekort opgesaal het, het die hof genader daaroor.

‘n Banier wat na Cell C verwys as die mees nuttelose diensverskaffer in Suid-Afrika is glo “lasterlik en daarom onregmatig”, het die hooggeregshof in Johannesburg Woensdag gehoor.

Christopher Whittcuut, Cell C se regsverteenwoordiger, het dié redes aangevoer dat hul voormalige kliënt, George Prokas nie die banier wat Vrydag by die WorldWear-winkelsentrum op die hoek van Beyers Nauderylaan en Wilsonstraat in Fairland opgerig is, mag vertoon nie.

Die banier het gelui: “Die mees nuttelose diensverskaffer in SA – Cell C Sandton City. Cell C se Riaan van Rooyen, ‘franchisebestuurder’ 084-XXX-XXXX sê sy naamlose ‘uitvoerende hoof’ weier om die kliënt by te staan!!”.

Die hof het gehoor dat daar in 2013 ‘n dispuut tussen Prokas en Cell C ontstaan het nadat hy ʼn selfoonkontrak vir sy seun uitgeneem het. Die foon se toegekende nommer het egter aan ʼn ander persoon behoort en is deur die persoon gebruik. Dié persoon het ʼn rekening van nagenoeg R5 000 gehad. Prokas het die debietorder vir die foon in Oktober verlede jaar gekanselleer.

Prokas het vroeg in 2014 ‘n motor probeer koop waarna hy verneem dat hy as ʼn slegte skuldenaar gelys is weens die R5 000 wat nie betaal is nie. Hy het Cell C genader om die situasie te probeer oplos maar teen einde Oktober was daar nog geen vordering nie.

Prokas het e-posse aan Cell C gestuur waarin hy aangedui het dat hy die banier gaan oprig indien sy klagtes nie hanteer word nie. Prokas het R61 200 betaal om die banier te laat maak en op te rig.

Die banier is oor die naweek geskend en lui nou: “Die mees bruikbare diensverskaffer in SA soos ervaar via Cell C Sandton City. Ons is lief vir Cell C.”

Whittcutt het gesê hoewel die banier se bewoording verander is, dit steeds daar hang. “Hy wil dit weer opsit soos wat dit oorspronklik was, sonder mnr Van Rooyen [die franchisebestuurder] se besonderhede. Indien die interdik nie toegestaan word nie, is dit presies wat hy gaan doen.”

Uitspraak word na verwagting Donderdag gelewer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.